Daar is sekere dinge wat geen ma ooit-ooit wil hoor nie. Zerelda Esterhuizen het ’n paar wenners saamgestel
1. Jy lyk so moeg
Oukei, as ‘n mens die dag sleg lyk, weet jy dit, jy wil dit regtig nie hoor nie. En ja, as iemand vir jou sê jy lyk moeg, kan jy maar in die spieël gaan kyk, want jy lyk über-sleg. Jy het tien teen een donker kringe onder die oë, jou hare soek ‘n haarkapper en dis tien teen een die geval van regte outfit, verkeerde size. Maar dankie dat jy dit raaksien, vriendin!
2. As dit my kind was …
Goed, dr Seuss, jou kind doen dalk alles perfek en jy is dalk die perfekte ma, maar my kind is nie joune nie. En jou woorde maak seer.
3. Sukkel jy al lank om die swangerskapgewig af te skud?
Hierdie woorde kan jou toekoms ernstig beïnvloed. Jy kan byvoorbeeld jou sig of spraak verloor teen die tyd wat jy klaar hierdie sin geuiter het.
4. Dis jou eie skuld dat jou kind …
Ja, baie ma’s moes al hierdie sin hoor. Dis jou eie skuld dat jou kind sleg slaap, want jy sus haar mos te lekker. Dis jou eie skuld dat jou kind so siek is, want jy wou mos nie lank borsvoed nie. Dis jou eie skuld dat jou kind so siek is, want julle gaan laai haar mos so vroeg by die kleuterskool af. Die moontlikhede is eindeloos en maak nie saak hoe jy daarna kyk nie – dit is nie sinne met ‘n goeie uitkoms nie. Ons ma’s het al reeds erge skuldgevoelens, ons kort nie nog nie, baie dankie!
LEES OOK: Ma van die jaar: Ek is daai !#@&# ma … Helaas
5. Ek sal nie dat my kind dit eet nie!
Ja, ek is seker jou kind word uit jul eie organiese groentetuin gevoer, maar soms moet ‘n kind net kos in sy lyf kry. Of dit nou 2-minute-noedels of ‘n worsrolletjie is.
6. Aan ’n tuisblymamma: Wat doen jy heeldag?
Ek is nie self ‘n tuisblyma nie, maar ek het al hierdie sin male sonder tal gehoor. ‘n Dag het min ure en hierdie ma’s het vrek baie dinge om te doen.
7. Aan ’n werkende ma: Voel jy nie sleg omdat jy jou kinders so min sien nie?
As iemand dit vir ‘n werkende ma vra, wat reeds ‘n swetterjoel skuldgevoelens het, sal jy die befoeterde kyk in haar oë herken. Natuurlik voel ons sleg omdat ons ons kinders dalk minder as ander ma’s sien, maar ons sal bepaald nog slegter voel as hulle nie kos het om te eet nie en ons probeer die beste van ons tyd saam maak. Baie dankie!
8. Jou kind is pragtig, maar na wie lyk hy/sy?
Wat dink jy is die gepaste reaksie op so ‘n vraag? Moet ‘n mens beleefd glimlag en sê: “Seker maar na Pappa?” Of moet ‘n mens eerlik vra: “Nou dink jy ek lyk soos ‘n grototter?”
9. Ek sal nooit toelaat dat my kind dit doen nie!
Ek het eendag ‘n foto van my dogtertjie op Facebook geplaas waar sy gesit en Teletubbies kyk het. Iemand het dit goed gedink om vir my ‘n lang boodskap oor die euwels van TV-kyk te stuur en hoe sy nooit sal toelaat dat haar bloedjie dit kyk nie. Ek was verstom. Glo my, jy dink dalk dat jou kind nooit dit of dat sal doen nie, maar wag maar tot jy in daardie situasie kom, die helde val vinnig …
LEES OOK: Ma van die jaar: Dogtertjies en hul dramas
10. Gee jy dan nie vir jou kind vitamienes nie?
Jy’s doodmoeg, jou kind is al dae lank siek en jy’s amptelik op auto pilot, en dan hoor jy hierdie vraag … En dan kan ‘n mens knak – soos in Ally McBeal knak! Mevrou, dink jy dis vir ‘n ma lekker om haar kinders siek te sien? Sy probeer als om haar kinders gesond te hou. Hierdie is nie: Gee ‘n idee en jy wen R10 nie.
11. Moes jou kind nie nou al getel/geloop het nie …
Ai, die alewige mylpale en vergelykings. Kinders verskil. Punt. Nie almal doen alles op dieselfde tyd nie en dit maak van ons wêreld ‘n veel interessanter plek. “Nee, my kind sal dit op sy eie unieke tyd doen en ek doen alles wat ek kan om hom te help om dinge op sy manier te doen.”
12. My kind het nooit …
Jy het jou kinders grootgemaak en nou moet hierdie ma haar eie krosie grootmaak. Tye verskil. Kinders verskil en geen ma wil hoor dat haar kind nie fantasties is nie. Elke ma dink haar donkie is ‘n resiesperd en dit is soos dit moet wees. Moenie jou kind se prestasies soos ‘n vlaggie voor ‘n ander ma wapper nie, haar kind is net so geliefd en uniek. Sela!
Wat wil jy nooit hoor as ‘n ma nie? Laat ons weet!
Zerelda is ons adjunkredakteur en werk al vir 13 jaar met woorde by Vrouekeur. Sy het joernalistiek studeer, skryf graag kortverhale en gedigte en droom van ’n digbundel én ’n roman – voor sy 80 word.