Daar is ’n zombie in my huis. Hy’s ’n oulike zombie met donkerbruin oë en blonde hare en het ’n stewige vastrapplek in sy ma se hart, maar so oulik soos hy kan wees, so vinnig kan hy sy ma omkrap.
Want sien, hy verander blitsvinnig van ‘n bekkige seunskind in ‘n zombie wat skaars opkyk as ‘n mens praat. Een wat sy ma dun lippies laat trek. Sy zombieskap bied hom ongekende vreugde. As hy Vrydagmiddae uit die kar spring, is daar ‘n lied in sy hart, die ogies blink en is hy reguit kamer toe. Dan verskyn die tegnozombie in sy plek. Teen Sondagaand begin hy mor oor ‘n hele week sonder katoeters en speletjies en daar is kwalik seunskind te eien in die rooi oë. Gelukkig draai die wiel, al is dit soms stadig, want teen Maandagmiddae is dit Ma wat met ‘n lied in haar hart die huis instap, want ‘n sekere zombie is dan eers verban en daar’s ‘n seunskind in sy plek wat buite moet speel.
Eienskappe van ’n tegnozombie
- Al is van hulle skaars ses, praat hulle van goeters waarvan hul ma’s kwalik weet.
- Hul vingers beweeg rats op ‘n skerm, maar minder rats as dit die blaaie van ‘n boek moet omblaai.
- Tegnozombies vind skool ‘n mors van tyd en beskryf dinge soos ‘n eerste skooldag as “een groot nagmerrie”. Dieselfde tegnozombie het sy eerste skooldag as die “worst day of my life’ bestempel.
- Tegnozombies kan funksioneer met baie min kos, maar soek ‘n konstante voorraad koeldrank. En nou en dan ‘n koekie of twee. Verkieslik moet die kos hulle nie wegvat van hul stoel nie.
- Tegnozombies dink niks daarvan om heeldag in hul pajamas te sit en speletjies speel nie.
- Tegnozombies kan moontlik eendag in ‘n regsrigting inbeweeg, want hulle weet hoe om ouers om die pinkie te draai en die lof van speletjies te besing. Die tegnozombie wat in die blou kamer in ons huis slaap, vertel vir sy pa en ma dat hy eintlik glad nie speel as hy met Minecraft besig is nie, nee, hy leer die heeltyd … (Ek sien toe wraggies Minecraft het wel voordele vir kinders!)
- Tegnozombies gebruik lag-lag ‘n hele maand se data in ‘n kwessie van ‘n paar dae op. So het ‘n sekere tegnozombie sy ma en pa se meter in die rooi gedruk toe hy so lekker ge-YouTube het, dat 400 GB teen die 18de van die maand op was …
- Tegnozombies kry ‘n wasige uitdrukking in die oë as hul ouers woorde soos “skermbeperkings” gebruik.
Hoe verander ’n kind in ’n tegnozombie?
Dit begin heel onskuldig laat ek julle vertel. Eers is daar opvoedkundige toeps wat jy jou kind wys, want dis mos goed vir hul ontwikkeling, seg hulle … Later is jy heel in jou skik dat die einste kind so bleddie oulik met jou selfoon en tablet is. Later besef jy dis dalk beter dat hulle hul eie tablette kry … En later dink jy, siestog, al die maatjies het Playstations, hulle sal dit so geniet. En as jy jou oë uitvee, ja, het jy help skep aan ‘n tegnozombie. As jy eers sien die probleem het hengse proporsies, begin jy navorsing doen … en stel dan reëls in soos geen skermtyd in die week nie. Jy wens jouself geluk met hierdie briljante ouerskapsplan, maar teen ‘n Vrydag is ‘n tegnozombie so uitgehonger vir digitale koekies dat hy weinig iets anders wil doen as om net voor ‘n skerm te sit en verorber wat hy kan.
Is daar ’n oplossing?
Kenner is dit eens dat kinders nie die heeltyd toegang tot skerms moet hê nie en dat kinders nog buite moet speel en hulle met ander dinge besig moet hou. So waar laat dit ons as ouers?
Ouers moet die voorbeeld stel en wys dat ons lewe nie deur ‘n skerm beheer word nie. Dit beteken dat ‘n mens vir jou kinders moet kyk as hulle praat. Dit beteken dat ‘n mens om ‘n tafel sonder selfone byderhand moet sit en kuier.
Aldus kenners, moet ons as ouers ander aktiwiteite aanmoedig en reëls vir skerms instel. Ons “geen skermtyd per week”-reël werk goed, maar dit irriteer my steeds dat sekere seunskinders die hele naweek net wil sit en speel. Daarvoor gaan ‘n ander reël nog moet kom …
‘n Mens moet glo na enige gedragsveranderings oplet en as daar ernstige probleme is, moet die skerms heeltemal weggevat word. Daar is ook “Timer Apps” wat ‘n mens kan installeer. Dis ook goed om te kyk na hoe lank ‘n kind ‘n skerm gebruik en dan moet hy of sy vir net so lank weer iets anders doen. Sterkte!
Zerelda is ons adjunkredakteur en werk al vir 13 jaar met woorde by Vrouekeur. Sy het joernalistiek studeer, skryf graag kortverhale en gedigte en droom van ’n digbundel én ’n roman – voor sy 80 word.