Ons almal ken die einde-van-die-jaarsindroom. Jy’s op, jy’s sat en jy’s eintlik ’n bietjie huilerig. Hoe nou gemaak?
Deur: ANSJA FERREIRA
Jy staan moeg op, jy het geen energie om deur die dag te kom nie en teen die aand val jy in die bed neer net om die volgende dag dieselfde roetine te herhaal. Jy en jou kollegas is ewe befoeterd en dit voel of die hele kantoor op ’n tydbom sit. Konflik tussen mense wat gewoonlik baie goed oor die weg kom, is nou ’n alledaagse gebeurtenis. Jy weet die Desembervakansie is om die draai, maar dit voel nog soos ewigheid ver. Hoe kom jy deur die laaste skof van die jaar sonder om in konflik met ’n kollega of gesinslid te beland en hoe gaan jy alles klaarkry wat nog gedoen moet word?
Kry krag
“Die lewe is stresvol en dit is ons verantwoordelikheid om te leer om dit te hanteer,” sê Susan Grobler, ’n lewens-en leierskapsafrigter wat motiveringspraatjies aanbied en leierskapsprogramme in die korporatiewe wêreld ontwikkel.
Volgens Susan verhoog ons stres teen die einde van die jaar as gevolg van:
- Werksdruk om alles betyds gedoen te kry voor die afsluiting vir die jaar.
- Onsekerheid oor die komende vakansie. Is ons voorbereid? Gaan dit aan ons verwagtinge voldoen?
- Finansiële bekommernis. Terwyl die meeste mense om ons opgewonde is oor vakansies wat hul beplan en die opgraderings wat hulle wil doen, is ons onseker of ons genoeg gaan hê om al ons verpligtinge na te kom.
- ’n Negatiewe korporatiewe kultuur wat teen ons waardes indruis.
- Kinders wat besig is met eksamen.
- Gebrek aan balans tussen die eise van ons beroep en ons gesin.
Susan definieer stres as die belewenis van ’n gebeurtenis of situasie – positief (geleentheid) of negatief (bedreiging) wat ’n persoon tot dade aanspoor en wat jou liggaam, gedagtes en emosies beïnvloed.
“Stres beïnvloed iemand negatief as hulle glo dat die eise wat deur die situasie aan hulle gestel word, hul vermoë en die hulpbronne wat hulle tot hul beskikking het om dit te hanteer, oorskry. Die situasie word dan as veeleisend ervaar en hulle glo dit is ’n bedreiging vir hul welstand.
“Stres kan ook positief wees. Ons het stres nodig om te floreer, ons ideale te verwesenlik en die lewe te geniet. Kortstondige stres versterk die immuunstelsel. Stres kan egter negatief op ons inwerk as dit nie gebalanseerd is en beheer word nie,” sê sy.
Volgens Susan bepaal die volgende aspekte of jy stres positief of negatief ervaar: Hoe jy die situasie evalueer en interpreteer; en watter hulpbronne jy kies om die situasie te hanteer.
Tekens van positiewe stres
- Entoesiasme.
- Verhoogde kreatiwiteit (om nuwe dinge te skep en oplossings te vind en verbeterings te identifiseer).
- Verhoogde produktiwiteit by die werk en op persoonlike vlak.
- Algemene gevoel van welstand, geluk en vreugde.
- Immuunstelsel wat optimaal funksioneer en siektes, infeksies en kanker kan weerstaan. Sommige mense wie se kanker in remissie is, kom tot die besef wat werklik belangrik is en ervaar dan innerlike groei en ontwikkeling, wat dikwels tot fisieke genesing kan bydra.
Waarskuwingstekens van negatiewe stres
- Verlaagde produktiwiteit en kreatiwiteit.
- Verlaagde gevoel van welstand, vreugde en geluk.
- Swak konsentrasie.
- Vermy sosiale kontak.
- Lae immuniteit – kry verkoue, ly aan allergieë, outo-immuunsiektes, chroniese moegheid en angsaanvalle.
- Organe en liggaamstelsels gee probleme en fisieke kwale of siektes begin.
- Verouderingsproses versnel vanweë verhoogde metabolisme wat met volgehoue, onbeheerde stres gepaardgaan.
Susan se wenke
- Sien stres in perspektief.
- Lewe vir vandag en leef asof elke dag jou beste en laaste gaan wees.
- nAnaliseer jou kommer. Waaroor is jy bekommerd en wat is die oorsaak daarvan? Grond jy jou kommer op feite? Wat is die oplossings?
- Trotseer jou uitdagings. Wat is die ergste wat kan gebeur? Berei jou voor vir die ergste en doen wat jy kan om dit te verbeter.
- Maak ’n besliste keuse vir die lewe en teen stres en vrees.
- Drink teen slaaptyd ’n glas warm melk met ’n knypie gemmer, kaneel en ’n teelepel heuning.
- Eet kos soos rooi vrugte (aarbeie, tamaties en appels) wat energie en ondersteuning verskaf as jy moeg is; oranje kos (lemoene, geelwortels en papaja) wat jou optimisties laat voel en in staat stel om verandering met gemak te hanteer; geel kos (soetrissie en piesangs) wat lag, vreugde en plesier aanmoedig en help om depressie te hanteer; groen kos (avokado en kiwivrugte) wat uithouvermoë verbeter en help om paniek en vrees te bekamp; blou kos (bloubessies) wat vrede en rustigheid bring en met konsentrasie help; pers kos (eiervrug en druiwe) wat leierskap aanmoedig en help om emosionele stabiliteit te handhaaf.
Maak die lewe makliker
Bou kort rustye in jou daaglikse program in
Die menslike verstand werk beter vir kort, intense tye met ’n kort blaaskans tussenin. Om deurlopend te werk, kan eintlik veroorsaak dat jy geblokkeer voel en nie in staat is om oplossings te vind of goed in jou werk te presteer nie.
Leer om van woede ontslae te raak
Gesondheidskwessies wat gekoppel word aan onopgeloste woede wat nie hanteer word nie, sluit onder meer hoë bloeddruk, hartaanvalle, depressie, angs, verkoues en griep asook spysverteringsprobleme in. Kliniese sielkundige Isabel Clarke, ’n spesialis in woedebeheer, beveel aan dat jy jou algemene stresvlakke met oefening en ontspanning afbring. Draf, stap, swem, joga en meditasie is maar net ’n paar voorbeelde van hoe oefening as deel van jou daaglikse lewe ’n goeie manier is om van irritasie en woede ontslae te raak. Sy beveel ook aan dat jy tyd maak om gereeld te ontspan en genoeg slaap kry. Volgens Isabel kan dwelms en alkohol woedeprobleme vererger.
Bly georganiseerd en stel prioriteite
Skryf “ontspantyd” in jou dagboek as deel van jou dag se program. ’n Oorvol program kan dikwels daartoe lei dat jy nie meer balans in jou lewe handhaaf nie. As jou program te vol is, is jy die enigste persoon wat iets daaraan kan doen. Dit is beter om minder op jou program te hê en alles goed of na die beste van jou vermoë te doen, as om te veel hooi op jou vurk te hê en alles af te jaag, gespanne te voel of dinge half te doen.
Behou perspektief
Visualiseer wat jy gedurende jou ruskansie gaan doen, selfs al gaan jy by die huis bly. As jy na jou vakansie uitsien, kan dit jou motiveer en help om deur te druk totdat jou vakansie uiteindelik aanbreek.
Leer jou liggaam ken
Let op na tekens soos hoofpyne, nekpyn en slapeloosheid. Kry meer oefening. Volgens kenners verminder oefening die vlakke van die liggaam se streshormone, soos adrenalien en kortisol. Dit stimuleer ook die produksie van endorfiene, die liggaam se natuurlike pynstillers, wat ook ’n positiewe effek op jou gemoed (bui) het.
Humor kan jou help om die lewe beter te hanteer
Volgens die Mayo-kliniek het lag verskeie langtermynvoordele wat ’n verbetering van die immuunstelsel, pynverligtende effek, verhoogde persoonlike bevrediging en ’n beter bui insluit. Hou snaakse foto’s, groetekaartjies of strokiesprente byderhand wat jou sal laat lag.
Stel jou begroting vir die feestyd vroegtydig op
Maak in jou begroting vir geskenke, onthaal, akkommodasie en reiskoste voorsiening. As jou begroting nie klop nie en jy agterkom dat jy skuld sal moet aangaan om alles te kan bekostig, sal dit beter wees om af te skaal.
Lesers se wenke vir nuwe energie
Maria Botha, Klerksdorp Leer om nee te sê wanneer daar te veel hooi op jou vurk is. Jy kan nie elke Kerspartytjie of geselligheid bywoon nie, alle ongenooide gaste onthaal, elke naweek regstaan vir ’n huis vol mense, vrywilligerswerk doen by almal wat jou vra en jou buurvrou se kind elke tweede dag oppas nie. Trek ’n streep.
Annatjie le Roux*, Westdene Hierdie tyd van die jaar moet jy nie enigiets oordoen nie – moenie te hard werk, te hard oefen en te veel rus nie. Probeer balans handhaaf in alles wat jy doen. Wanneer jy vir ’n lang ruk hard gewerk het, sorg dat jy genoeg tyd inruim om weer te ontspan. As jy geen beheer het oor ’n tydperk van baie harde werk of verpligtinge nie (soos nou aan die einde van die jaar), onthou dat jy weer tyd gaan kry om te rus, dalk ’n naweek weg te gaan of jouself by ’n skoonheidsalon te bederf. Dit hou my aan die gang as ek so baie hooi op my vurk het, as ek weet dat daar lekker ontspanningstye vir my voorlê en ek daarna kan uitsien.
Lynnette de Klerk, Roodepoort Maak elke dag tyd vir jouself, al is dit net ’n halfuur. Dit is wanneer jy ’n lekker skuimbad neem, om die blok gaan stap of draf, jou naels verf terwyl jy na rustige musiek luister of jouself met ’n lekker cappuccino of koppie tee bederf.
Jolene Venter, Brackenfell My stokperdjies help my om balans te hou. Ek brei en maak krale. Dit help my baie om te ontspan en te ontlaai wanneer ek voel die lewe druk ’n bietjie. *Skuilnaam
BRONNE: www.forbes.com, http://www. health.harvard.edu, www.mayoclinic.org
Kontak Susan by [email protected] of besoek www.borrelvrou.co.za en www. susangrobler.co.za