Werk maak min van ons regtig opgewonde, maar as jou werksomstandighede mislik is, kan dit sleg vir jou gesondheid wees
Deur ZERELDA ESTERHUIZEN
As Carte Blanche se kenwysie op ‘n Sondagaand speel, voel jy al half naar. Kom Maandagoggend en jou maag pyn en jy moet jouself dwing om werk toe te gaan. Jy haat jou werk. Maar hoe sleg dit vir jou gesondheid is, word toenemend duideliker.
‘n Opname in Brittanje wys dat daar meer fisieke merkers van stres by mense was wat van werkloos na werkend gegaan het as by diegene wat werkloos gebly het.
Die studieleiers is dus van mening dat dit beter vir jou gesondheid is as om werkloos te wees as wat dit is om in slegte werksomstandighede te wees.
‘n Opname deur RAND in Amerika het nagenoeg 3 000 respondente ingesluit. Dit was opmerklik hoeveel mense negatiewe sosiale interaksie by hul werk ervaar het. Een in vyf werknemers ervaar negatiewe sosiale interaksie by die werk, wat wissel van verbale misbruik tot seksuele teistering.
Hierdie negatiewe werksomstandighede lei gevolglik tot stres by werknemers, wat weer ‘n wye reeks siektes tot gevolg het.
LEES OOK: Liefde by die werk
Die opname het ook getoon hoe belangrik die ondersteuning van ‘n bestuurder in die werksomgewing is. ‘n Ondersteunende werkgewer kan die negatiewe interaksies met die helfte verminder. Die topbestuur van die onderneming gee die toon aan wat kultuurwaardes en verdraagsaamheid aangaan.
Een in vier mense het gesê dat hulle nie genoeg tyd het om hul werk te doen nie en byna die helfte moes hul vrye tyd gebruik het om hul werk klaar te maak. Vroue het gekla oor hoe moeilik dit was om tyd af te neem om persoonlike en gesinsake te hanteer en verdien ook minder as hul manlike eweknieë
Slegs 38% werknemers het gesê dat hul werke goeie bevorderingsmoontlikhede toon.
‘n Dosent aan die Manchester-universiteit prof Tarani Chandola sê slegte werksomstandighede is nie net sleg vir jou fisieke gesondheid nie, maar ook vir jou geestesgesondheid.
Nog studies toon ook dat swak werksomstandighede sleg vir jou immuunstelsel is; dit verhoog die risiko van depressie en ander ernstige siektes; en dit kan jou slaappatroon nadelig beïnvloed.
BRON: www.cnn.com