’n Mens kry mense wat jou goed in hul geselskap laat voel en jou laat glimlag en dan kry mense wat dit laat voel asof hulle elke stukkie energie uit jou suig … Watter een is jy?
Deur ZERELDA ESTERHUIZEN
Ons almal ken so iemand. Of jy die persoon nou ‘n energievampier, ‘n energiedief of energievraat noem. Jy is moeg ná ‘n gesprek met so iemand. Sy of hy kla dalk konstant, val jou boonop heeltyd in die rede of sien net die negatiewe in die lewe raak … Sy of haar gesig lyk dikwels soos ‘n donderwolk en jy voel asof jy op eiers moet loop.
En dan is daar mense wat jou goed in hul geselskap laat voel. Jy voel opgekikker ná ‘n kuier en jy sien uit om van so iemand te hoor.
Dr Irene Strydom, ‘n sielkundige van Stellenbosch en Wellington, sê die sielkunde gaan oor psigiese en fisieke energie – hoe ons dit gebruik, hoe ons herlaai, die positiewe of negatiewe invloed wat ons op ander het en wat ander op ons het.
“Vermoeiende en veeleisende mense vat eenvoudig soveel as moontlik van mense wat baie het en weet baie keer nie eers dat hulle energieverbruikers is nie. Sulke mense maak ‘n mens moeg, is gewoonteklaers en raak nooit van hul probleme ontslae nie.”
Energieverskaffers
- Hulle gee om vir ander mense.
- Hulle los probleme op.
- Hulle sien geleenthede en nie net struikelblokke nie.
- Hulle is betrokke in gesprekke en gee aandag aan ander mense.
- Hulle is betroubaar, het integriteit en ‘n mens kan op hulle staatmaak.
- Hulle is nederig en wys hul dankbaarheid.
- Hulle glimlag en is vriendelik.
- Hulle is opreg.
- Ander mense se geluk is vir hulle belangrik en dis vir hulle lekker om ander mense te help om te floreer.
- Dié mense leer deur hul ervarings en raak wyser daardeur.
LEES OOK: Wat beteken jou drome?
Energievampiere
- Hulle is nie besorgd oor ander mense en hul welstand nie.
- Hulle skep probleme.
- Hulle sien net struikelblokke en kritiseer konstant ander mense.
- Hulle is veeleisend en tap ander mense se kragte. Hulle het soms tipiese aangeleerde hulpeloosheid.
- Hulle kom nie beloftes na nie.
- Hulle is onbuigsaam.
- Hulle maak net geraas as iemand nie na hulle luister nie.
- Hulle glimlag selde en is altyd die slagoffer.
- Hulle is nie opreg nie en soek altyd iemand anders om te blameer.
- Hulle wil hê mense moet hulle altyd ophemel en is tipiese “drama queens”. Die wêreld moet om hulle draai.