Dit het als in my eerste jaar op varsity gebeur. Op skool het ek ‘n siffie voor my mond gehad, brandmaer, min geëet…
Ek dink my ma se kos is daarvoor te blameer. Sy is nie ‘n wafferse kok nie –haar talente lê elders. Dis nie asof haar kos jou laat eet nie, julle weet?
In elk geval, in my eerste jaar het ek die vreugde van kos en die wonder van wyn ontdek. Jip, dit was net smartie cups op my koskaart en goedkoop wyn in Hatfield se hole. Ek het vir die eerste span geëet en het aan die klassieke eerstejaarsindroom begin ly. Daai een waarvan simptome in jou agterstewe gesien kan word. My boereboude en heupe het uitgesit en my kêrel van toe (vandag my man) was elke keer sigbaar geskok as hy my gesien het. Jy sien, hy het elke keer meer en meer van ‘n meisie bygekry.
En van daar af het my stryd met my emosionele etery ook begin. En dit lê ek ook eintlik voor my ma se deur. Hoor ma dit! Ons is altyd met kos getreat en ek sweer dis waar ek viering en kos met mekaar begin assosieer het. As dit betaaldag was, het jy jou pastei en Lemon Twist in die middag by die huis gekry. Tot vandag toe voel ek as dit betaaldag is, moet ek dit met iets lekkers vier. ‘n Goeie glas wyn en ‘n lekker steak iewers. As ek hartseer is, dan soek my hand vir iets te ete in my laai, as ek de dinges in is, dan sal jy my neus in die yskas kry en as ek vrek gelukkig is … Wel, jy mag my dalk net voor die koskaste kry, op soek na ietsie om aan te peusel.
LEES OOK: Ma van die jaar: 10+ dinge wat jy nooit vir ’n ma moet sê nie
So het dinge ernstige afmetings begin aanneem toe ek swanger geraak het. Ewe skielik was daar ‘n rede om die siffie voor my kiewe heeltemal weg te neuk en aan’t ete te gaan. Dis mos vir die baba! Hulle kort allerhande voedingstowwe en hulle het baie kos nodig. Nou is daar ‘n rede vir ontbyt, mid-morning snack, late morning snack, middagete, mid-afternoon snack en so meer. Kyk, my ginekoloog het nie doekies omgedraai nie. Elke keer as ek op die skaal geklim het, het sy oë gerek en was daar ‘n ernstige aanmaning. Maar ek was min gepla. Ek onthou nog hoe ek ewe positief ‘n sweetpak saamgevat het kraamsaal toe, gedog ek sal dit aantrek as ek huis toe gaan. Dit het nie gebeur nie. Daai broek wou nie eens oor my dye nie en die baadjie kon nie toemaak wat dit moes toemaak nie.
So deur die jare was my gewig op en af. Daar was allerhande detokse (net ‘n dag of twee), ‘n koolsopdieet (nie eens ‘n middag nie) en ‘n paar pille en brousels (nooit meer as ‘n week nie). Jy sien, ek is ‘n smulpaap. Ek hou van kos en ek hou van lekker kos. Gelukkig is ek 1,83 m lank en ek kan my vet makliker wegsteek as die korter mense. En ek is ook nie in die wieg gelê vir oefening nie. Ek probeer weliswaar, maar dit hou gewoonlik nie te lank nie.
Nou waar kom dit nou by my maweesblog uit, vra jy? Ek dink ons as ouers het baie te make met ons kinders se houding teenoor kos. Ek is pal in ‘n stryd met my jongste om te eet. Ek druk omtrent die kos in sy keelgat af, want hy sal veel eerder sit en Power Rangers kyk as om ‘n broodjie in sy kieste te hê. Moet ek dit doen? Moet ek hom nie eerder los dat hy eet as hy honger is nie? Lekkergoed is altyd in my huis beskikbaar, want ek het nog altyd gedink hulle moet weet daar is swiets as hulle dit wil eet en hulle nie vergryp daaraan as hulle dit die dag kry nie. En as Ma lus is vir iets soets …
Ek het op ‘n paar wenke afgekom om ‘n gesonde houding teenoor kos te kweek. Dalk help dit:
- Eet maaltye saam as gesin.
- Sit die TV af as julle eet en skakel ander afleidings af.
- Moenie kinders dwing om te eet nie en moenie hulle omkoop met poeding om groente te eet nie. Dit maak net dat hulle poeding sien as iets wat baie beter as groente is.
- Sluit jou kinders in met die voorbereiding van kos.
- Moenie kos as beloning aanbied nie.
- Moenie kos etiketteer as byvoorbeeld sleg nie.
- Moenie ‘n demper plaas op dit wat hulle geniet nie.
BRON: http://kidspluspgh.com
Zerelda is ons adjunkredakteur en werk al vir 13 jaar met woorde by Vrouekeur. Sy het joernalistiek studeer, skryf graag kortverhale en gedigte en droom van ’n digbundel én ’n roman – voor sy 80 word.