Hoe lyk ’n gemiddelde week in die lewe van ’n ma? Joune lyk dalk erger of gawer, maar lees hier van Ma van die Jaar se week sonder brood, maar met muise en toetse
Maandag
By die werk loop als vlot en ons nuwe voorblad lyk lieflik. By die huis lyk dinge minder rooskleurig. Ons bou ‘n woonstel vir my ma op ons erf en die ou met die vensters daag nie op nie. Is hy weg met die geld? En dan is die bedrag vir die kaste ook sommer nou R3 00O meer.
Ek sien vanoggend Sofiakat het iets in haar bek en ek skree en gaan tekere. Toe laat los sy en die muis hardloop mooitjies in my klerekas in. Nou is daar ‘n muis in my kas. Hoe de dinges moet ek aantrek? My oudste, Ziani, skryf eksamen en kerm omdat ek glad nie na haar werk kyk nie en met niks help nie. Die jongste, Zander, moet ‘n toespraak leer en dis chaos. Hoe moet ek by albei se werk uitkom?
Ek het ‘n elektriese stoompot gekoop sodat die kinders meer groente kan inkry en maak die bleekste hoendergereg wat jy in jou lewe gesien het. Almal eet langtand.
LEES OOK: Ma van die jaar: Eerstes met oudstes
Met my skildklierstories en dermprobleme het ek besluit glutenvry is die pad. En dalk help dit ook dat ek minder soos ‘n opgestopte wors in my wintersklere lyk. Benewens my drie kenne, lyk dit asof ek in my tights sewe boude het. Al probleem is, ek mis brood. Ek sien visioene daarvan. Hemel, ek soek brood en daar’s ‘n muis in my kas.
Dinsdag
Hoekom is die huis net skoon op die twee dae per week wat dierbare Zodwa kom? Sy kla oor die “shit of the rat” en ek weet nie hoe ons die shit or the rat gaan uitkry nie. Elke keer as Sofia naby my kom, is ek bang sy dra iets aan.
Zander het sy beursie by die skool verloor en ook ‘n karretjie. Maar moenie worry nie, mamma, die karretjie is van the Great Mall of China. Ek hoop nie ek vergeet ooit die kind se sêgoed nie.
Ziani is in ‘n bui. Is die tweenie-stadium die nuwe tienerstadium? Ek lees op ‘n WhatsApp-groep van toetse waarvan ek niks weet nie en waarvoor die kind niks leer nie.
Die vensterou het steeds nie opgedaag nie en die vader des huise raak rooier en meer welluidend by die dag.
Ek sien al weer the shit of the rat en ek soek ‘n broodjie met ‘n seer hart. Ek moet my beendere kry om te oefen, maar kom by niks uit nie. Daar is ‘n skoolvergadering, my bababoetie is in die hospitaal, Ziani het nog niks vir eksamen of haar toets geleer nie, maar daar’s darem gevriesde sop wat ons kan eet.
Woensdag
Ek moet petrol ingooi en kom op een helse ongeluk af. Wat as ek nie petrol ingegooi het nie? Sê nou ek was in daai ongeluk, hoe sou my kinders sonder hul ma gecope het? Hulle is mal oor hul ma, al sê Ziani ek is anders as al die ander ma’s wat sy ken. Goed of sleg, het ek gevra. Goed en sleg, het sy geantwoord. Daai kind! Ek luister oor die radio na ‘n mooi kinderhuisstorie en huil al my make-up af. Ek moet my lewe meer waardeer.
Ziani het klavierles die middag en ons kom laat by die huis. Zander is al weer lui vir huiswerk en sy sussie kom nie by leer uit met al haar huiswerk nie. Die huis is donker en koud en ek verloor dit toe ek sien dat niemand weer die oggend beddens opgemaak het nie. Klaar weer vergeet van die oggend se voorneme …
LEES OOK: Ma van die jaar: As jou kind ’n klein helsem word
Die vensterou is steeds missing in action en so ook is die muis. Ek gooi gif soos confetti en die vader des huise sê ek gaan die dood van ons liefste kat op my gewete hê.
Ek het steeds nie my nuwe jogamat gebruik nie en my tekkies het laas in 2017 aksie gesien. Ek moet dalk daaraan gewoond raak om sewe boude te hê. Ek ruik varsgebakte brood iewers. Gee my net ‘n stukkie brood!
Donderdag
Produktiewe dag by die werk, maar minder produktief by die huis. Ziani leer uiteindelik vir haar toets, maar my geduld is min en so is die tyd ook. Ek soebat en smeek en dreig Zander om hom te kry om te sit en vir ‘n speltoets leer..
Ons het darem nog ‘n vensterraam vir die woonstel gekry … Ouma trek die naweek, maar die woonstel is nog in wording.
Ek is steeds bang om my kasdeur oop te maak. Hoe kan ‘n 1,83 m mens so bang vir so ‘n klein muisie wees? Ek kry my skoene uit die kas met ‘n hokkiestok in die hand.
Ziani kort al weer ‘n nuwe hokkiestok en sak en Zander het die helfte van sy uitdraaipotlode weggefoeter. Ek wonder of ander kinders hul ouers ook so baie geld kos.
Is rogbrood glutenvry?
Vrydag
Zander het die middag judo. Omdat hy nie rugby wil speel nie, wou ons net hê die kind moet ten minste iets doen. Met die eerste oefening was dit trane, want die liefste seuntjie wou nie so lank by die skool bly nie. Hy leef mos vir ‘n Vrydagmiddag, want dan mag hy weer speletjies speel. Gelukkig geniet hy die judo darem nou en hy doen ten minste ‘n vorm van oefening. Ek weet nie hoekom die kinders se onsportiewe neigings my so pla nie, want ek was erg sportsku op skool. Ek het net deur die genade die hokkiespan gemaak. Probeer ek deur my kinders leef? Ek maak ‘n mental note om hulle nie in kassies te probeer druk nie.
LEES OOK: Ma van die jaar: Ek’s mal oor my kinders, maar *&%^@
Ek is diep dankbaar dis naweek. Ek bel drie pizzaplekke vir glutenvrye pizza. Geen glutenvrye pizza nie! Bring dan net die gewone. Ek gee nie nou ‘n dinges om nie. Flip glutenvry, flip die muis en flip die vensterou. Ek skink vir my ‘n groot glas rooiwyn en wag vir die pizza. Met ekstra kaas. Sela.
Zerelda is ons adjunkredakteur en werk al vir 13 jaar met woorde by Vrouekeur. Sy het joernalistiek studeer, skryf graag kortverhale en gedigte en droom van ’n digbundel én ’n roman – voor sy 80 word.