Dis Vrouemaand en met Vrouedag om die draai het ek gaan dink oor watter vrou ek wil hê my meisiekind eendag moet wees. Hier is ‘n paar lesse vir haar
Deur ZERELDA ESTERHUIZEN
“Mamma, en toe sê sy vir my dit en sy sê ek is so en so en sy’s altyd lelik met my en nou die dag het sy my gestamp … en en en.”
Ek het hierdie week so na my oudste geluister wat my vertel het van al die onderlinge katterigheid tussen meisies by haar skool en gewonder oor wat ons ons dogters leer.
En kyk as ek praat van katterigheid by die skool, verontskuldig ek nie my eie meisiemens nie. Ek leer haar om vir haarself op te staan en soms vat sy dit te ver en dan moet ek maar vermaan en ‘n prekie of twee afsteek.
So in die aanloop tot Vrouedag, het dit my laat dink om lesse neer te skryf wat ek graag vir my dogter wil leer.
Lesse vir my dogter
- Jy kan nie mense se reaksie teenoor jou beheer nie. Hulle gaan sê wat hulle wil en doen wat hulle wil, jy kan net jou eie reaksie beheer. Wat sê daardie reaksie van jou menswees?
- Jy gaan baie mense in jou lewe ontmoet. Mense wat anders as jy lyk en anders as jy optree en voel en glo. Dis oukei. Die wêreld sou ‘n vrek boring plek gewees het as ons almal dieselfde was. Respekteer hulle.
- Kyk met ‘n sagte hart na mense. Jy ken nie almal se stories nie en glo my almal het ‘n storie.
- Moenie oor alles stres nie. Gaan die ding waaroor jy nou stres oor ‘n week of jaar saak maak?
- Leef lig. Pasop vir onnodige skuldgevoelens en onthou ‘n mens is dikwels jou eie grootste vyand.
- Droom groot. Jy doen reeds en dit maak my baie opgewonde. Moenie jou entoesiasme vir die lewe verloor nie. Dit bly ‘n fantastiese plek.
- Moet niks ooit as vanselfsprekend aanvaar nie. Wees dankbaar vir wat jy het en onthou dinge kan baie verander.
- Glo wat jy glo en staan vas met jou beginsels.
- Lees en leer baie sodat jou wêreld kan verruim. Vra baie vrae – al maak dit google jou ma se beste vriend.
- As jy eendag groot is, hoop ek jy reis baie, sien baie plekke, en ervaar baie. Dit sal jou kop oopmaak en jou anders oor vele dinge laat dink.
- As jy kwaad raak, haal diep asem en dink eers oor dit wat jy wil sê en doen. Gaan dit ‘n weerspieëling van jou karakter wees? Onthou dat dinge nie ongesê kan word nie. Pasop daarvoor om ander mense seer te maak.
- Moenie jouself met ander vergelyk nie. Jy’s mos uniek vir ‘n rede. Wees jou eie mens en lyk soos wat jy wil lyk.
- Moet nooit jou sin vir humor verloor nie. Lag maak baie dinge beter!
- Moenie bang wees om kanse te waag nie, maar dink mooi en wees wys daaroor.
- Soms gaan dinge nie uitwerk nie en jy gaan foute maak. Trek jou skouers terug, kyk op en gaan voort.
- Integriteit is ononderhandelbaar. Mense moet op jou kan peil trek.
- Werk hard en wees regverdig.
- Wees altyd betyds vir werk en enige afsprake – laatkom is ‘n doodsonde in jou ma se oë …
- Kies jou vriende mooi. As jul vriendskap nie goed vir jou is nie, laat gaan en trek jou tentpenne uit.
- Onthou jou ma en pa is baie lief vir jou. Onthou dit as ons die dinges uit jou irriteer en as ons stry. Daai liefde sal nooit verander nie.
- Dalk gaan jy eendag trou en kinders kry en dalk nie. Kies jou eie pad, maar as jy lief raak vir iemand, wees lief vir iemand wat jou liefde werd is. Iemand wat jou waarde raaksien en jou nooit sleg oor jouself laat voel nie.
- Kry vir jou sterk rolmodelle om na op te kyk, mense wat bewondering werd is. As jy byvoorbeeld dink ‘n Kardashian is iemand om na op te kyk, sal jy onterf word. Punt.
Zerelda is ons adjunkredakteur en werk al vir 13 jaar met woorde by Vrouekeur. Sy het joernalistiek studeer, skryf graag kortverhale en gedigte en droom van ’n digbundel én ’n roman – voor sy 80 word.