Om geïgnoreer te word, kan jou in jou ontwikkeling as mens totaal lamlê
Die mens is nou eenmaal ’n sosiale dier met ’n behoefte aan ander van sy spesie. Sosiale webblaaie het ’n hele nuwe wêreld oopgemaak vir vriende, kollegas en selfs familie om jou seer te maak deur die rug op jou te keer.
Dit kan openlik vir die wye kuberwêreld uitgebasuin word om daarvan te weet om jou selfs meer in die verleentheid te stel, of meer subtiel gedoen word.
Jou muur is jou muur
Elke Facebook-gebruiker is baas van die plaas as dit by jou Facebook-muur kom en jý kan en moet self besluit wat jy op jou tydlyn gaan toelaat of nie. Dis ook jou verantwoordelikheid om te keer dat daar iets verskyn wat onaanvaarbaar en selfs gevaarlik kan wees.
Daar kan egter ook misbruik gemaak word van ’n nuwe gogga-maak-vir-baba-bang-dreigement wanneer iemand iets kwytraak waarvan jy nie hou nie en jy daardie persoon waarsku dat jy hom of haar gaan “unfriend”. Waar die uitgeworpene dit heel moontlik nie andersins sou agterkom nie, vryf jy dit in die virtuele openbaar onder sy of haar neus omdat jy in die posisie is om dit te doen.
Die unieke status van onder meer Facebook en die invloed daarvan op die emosionele lewe van die gebruikers daarvan laat sosiale sielkundiges regop sit. Vir sommige mense is dit maklik genoeg om dit met die ophaal van skouers te laat verbygaan, vir ander is dit nie so eenvoudig nie.
Jennifer Bevan, navorser van Chapman Universiteit, het bevind dat Facebook vir baie mense deel van hul sosiale lewe uitmaak en dat dit werklik kan voel asof jy ’n vriend verloor het wanneer jy “unfriend” word, selfs al ken jy hom net in die kuberruim.
Catherine Saint Louis skryf in die New York Times dat familielede wat vir dekades lank nie kontak gehad het nie, via Facebook herenig kan word. Val daardie hernude vriendskap ná die aanvanklike euforie, dalk weer uitmekaar, word die verlies van nuuts af aan gevoel.
Die joernalis James Tozer skryf in die Daily Mail dat jy mooi moet dink voordat jy kollegas saam met wie jy elke dag werk, “unfriend”. Hy waarsku ook dat jy versigtig moet wees om jou professionele en persoonlike vriende enigsins saam op jou Facebook-blad toe te laat. Om natuurlik met jou “baas” “friends” te wees, behoort heeltemal taboe te wees. Behalwe as jy professionele selfmoord wil pleeg …
Wat om te doen as jy vermoed jy is nie meer een van iemand se duisend en hoeveel “friends” op Facebook nie.
’n Artikel op Wikipedia beveel aan dat jy seker moet maak of jy wel nie meer op sy lys van vriende is nie en om dan te probeer vasstel waarom jy tot persona non grata gedemoveer is.
- Het jy jou onderneming te veel probeer promoveer?
- Te veel selfies geplaas? Te veel gespog met jou wonderlike vakansies of slim kinders? (Kleinkinders tel skynbaar nie, want oupas en ouma is geregtig daarop.)
- Te veel oor die weer, geld of gesondheid gekla?
- Politieke praatjies gepubliseer wat liefs moes gebly het?
- Te veel prentjies of slagspreuke geplaas?
- Raak jy te gereeld in bekgevegte betrokke? Het jy iets negatiefs te sê oor elke stelling wat gemaak word?
- Is julle regtig vriende? Ook in lewende lywe? Miskien het die persoon bloot te veel vriende en het hy besluit om van die rommel ontslae te raak.
- Hoe lyk jou spelling? En jou taal? Is jou grappies gepas?
Aanvaar dit as jy “unfriend” word selfs die frustrasie daarvan om nie meer deur hom of haar “gehoor” te word nie sonder om wraak te wil neem en alles te vererger.