Hy was eens die oulikste kleutertjie wat jou hart met ‘n glimlag week gemaak het. Jou alles. As jy die aand sy kombersie oor hom getrek het, het jy jouself gelukgewens met hierdie wonderlike mens wat jy gemaak het.
En dan gebeur dit.
Op ‘n dag kyk jy die uitgevrete kind só en besef: “Ek hou op die oomblik net mooi niks van my kind nie. Baie lief vir hom ja, maar flip, hy’s ‘n blikskottel, ‘n helsem, ‘n ….!”
‘n Vriendin se seuntjie is die oulikste ding denkbaar. Een kuiltjieglimlag en jou hart vermurwe, maar so word hy twee, drie en nou amper vier en die klein klits het die kuns van manipulasie ontdek. So word sy vertel dat sy hom “iteer” en hy gooi vloermoere dat hoor en sien vergaan.
LEES OOK: Ma van die jaar: 10+ dinge wat jy nooit vir ’n ma moet sê nie
“Hoe het sy oulike stadium so gou verbygegaan?” vra sy suur oor ‘n glasie wyn. Ek weet nie. Dit gebeur skielik en sonder waarskuwing. Dis asof ons krose deur fases gaan. Vrek cute, minder cute, net cute, veel minder cute en dan glad nie cute nie.
Kyk as hulle gebore word, is hulle onweerstaanbaar met daai rosige wangetjies en opvreetbare tuitbekkies en dan begin hulle in die oggendure te skrou en jou nerwe raak dunner en dunner, die kringe om jou oë donkerder en jy wonder of jy hulle ooit weer oulik sal noem. Dan kom die fase waar hulle alles ontdek, begin praat en jy dink ouerskap is pure vreugde. Jy sit foto’s op Facebook en koer oor jou eie wonderwerkie.
LEES OOK: Ma van die jaar: Ek is daai !#@&#* ma … Helaas
Tot die vloermoere kom en jy kry ‘n bitter trek om die mond. Dan is daar weer ‘n dierbare stadium wat jou oor die wonder van mawees laat jubel. So wissel dit tot julle die tienerfase betree. Die lieflike meisiekind wat eens net soos jy wou wees, kry ‘n misnoegde trek om die mond en jy kan net mooi niks reg doen nie. Jou klere is outyds, jou motor is so laas jaar en dink jy regtig sy gaan in daai rok gesien wil word? Om jou mond kom daar ook ‘n misnoegde trek, ja, die trek waar jy ‘n kind mooitjies by die skool wil vergeet. Jy begin wonder of jy nie maar met jou varsity-sleep moes getrou het nie, julle kon dalk ‘n aangenamer kind gemaak het …
Gelukkig gaan dit ook verby en dit is waaraan ma’s kan vashou. This too shall pass. Ja, ‘n mens word uitgeskel as jy vergeet om skoolbriefies te teken, Ja, Bennie se ma is dalk soveel cooler as jy, maar dis jou kinders. En in daai skewe kyke wat jy kry – onthou jy dalk die kyke wat jy jou ma gegee het … Karma is toe ‘n blikskottel. Jammer, Ma!
Zerelda is ons adjunkredakteur en werk al vir 13 jaar met woorde by Vrouekeur. Sy het joernalistiek studeer, skryf graag kortverhale en gedigte en droom van ’n digbundel én ’n roman – voor sy 80 word.