Zerelda Esterhuizen weet sy nie aldag die beste vriendin nie, maar daar is sekere dinge wat kinders oor vriendskap moet weet
As jy kinders op skool het, sal jy weet kinders en maats spel ongelukkig dikwels konflik en daar speel soms epiese dramas op die speelterrein af.
Ek kan dit al hoor: “Mamma, maar toe sê hy dit!” of “Mamma, sy wil nie met my speel nie” en en en …
Ons as ouers is nie daar om ons kinders op te pas nie en kan hulle nie teen giftige tonge beskerm nie en ja, ons is ook nie daar om te sien as ons kinders die oortreders is nie.
My meisiekind vertel my nou die dag van ‘n woordewisseling met ‘n ander dogtertjie en ek maan toe dadelik dat sy die rustige ene moet wees en dat sy moet probeer om die vriendskap te hervat.
Sy het ewe snipperig geantwoord: “Maar wat van Mamma en tannie E? Julle is dan nie meer maats nie.”
Dit het my laat dink aan wat ek vir my kinders oor vriendskap leer en watter voorbeeld ek vir hulle stel. Is ek enigsins in ‘n posisie om raad te gee?
Ek is ook nie aldag die beste vriendin nie en moet ook aan vriendskap werk. Ek en die betrokke tannie E was inderdaad op ‘n tyd baie na aan mekaar, maar toe gebeur iets en dinge is gesê wat ons albei verwond het. Ons praat darem weer vandag en ek glo ons is albei spyt dat ons dinge so ver laat gaan het. Mens mis verlore vriendskappe, maar dan besef jy ook weer dat vriende soms vir ‘n rede kom en gaan en dat nie alle vriendskappe van sub A tot die ouetehuis hou nie.
Dis oukei. Dit weet ek noudat daar ‘n rofie oor die seer gegroei het. As ‘n sekere vriendskap in jou lewe was, was daar ‘n rede daarvoor en dit was goed en gaaf vir julle, maar as dit verby is, is dit dalk weer jou kans om ou vriendskappe te waardeer en selfs weer nuwes te maak.
Dit was my antwoord vir my kind. Ek het vir haar gesê ek en my eertydse vriendin het vrede gemaak en ons is oukei met waar ons nou is.
Hier is die lesse wat ek vir my kinders oor vriendskap leer.
Ek is so ver weg van ‘n moeder Teresa dat dit nie eers snaaks is nie, en jul lesse is sekerlik beter as myne, maar ek deel graag 15 lesse.
- Ek leer my kinders dat hulle nie kan verwag dat almal in die wêreld soos hulle moet dink, voel of glo nie. Mense verskil en hulle is anders en dit is wonderlik. Jy hoef nie met almal vriende te wees nie, maar hulle respekteer? Ononderhandelbaar.
- As jy ooit ‘n kind spot, sal jou selfoon so ver weggebêre word dat ek self sal vergeet waar dit is.
- Soms is dit beter om van ‘n struweling weg te loop en dit net te los as dit van jou ‘n lelike mens gaan maak. As jy ongemaklik voel, loop weg, want dit gaan jou tyd en energie mors.
- Moenie dat enige mens oor jou loop nie. Jy het die reg tot ‘n mening. Gee dit.
- Nie alle vriendskappe hou vir ewig nie, maar pasop vir “bad vibes”. Verstaan dat dit nie meer vir julle werk nie. Jy sal weer nuwe maats maak.
- As vriende jou aftrek of afbreek, is hulle nie vriende nie. Vriende is veronderstel om mekaar op te bou.
- Vriende is bly vir jou as iets goeds met jou gebeur. Vier dit saam met jou maat as dit goed met hom of haar gaan.
- Jy gaan nou en dan van ‘n maat verskil, maar hoe doen jy dit? Wees beheers en dink voor jy praat.
- Wees vir jou maats die maat wat jy graag wil hê.
- Wees eerlik en sê as iets jou pla.
- Luister en moenie net altyd van jouself praat nie.
- Deel dit wat jy het met jou maat en wys jou waardering. Sê vir jou maat sy of hy is kosbaar vir jou.
- Dink na oor wat vriendskap is en wat maak van mens ‘n goeie vriend. Wees daardie persoon.
- Moenie net met sekere kinders wil meng of speel nie. Wees jy die een wat na ‘n kind sonder ‘n maat uitreik.
- As jy verkeerd was, sê dit en sê jammer. As jy sien jou maat tree verkeerd op, moenie bang wees om dit aan te raak nie. Sê dit. Dit is eerlikheid.
Zerelda is ons adjunkredakteur en werk al vir 13 jaar met woorde by Vrouekeur. Sy het joernalistiek studeer, skryf graag kortverhale en gedigte en droom van ’n digbundel én ’n roman – voor sy 80 word.