Van stoute elfies tot die viering van Sinterklaas. Maretha Botes het met ’n paar expats gesels oor hoe hulle dié tyd in die vreemde vier
Hobart, hoofstad van Tasmanië
Anelda (31) en Ernest (35) Lötter het nog net een Kersfees in dié verre land beleef. Ons het besluit om alle uitnodigings van vriende van die hand te wys en dit alleen te vier, aangesien dit die eerste keer was sedert ons ses jaar gelede getroud is dat ons nie by familie sou wees nie. Ons was gewoond om Kersfees en Nuwejaar op die klein Weskusdorpie Strandfontein waar my ouers ’n vakansiehuis het, te vier. Ek was benoud oor hoe ons eerste feestyd op ons eie sal verloop en ek wou dit graag vier sonder om heeltyd emosioneel te voel.
Ons het Oukersaand ’n Australiese tradisie gevolg en seekos geëet (garnaalen- mango-slaai), Kersmusiek gespeel en geskenkies uitgedeel. Rustig! Ons het ’n rowwe jaar gehad met die trek en al die nuwe dinge hier, dus het ons met groot dankbaarheid teruggekyk op ’n jaar vol avonture en was dankbaar vir ons lewe hier. Kersdag het ons die kerk waar ons inskakel se diens bygewoon en die kerk was só vol ons moes op stoele in die voorportaal sit!
Al die tradisionele Suid-Afrikaanse kos was dié dag op ons spyskaart (ek het als self gemaak): skaapboud, hoenderpastei en koue slaaie en ek het ook ’n nuwe Australiese tradisie ingebring deur gerookte kalkoen voor te sit. Ons het Nuwejaar by die Hobart-waterfront ingegaan waar ons twéé asemrowende vuurwerkvertonings oor die hawe beleef het. Een om halftien vir mense met kinders en een om middernag. Die vibe in die waterfront was iets om te ervaar – dit het gewemel van gesinne. Almal het in die strate gestap. Dit is beslis weer op ons lysie vir 2013/14.
Hobart is nog klein genoeg dat ’n mens nooit onveilig voel nie. Ons kon in die stad parkeer en rustig rondloop. Dis ook hier waar die jaarlikse Taste of Tasmania-fees plaasvind, wat reeds die laaste week van die jaar begin en die eerste week van die nuwe jaar eindig. Op Tweede Kersdag begin die Sydney-na- Hobart-seiljagreis, ’n groot gebeurtenis. Die mense (ons ook) sit dan by die waterfront by die kosstalletjies en kyk hoe die seiljagte die hawe inkom. Wat ’n Nuwejaarservaring!
Connecticut, Amerika
Carla van der Merwe (Carike Keuzenkamp se dogter) en haar gesin bly nou al twee en ’n half jaar in Washington in die staat Connecticut.
Kerstyd hier is ysig met sneeu. Dié jaar sal ons derde Kersfees in die vreemde wees. Ons het baie tradisies behou (soos die lekker eet) én ’n hele paar bygekry.
Ons Kerstyd begin met die uitsoek, afsaag en versiering van die boom. Daar is ’n “Kersboomplaas” naby ons wat al meer as ’n 100 jaar oud is. Eers stop ons by die plaaswinkeltjie om ’n saag te gaan haal. Jy kies jou boom, saag hom af en sleep hom na die plek waar hulle jou boom in ’n net sit. Die meeste mense laai die boom bo-op die kar se dak. Weer terug na die plaaswinkeltjie, gee die saag terug en betaal vir jou boom. Dan koop ons versierings en drink ’n beker hot chocolate.
Nog ’n nuwe tradisie is die “Elf on the shelf”. Daar verskyn die eerste week van Desember ’n Kerself in die huis. Die elf word deur Kersvader gestuur om te kyk of die kinders soet is en iets in hul Kerskous mag kry. Ongelukkig is Elfie self nie baie soet nie en snags vang hy allerhande kattekwaad aan. Ek moes kreatief raak, want elke oggend moes Elfie in een of ander snaakse posisie uitgevang word, soos kop eerste in die koekieblik of op ’n zipline deur die huis.
Oukersaand verdwyn Elfie om vir Santa te gaan sê of hy geskenke kan aflewer of nie. Dis groot pret vir my jongste en great vir my, want tydens Elfie se besoek het ek ’n baie soet kind. My oudste glo ongelukkig nie meer aan Kersvader of kabouters nie.
Nog iets wat ons hier begin het, is om ’n paar dae voor Kersfees New York toe te gaan. Dis ’n fees van liggies en winkelversierings. Magical! Voor Rockefeller Centre is daar ’n massiewe Kersboom en daarna gaan ons na die Christmas Spectacular with the Rockettes kyk. Oliebolle bak en eet is maar die groot tradisionele ding wat ons van kinderdae af op Nuwejaarsdag doen. Dis ’n Hollandse tradisie wat van my ma af kom en sy het altyd op Jongensfontein die bakwerk gedoen.
Elke jaar is daar ’n groot Nuwejaarspartytjie in Times Square wat regstreeks op TV uitgesaai word. Terwyl ons speletjies speel en kuier en vir die horlosie wag om twaalfuur te slaan, kyk ons daarna. Verlede jaar op die kop twaalfuur, het almal mekaar ge-Happy New Year en gaan slaap.
Sydney, Australië
Vir Janine en Craig Ormiston en hul twee seuns is dit maar elke Kersfees swaar om van familie en vriende af weg te wees. Hulle is reeds twee en ’n half jaar in Australië.
Kersfees in Australië is gelyk aan son, sand en see. Baie soos in Suid-Afrika. Ek mis egter die groot byeenkomste oor die feestyd waarmee ek grootgeword het. Ek wil so graag hê my kinders moet dieselfde ervaring beleef: gróót vieringe saam met ’n klomp nefies en niggies. O
ngelukkig is ons ver en hier maak ons vir ons kinders nuwe herinneringe. Wat dit wel makliker maak, is dat Australië se seisoene dieselfde as Suid-Afrika s’n is, dus bring die meeste Aussies die feestyd op die strand deur. Op 1 Desember versier almal hul huise met Kersliggies. Op Oukersaand gaan ry ons rond of loop in die buurt om die sprokieswêreld van liggies te aanskou. Die mense doen soveel moeite hiermee en dis ’n ware treat! Op Oukersaand speel ons Kersliedjies oor die radio en gooi ’n vleisie op die kole, hier maar op gas. Ek mis die reuk van braaihout en die gesellige kuier om ’n vuur. Op Kersdag self kom los Kersvader geskenke onder die boom. Die kinders los met groot opgewondenheid vir hom melk en koekies. Dié verorber hy gulsig.
’n Groot ete word gemaak met ham én lamsboud. Die nagereg is die tradisionele Australiese pavlova. Tweede Kersdag (26 Desember) is oorgegee aan krieket – almal hier is krieketmal! Vir Nuwejaar is ons gelukkig om in Sydney te wees, want ons kan die vuurwerke op Sydney Harbour Bridge sien.
Dit is regtig wonderlik en die meeste mense staan al vroeg in die dag reg om dit te aanskou.
Wimborne, Dorset, Engeland
Sarah Leroux is al 15 jaar in Engeland. In die weke voor Kersfees word ons uitgenooi na partytjies waar gekruide wyn of cider bedien word en ons klein geskenkies uitdeel. Die kinders en ek maak self die geskenke vir hierdie partytjies, soos koekies of borsspelde van oorskietmateriaal. Dit bring baie vreugde.
Die week voor Kersfees is alle winkels in ons dorp tot laat oop en heers daar ’n feestelike atmosfeer. Die dag ná Kersfees stap ons na die plaaslike pub om te kyk hoe honderde perderuiters aangegalop kom vir die Boxing Day Meet. Al ons vriende is gewoonlik ook hier en dis ’n gesellige geleentheid. Ek wens ek kon sê ons het elke jaar ’n wit Kersfees, maar dis net ’n bietjie te warm. Ons kry een of twee goeie wintersneeuvalle hier in die suide van Engeland, maar die kans dat dit op Kersfees gebeur, is baie skraal.
Wezep, Nederland
Mayke Harink woon al die afgelope 24 jaar in Nederland saam met haar man en kinders.
Hier is die son maar skaars oor die feestyd. Die kaggel en baie kerse word aangesteek. Ons hou daarvan om Advent gestand te doen deur vier Sondae voor Kersfees een kers aan te steek. Dus, die laaste Sondag voor Kersfees brand al vier die kerse. Die Advent begin altyd op ’n Sondag en is tussen 27 November en 3 Desember. Dit maak die koms van Kersfees tasbaar. Ons Kersboom word vroeg in Desember reeds met lampies versier wat mooi brand omdat dit al so vroeg donker is buite.
Ons ontvang en stuur baie Kerskaartjies per gewone pos! Regdeur Nederland word die Kerstyd met kooruitvoerings gevier en dis iets wat ons graag bywoon, veral op Oukersaand. Geen geskenke word Kersfees gegee nie. Ons vier Sinterklaas op 5 Desember en trek dan lootjies om vir mekaar geskenke te koop.
Ons Kersdag begin in die oggend met ’n gesellige ontbyt en dan gaan ons kerk toe om daarna weer lekker in ons huis te sit met die kerse aan en die houtkaggel aangesteek met koffie en Kerskoek. Laatmiddag dek ons almal saam tafel. My dogter maak die voorgereg. Die spyskaart is egter nie elke jaar dieselfde nie. Soms maak ek Suid-Afrikaanse geregte. My man hou van gestoofde pere met sous, saam met ’n vleisrollade en aartappels. Ná die maaltyd sing ons liedjies by die klavier.
Oujaarsaand vier ons tuis saam met vriende. Ons bak tradisionele oliebolle waaraan almal heeldag smul. Om middernag gaan ons buitetoe om na die vuurwerke te kyk. Sommige mense maak vreugdevure in die straat. Ek sorg dat daar ’n tafel met heerlike oliebolle en appelflappe gedek is.