Bill Gates het nie sy studie aan Harvard voltooi nie – en is 17 jaar ná mekaar aangewys as die rykste man ter wêreld. Gates, met ’n fortuin van 75 biljoen dollar, is een van die wêreld se grootste filantrope.
Facebook se Mark Zuckerberg is nog ’n voorbeeld. Dié jong entrepreneur, het die geboorte van sy dogtertjie gevier deur amper al sy geld – meer as 44 biljoen dollar – weg te gee.
Amazon se Jeff Bezos, met meer as 44 miljoen dollar in die spreekwoordelike trommeltjie onder sy bed, was 30 toe hy op ’n verslag afkom wat voorspel het dat die jaarlike internetgebruik met 2 300% sou groei. Hy het ’n aanlyn-boekwinkel in sy garage geopen en het aanvanklik self boekpakkies by die poskantoor afgelewer.
Agt van die 100 rykste mense in die wêreld het ’n bitter armoedige agtergrond. En nie een van hulle het naby ’n universiteit gekom nie.
Larry Elison, sakeman en stigter van Oracle-korporasie, Li Ka-Shing, een van Hong Kong se bekendste beleggers en Leonardo del Vecchio, stigter van die Luxottiva-groep, was weeskinders.
Amancio Ortega, stigter van die kleinhandelsreus Inditez, se pa was ’n spoorwegwerker. Die oliemagnaat John Frederiksen se pa was ’n sweiser. Sheldon Adelson, stigter van Las Vegas Sands, was die seun van ’n taxidrywer. IKEA, ’n meubelvervaardigersgroep, se stigter Ingvar Kamprad, is ’n boerseun en die Franse kunsversamelaar Francois Pinault se pa het by ’n saagmeule gewerk.
http://fundersandfounders.com/how-much-sweat-it-takes-from-zero-to-billionaire/