Alle mense in die wêreld is ongelukkig nie goed en gaaf nie, maar hoe hanteer jy hierdie energievampiere?
Deur Zerelda Esterhuizen
Ai, as almal in die wêreld maar net hoflik, bedagsaam, vredeliewend en gaaf was, maar helaas … Een of ander tyd gaan jy ‘n toksiese mens teëkom. Die tipe mens waarvoor jy hare op jou tande nodig het. Die een wat jy graag met ‘n nat vadoek sou wou bykom. Die manier hoe jy sulke mense hanteer, sê baie van jou eie emosionele intelligensie, aldus kenners. Dit kan ‘n vriend, ‘n kollega of selfs jou verhoudingsmaat wees. Hier is ʼn paar wenke om sulke mense te hanteer …
- Moenie jou geheime met ‘n skinderbek deel nie
‘n Mens wil graag ander mense vertrou. Ons wil glo dat iemand regtig in ons welstand geïnteresseerd is, maar as jy weet iemand is toksies, moenie die vraag “Wat gaan in jou lewe aan?” beantwoord nie. Toksiese mense stel nie regtig in jou en jou lewe belang nie. Jou geheime gaan net tot veroordeling, drama en skinderstories lei.
- Stel grense
Dis belangrik om grense vir giftige mense te stel. Hul fokus is op hulself en hul eie ongelukkigheid. Jy sal ’n manier moet kry om dit uit te sluit.
- Bestee tyd saam met mense wat jou waardeer
Onthou die uitdrukking “voëls van eenderse vere”. Omring jouself met opregte, betroubare vriende wat graag wil hê dat dit met jou goed moet gaan. Moenie jou tyd en energie op mense mors wat nie in jou belang optree nie.
- Moenie dinge persoonlik opneem nie
Toksiese mense jok en manipuleer sonder om te dink aan diegene wat hulle in die proses vertrap. Onthou dit het niks met jou en jou karakter te doen nie, maar als met hul menswees.
- Hou ander mense aanspreeklik
Toksiese mense aanvaar nooit verantwoordelikheid vir hul foute of probleme nie. Vermy hul selfbejammering en moenie hul optrede probeer regverdig nie.
- Kry reguit antwoorde
Toksiese mense speel kopspeletjies. Maak dit duidelik dat jy nie lus is vir kat-en-muis-speletjies nie, jy wil reguit antwoorde hê.
- Ignoreer narsiste
Probeer om narsiste en hul gesprekke oor hulself te vermy. As jy eers na hul honderde foto’s moet kyk of na al hul prestasies moet luister, begin oor iets anders praat.
- Bly in beheer van jou eie emosies
Toksiese mense sal probeer om jou te manipuleer. Moenie dit toelaat nie. Kom op vir jou regte en bly kalm.
- Vergewe, maar …
Vergifnis word dikwels met regverdiging of aanvaarding verwar. As ʼn mens toksiese mense vergewe, is dit tot jou voordeel, want negatiewe emosies kan jou gesondheid beïnvloed. Beteken dit nou dat julle weer beste vriende hoef te wees? Aikona! Vermy negatiwiteit – geen mens het dit nodig nie.
BRON: http://unisoultheory.com