Vir baie mense is stres en angs ’n konstante metgesel. Hier is 30 wenke wat kan help
Saamgestel deur ZERELDA ESTERHUIZEN
Is daar iemand in hierdie land en tyd wat nie gestres is nie? Vir baie van ons is angs ‘n deel van ons lewe en probeer jy maar allerlei hanteringsmeganismes om kop bo water te hou. Brighter Path Counseling gee ‘n paar positiewe maniere wat jou beter kan laat voel as jy angstig voel:
- Skryf jou gedagtes en gevoelens in ‘n joernaal neer. Skryfterapie help en bevry jou van ‘n klomp dinge wat pla.
- Luister na musiek of bespeel ‘n instrument as jy kan. Fokus net op die klanke en probeer om nie aan jou angs te dink nie.
- As jy oor iemand stres of iemand laat jou stres, skryf ‘n brief vir daardie persoon. Jy hoef dit natuurlik nie te stuur nie – dis net vir jouself.
- Eet ‘n gesonde en voedsame maaltyd of versnapering.
- Gaan stap, gaan gim toe of oefen by die huis.
- Joga doen wondere vir die gemoed. Laai ‘n toep af en probeer sommer ‘n paar bewegings by die huis.
- Mediteer of hou stiltetyd.
- Vat ‘n rukkie en haal net diep asem.
- Doen ‘n sosiale-media-detoks.
- Gaan koop ‘n paar kruie vir jou tuin of ‘n potplant, of as jy gek is na tuinmaak, gaan vroetel vir ‘n rukkie in jou tuin.
- Lees ‘n boek wat jy al lankal wou.
- Kyk ‘n fliek of TV-reeks wat jou goed laat voel.
- Doen iets kreatiefs: Verf, teken, kleur in.
- Hekel, brei of naaldwerk is ook terapeuties.
- Gaan stap in ‘n park of ‘n botaniese tuin.
- Luister na ‘n inspirerende podcast.
- Bestee tyd saam met ‘n troeteldier of gaan na ‘n reservaat. Selfs ‘n paar dierevideo’s kan jou dalk opkikker.
- Hou ‘n piekniek – al is dit in jou tuin met ‘n stuk brood en ‘n glas wyn.
- Bel iemand vir wie jy lief is en gesels.
- Ontklotter ‘n gedeelte van jou huis.
- Bring tyd saam met jou hartsmense deur.
- Beoefen aandagtigheid: Probeer om bewus en in die oomblik te wees.
- Sit vir ‘n rukkie in die son en konsentreer op die oomblik.
- Skeduleer ‘n afspraak by ‘n terapeut as jou angs buite beheer voel.
- Vat dinge stadig, benader die take wat jy normaalweg doen rustig.
- Vat ‘n ontspanne bad met essensiële olies, Engelse sout en kerslig.
- Vat ‘n dag vir jouself. Pamperlang jouself of doen net iets lekkers wat jy wil.
- Skryf die dinge neer waaroor jy stres en waaraan jy niks kan doen nie. Skeur dit op en gooi dit weg.
- Maak vir jou ‘n lys met positiewe aanhalings wat jy kan lees as jy af voel.
- Maak vir jouself ‘n visiebord van die dinge waarvan jy hou of stel vir jouself ‘n droom/doelwit-lys op.
Volledige artikel op: https://www.brighterpathcounseling.com/coping-skills-for-anxiety-and-stress/