Ons trek al oor die helfte van die jaar en dis dalk nou tyd vir ’n bestekopname. Hoe verloop jou jaar sover en wat wil jy teen Desember bereik?
Deur ZERELDA ESTERHUIZEN
Kan julle glo dat die eerste helfte van die maand so vinnig verbygevlieg het? As ons weer sien, is dit Desember en dan begin die volgende jaar al weer …
‘n Mens evalueer gewoonlik so teen die einde van die jaar hoe die jaar verloop het. Was dit ‘n goeie jaar en het jy bereik wat jy wou?
LEES OOK: Bestee jy te veel tyd op die internet?
Maar dalk is ‘n middeljaar-opname ‘n goeie ding, want dis nog nie te laat om jou doelwitte voor die einde van die jaar te bereik nie.
Evalueer só waar jy op die oomblik is:
- Wat was die hoogtepunte sover?
- Wat het jy geleer?
- Het jy doelwitte aan die begin van die jaar gestel en het jy dit al bereik?
- Indien wel, beloon jouself!
- Indien nog nie, wat kan jy doen om dit te bereik? Stel vir jouself ‘n haalbare aksieplan op.
- Waar wil jy teen die einde van die jaar wees en wat kan jy nou aan die plan doen?
- Sorg dat jou doelwit spesifiek is. “Ek wil vir ‘n vakansie geld spaar” is nie spesifiek nie. Dink eerder aan: “Ek wil teen Desember R20 000 spaar vir ‘n vakansie in Kaapstad.”
- Plak jou doelwitte iewers op sodat jy gereeld daaraan herinner word.
- Visualiseer die eindproduk en sterkte!