As albei partye werk, kan frustrasies ontstaan oor wie wat doen. Ons kyk hier na dié en ander probleme
Deur JB ROUX
Die een ding waaroor die meeste werkende ma’s kla, is tyd. Hulle het nóóit genoeg tyd nie. Jenny* is bevordering en ’n verhoging aangebied. Dit gaan langer werksure meebring en sy voel reeds skuldig omdat sy haar gesin afskeep. “Ek oorweeg dit om die pos van die hand te wys,” sê Jenny, “al gaan my werkgewer vertroue in my verloor. As ek ’n man was, sou ek die pos aanvaar het sonder om skuldig te voel en sonder dat enigiemand my sou verwyt. Of moet ons aanvaar die meeste vroue is meer op emosionele versorging ingestel terwyl mans daarop ingestel is om materieel na hul gesinne om te sien, en dat dit nie noodwendig verkeerd is nie?”
Volgens Herman Smit, ’n lewensafrigter, is vroue bedraad om meer versorgend as mans te wees, nie net emosioneel nie, maar op alle vlakke van versorging binne die huisgesin. “Die eerste vraag wat ’n vrou haarself moet vra,” sê Herman, “is wat haar as mens gelukkig sal maak en nie wat haar man of gesin gelukkig maak nie. As sy geniet wat sy doen, sal sy as mens gelukkig wees en dit sal na die gesin oorspoel. Baie mans het die vermoë om vroue te laat skuldig voel om hul (die mans se) sin te kry. Jy doen meer as jou deel! Jy hoef nie te spring as jou man praat nie. Jy mag ook rustig wees en daar is niks daarmee fout om te delegeer nie.”
Herman beantwoord ’n paar vroue se vrae:
Amanda* is ambisieus en werk hard, maar is grootgemaak om te glo die huishouding is eindelik ’n vrou se verantwoordelikheid. “Ek weet ek brand myself uit. Hoe ‘leer’ ek myself dat gehaltetyd vir myself en met my gesin belangriker is as om potplante af te stof?”
“Bepaal eers wat gehaltetyd vir jou beteken,” sê Herman. “Skryf daagliks die positiewe ervarings van daardie dag (vir jou) neer, wat was vir jou lekker en het jy regtig geniet – by die werk, saam met jou man, jou kinders, of alleen. Lees weer ná ’n week of twee wat jy geskryf het: Dít is waarvoor jy tyd moet maak.”
Sandra* is ’n goeie pos aangebied, maar dit sal opofferings van haar man verg om dit te laat werk. “As ons saamwerk en my man sy kant bring, kan ons die wa deur die drif trek. Hy sal ook voordeel uit die meer geld trek en ek is ook bereid om toegewings te maak. Hoe benader ek my man sonder om hom op die agtervoet te plaas?”
“Die huwelik is ’n verhouding waar elkeen net die beste vir die ander een wil hê en wil sien dat sy of haar maat so gelukkig as moontlik is en om die beste in mekaar uit te bring. Min huwelike is op daardie vlak. “Begin met hoe jy kommunikeer. Maak seker jy doen jou aanvoorwerk so dat jou man nie dink jy het reeds besluit hoe dinge moet verander nie, maar dat jy wil hê julle moet saam ’n ingeligte besluit neem. Albei moet die geleentheid hê om die voor- en nadele van jou nuwe pos neer te skryf en te deurdink voordat julle dit bespreek. Só maak jy hom deel van die proses.”
Natalia* sê sy kan sien haar man voel bedreig omdat sy meer as hy verdien. “Hoe oortuig ek hom hy hoef nie die grootste broodwinner te wees om die perfekte pa en eggenoot te wees nie?”
“Net soos baie vroue grootgeword het om te glo hulle is vir die huishouding verantwoordelik,” sê Herman, “glo baie mans hulle is vir die finansies verantwoordelik. Om skielik minder as sy vrou te verdien, kan hom minderwaardig laat voel. Jy kan simpatiek wees en min klem plaas op die feit dat jy meer as hy verdien. Dit is belangrik om na jou man te luister en te verstaan hoekom hy voel soos hy voel.”
Christa* en haar man het gereeld struwelinge oor seksisme. “Hy glo dis oukei as sy vrou voltyds werk, solank sy steeds die huishouding eerste stel. Maar die grootste konflik spruit dalk uit ons persoonlikhede: Ek is doelgerig, hardwerkend en gedissiplineerd; hy is meer ontspanne. Raak vroue te gou in die war of the sexes betrokke, terwyl die eintlike probleem by botsende persoonlikhede lê?”
“Die suksesvolste verhoudings is waar mense besef almal verskil en dit is juis ons verskille wat ons lief vir mekaar maak. Om die een of ander rede probeer ons ná die huwelik juis dít verander wat ons aanvanklik na mekaar toe aangetrek het. In ’n verhouding is daar nie botsende persoonlikhede nie, maar aanvullende persoonlikhede. Die geheim is om eerlik met mekaar te wees oor wat elkeen se sterk en swak punte is en wat elkeen gelukkig maak, sodat ons aanvullend tot mekaar lewe en mekaar ondersteun om die beste te wees wat ons kan wees.”
Claire* sê haar man voel hulle skeep mekaar af. “Daar is nooit tyd vir ons twee om alleen saam iets te doen nie. Meer saamweestyd is nou ons eerste prioriteit. Is dit die onderliggende oorsaak van konflik in baie huwelike: dat egpare so in hul besige lewe vasgevang word dat hulle van mekaar af weggroei?”
“Ons moet konstant aan ’n huwelik of verhouding werk om dit gesond te hou. Baie huwelike begin met ’n agterstand aangesien ons nie moeite doen om mekaar regtig te leer ken nie. As ek jou sou vra wat die één ding is wat jou huweliksmaat regtig gelukkig maak, of wat julle graag saam doen wat julle goed laat voel . . . sal jy kan antwoord? Saamweestyd is nie genoeg nie, julle moet gehalte-saamweestyd hê.” Doen ook gereeld iets spontaans, is Herman se raad: “Dink net hoe wonderlik sal die lewe wees as ons baie dinge net spontaan doen! Dit herinner my aan die vraag wat almal so gereeld vra: Wat sal jy vandag doen as jy weet jou lewe is môre verby? Miskien moet ons meer leef asof vandag die laaste geleentheid is wat ons gaan hê om met ons geliefdes deur te bring – sal jy begin skottelgoed was en huis skoonmaak of gaan jy tyd saam met jou mense deurbring?”
Marga* en haar man het gereeld rusies oor takies in die huis. “My man stem nou in om ’n bietjie meer huiswerk doen, maar ek moet hom dinge op sý manier laat doen en mag nie kritiseer nie. Ek hoor kort-kort: ‘Wanneer ek probeer help, is dit nooit na jou sin nie en doen jy dit oor.”
“Wanneer die man en kinders in die huis help, gaan hulle nie noodwendig dinge doen soos jy dit sou doen nie. Dit is ook vir party vroue baie belangriker wat ander mense sal dink as hulle by haar by die huis kom as wat dit vir hul mans is. Maar hoe meer ’n vrou fout vind, hoe minder sal die res van gesin wil doen; dit word ’n bose kringloop.” *Skuilname
Ma’s moet delegeer
Volgens Herman is dit belangrik dat kinders van jongs af leer dat hulle verantwoordelikhede het. “Dit rus hulle toe om ook as volwassenes verantwoordelikheid te neem. Hulle gaan daardie grense toets en dit is jou plig om seker te maak hulle weet waar die grense is. “Dit is belangrik dat ouers nie hul eie gesag ondermyn deur wanneer ’n kind nalaat om iets te doen, dit vír hulle te doen nie. Vroue trap gereeld in die strik om self al skellende die klere op te tel of hul beddens op te maak. Die geheim is om oë toe knyp en die kamer deurmekaar te los of om eenvoudig nie die skoolklere op tel nie. Dit sal net een of twee keer gebeur – dan het die kinders die les geleer. Pa en Ma moet saamwerk en nie mekaar se gesag ondermyn nie. Indien julle verskil oor hoe ’n situasie hanteer moet word, gesels daaroor wanneer die kinders nie by is nie.” Herman Smit: www.capnpc.co.ca