Is oorslaap van kinders by ander mense ’n euwel of ’n groeigeleentheid? Shanda Luyt ondersoek hierdie omstrede kwessie …
As 16-jarige tienermeisie wat al van kleins af gereeld by maats oorslaap, glo Sarien van Dyk* kinders wie se ouers weier dat hulle by maats oorslaap, se lewe is armer.“Dis by sulke geleenthede wat jy jou vriendinne werklik leer ken, want dit is waar mense se ware kleure uitkom. Soms is ons net heeltemal laf, ons maak grappies of pas mekaar se klere aan. Ander kere gesels ons tot laat in die nag oor die dieper dinge van die lewe. Dit bind ’n mens. Een van my vriendinne se ouers hou nie daarvan dat sy oorslaap nie en sy voel gedurig sy loop ’n deel van haar grootwordjare mis. Jy raak half ‘agter’ by jou vriendinne.”
Sarien is wel daarvan bewus dat oorslaap sekere risiko’s inhou, maar sy sê sy en haar ma gesels gereeld daaroor en sy voel toegerus om die regte keuses in moeilike situasies te maak. “Ek het al ongemakliker situasies by partytjies ervaar waar daar nie oorgeslaap is nie of selfs by skoolgeleenthede waar ek al my ma gebel het om my vroeër te kom haal. Ek neem altyd my selfoon saam om my ouers te bel, sou ek dalk ongemaklik voel. Ek weet hulle sal my selfs in die middel van die nag dadelik kom haal as ek hulle nodig het, maar dit was gelukkig nog nooit nodig nie. Dis vir my lekker om te sien hoe ander mense leef en deel te word van hul roetine en al voel dit soms ’n bietjie vreemd in ander mense se huis in die aand, weet ek nou al ek kan dit hanteer. Dit maak die lewe interessant en sorg vir goeie herinneringe.”
Sarien se ouers is wel streng daaroor dat hulle die ouers moet ken voor sy daar kan oorslaap. Hulle hou ook nie van situasies waar kinders van albei geslagte oorslaap nie, al het hulle dit al per geleentheid ná ’n stewige preeksessie toegelaat. “Dit help ook dat ons op ’n relatief klein dorpie bly, want hier versprei skinderstories vinnig, so as daar probleme by ’n huis is, weet die hele dorp gou daarvan.” Maar nie almal is so gemaklik soos Sarien se ouers met die oorslaap-idee nie. Die Amerikaner Tim Challes se video oor hoekom hul gesin nie die oorslaapding doen nie, het verlede jaar soos ’n veldbrand op sosiale media versprei met vele Suid- Afrikaanse ma’s wat dit ook op hul blaaie gedeel het. Tim vertel hy en sy vrou het teen oorslaap besluit ná alles wat hulle gehoor het oor mense wat tydens ’n oorslaap gemolesteer is, hul eerste kennismaking met pornografie gekry het, of ook eerste seksuele ervarings of blootstelling aan alkohol gehad het. Hulle laat ook nie toe dat ander kinders by hulle oorslaap nie.
Maar ander ouers vra weer die vraag: Wanneer gaan jy dan wel jou kind toelaat om buite jou huis oor te slaap? Eers op 18? En sal jou kind dan werklik die nodige vaardighede hê om moeilike situasies buite die huis te hanteer? Is dit nie beter om jou kinders die geleentheid te gee om hul instinkte, selfvertroue en vaardighede buite die gemaksone van hul eie huis te help ontwikkel terwyl jy nog net ’n telefoonoproep ver is nie? Dit is vir kinders heerlik om oor te slaap en dit dra ook baie tot hul onafhanklikwording, selfvertroue, sosialisering en verantwoordelikheidsin by, sê Annette du Plessis, ’n opvoedkundige sielkundige van Somerset-Wes.
“Dit kan soms gebeur dat kinders voel hul ouers ontneem hulle van een van die lekkerste lekkers van kindwees as hulle dit glad nie wil toelaat nie, wat die ouer-kindverhouding skade kan berokken.” Annette voel die ouers se opvoeding van die kind van geboorte af sal grootliks bepaal of hulle veilig is met oorslaapkuiers. “Jy kan wel verseker dat hulle enige tyd van die dag of nag toegang tot kommunikasie met jou het. Jy kan ook sorg dat jy die ouers by wie oorgeslaap word goed ken en vertrou en as dit moontlik is deur die loop van die middag, aand of oggend met ’n boodskap te hoor hoe dit gaan.”
Riglyne vir oorslaap
Ouers behoort baie openlik en eerlik te kommunikeer met die ander ouers waar oorgeslaap word, die kind van daardie ouers en hul eie, beveel Annette aan.
“Die reëlings vir oorslaap moet altyd tussen die ouers geskied en nie tussen die kinders nie en albei ouers moet die reëlings goedkeur en bespreek, veral as dit by tieners kom. “Alle partye moet weet wat jou gesin se waardestelsel is en wat toelaatbaar is en wat nie, byvoorbeeld flieks met ouderdomsbeperkings, die eet van sekere kosse of lekkergoed, die besoek van ander plekke of mense as die huis waar jy jou kind aflaai, en so meer. Dit is belangrik om te verseker dat ouertoesig altyd ’n prioriteit is by die huis waar oorgeslaap word en dat jy self goed bekend is met die ander ouers en voel dat jy hulle kan vertrou. Indien nie, kan jy voorstel dat die ander kind eerder by jul huis kom oorslaap.” Annette sê as jou kinders van geboorte af met jou in ’n verhouding is waar jy vir hulle ’n veilige hawe is, sal hulle die vrymoedigheid en behoefte hê om jou te kontak as hulle enigsins ongemaklik of onveilig voel. “Dit is ’n vereiste dat die ander ouer altyd moet instem dat jou kind jou enige tyd van die dag of nag van hul telefoon of selfoon af kan kontak. Dieselfde geld as jou kind by grootouers, familie en vriende gaan oorslaap.”
Opvoedkundige sielkundige Naomi van Wyk beveel in haar boek Veilig en vreesloos: Beveilig jou kinders teen seksuele misbruik aan dat jy met jou kinders gesels oor die planne vir die aand en ook seker maak dat jou kinders regtig by die ander kind wil oorslaap en dit nie doen omdat hulle onder druk voel of net aangetrek word deur iets anders in die huis soos speelgoed, rekenaar- of videospeletjies nie. Naomi reken oorslaap is veiliger as daar meer as een kind is en ook as jou kind al self kan bad, toilet toe gaan en aantrek. “Jy kan dit voor die tyd aan die ander ouer duidelik maak dat jou kind dit self kan doen.” Sy sê jy kan jou kind dalk voor slaaptyd net bel om te hoor of alles reg is. “Sê vooraf vir jou kind dat hy of sy jou enige tyd kan bel – selfs in die middel van die nag – as hy of sy oor iets bekommerd is. Maak seker die ander ouer stem daartoe in. Jy kan byvoorbeeld voor jou kind vir die ander ouer sê: ‘Ek het vir Nina gesê sy kan my enige tyd bel. Is dit reg met jou?’
Selfone maak dit natuurlik makliker.” Sy sê ouers behoort dit ook aan tieners duidelik te maak dat hulle hulle sal gaan haal waar hulle ook al is. Naomi sê verder dis belangrik om seker te maak watter vlak van toesig daar gaan wees. “Vind dit direk by die ouer uit en moet liewer nie op die kinders se mening staatmaak nie. Leer jou kinders se maats en hul ouers ken so goed as wat jy kan. Dit maak nie net sin ten opsigte van jou kind se veiligheid in hul huise nie, maar help ook om ’n netwerk van volwassenes op te bou wat dieselfde veiligheidsmaatreëls as jy het. Vind ook uit van ander kinders en volwassenes wat gereelde besoekers by die huise is waar jou kind dalk gaan oornag en wat hul verhouding met die gesin is.
Maak seker dat toepaslike grense en reëls oor privaatheid in hierdie huise geld en dat dit toegepas word. Praat met jou kind oor die huise wat hulle besoek.” Naomi sê net soos by volwassenes is kinders se instink ’n baie belangrike waarskuwingsmeganisme. “Jou kinders moet weet dat as hulle enigsins by ’n volwassene of ander kind ongemaklik voel, hulle hul instink kan vertrou en daarop mag reageer. As jou kinders byvoorbeeld vir jou vertel dat hulle nie by ’n sekere maatjie se huis wil gaan speel nie, respekteer dit.” Naomi reken die beste manier om kinders veilig te maak, is om die veilige gedrag so in te prent dat dit byna outomaties gebeur.
As kinders by jou oorslaap
’n Groep giggelende meisies in jou huis is nie net ’n uitdaging vir jou ore nie, maar dit is ook belangrik dat jy jouself en hulle beskerm deur die nodige riglyne vooraf in plek te stel en dit toe te pas. Jy ken jou eie kinders en kan dalk sekere reëls in jou huis ietwat verslap, maar as dit by ander mense se kinders kom, moet jy wyer dink sodat jy ook die ander ouers se waardes eerbiedig. As ander kinders by jou oorslaap, is dit jou as ouer se verantwoordelikheid om die ander ouer te vra of dit in orde is om sekere flieks te kyk, lekkers te eet of ander aktiwiteite aan te bied, sê Annette. “Ek dink jy as ouer behoort dieselfde riglyne toe te pas wat jy van die ander ouers verwag. Dit is ook belangrik dat jy goeie toesig toepas en as ’n ander kind aktiwiteite voorstel wat nie by jou gesin se waardes aanpas nie, kan jy op ’n gawe, liefdevolle manier ’n ander aktiwiteit aanbied. Die liefde, aanvaarding en vriendelikheid wat jy aan ander kinders bied wat soms ‘moeilike’ gedrag by jou huis toon, mag ’n waardevolle bydrae tot hul lewe maak.” Naomi skryf as kinders by jou oorslaap, behoort jy situasies te beperk waar jy alleen met ’n kind is wat nie jou eie is nie. “Dit is ’n manier om jou teen aantygings te beskerm.”
Watter ouderdom?
Daar is nie ’n vaste ouderdom waarop ’n kind “reg” is om oor te slaap nie, sê Annette. “Die ouderdom waarop ouers kan toelaat dat hul kind oorslaap, sal baie van die kind afhang. Ouers wat hul kinders goed ken, sal weet wanneer hulle vir oorslaapkuiers gereed is. Ek dink voordat kinders skool toe gaan, mag hulle dalk ten opsigte van hul emosionele ontwikkeling nog nie gereed wees nie.” Baie ouers laat aanvanklik hul jong voorskoolse kinders net oorslaap by naby familie wat hulle heeltemal vertrou en met wie die kinders volkome gemaklik is. Dit is ’n goeie beginpunt vir die kind se onafhanklikheidspad, maar selfs hier is dit steeds belangrik om met jou kinders oor moontlike probleme te gesels en hoe hulle dit kan hanteer. *Skuilnaam Vir meer inligting, besoek www.annettepractice.co.za
Wenk Kom saam met jou kinders ooreen op ’n kodewoord wat hulle tydens ’n telefoongesprek kan gebruik as hulle ongemaklik voel en wil hê jy hulle kom haal sonder om dit openlik te sê