Hoe gemaak as jy gedurig vir jou kinders moet nee sê omdat daar nie genoeg geld is nie?
Deur THERESA VAN BAALEN
Jou ouerhart kan dit nie meer hou nie. Jou ego is broos. Jy voel soos ’n mislukking, want in jou gedagtes het jy jou kinders gefaal. Jy wil só graag vir hulle alles onder die son gee, alles wat hulle nodig het, alles wat hulle wil hê, en sommer nog ’n paar ekstra goed ook, net omdat jy kan.Maar jy kan nie. Al werk jy jou vingers stompies, is daar elke maand skaars genoeg geld om die huur en die munisipale rekening mee te betaal en om kos te koop sodat julle nie van die honger vergaan nie. Jy kan amper nie eens die dinge haal wat hulle regtig nodig het nie, soos ’n nuwe paar skoene of ’n skoolbroek, laat staan nog om vir hulle die goed te gee wat hulle so graag wil hê. Toe jou kinders nog klein was, was dit makliker, want hulle was nog grootliks onbewus van wat ander het en van wat die wêreld bied.
’n Karretjie was ’n karretjie en ’n hemp was ’n hemp. Handelsname het nie saak gemaak nie en hulle was opgewonde en bly oor enige nuwe ding, selfs ’n nuwe tandeborsel. Maar hulle is nie meer klein nie, en hulle is nie meer met die minste tevrede nie. Kinders sien wat hul maats het. Hulle is deeglik bewus van die nuutste tegnologie en die gewildste handelsname en daar is dinge wat hulle óók wil hê. En jy voel soos ’n monster omdat jy gedurig moet “nee” sê bloot omdat jy dit nie kan bekostig nie. Op ’n dag, ná jy vir die soveelste keer nee gesê het, kyk jou kind moedeloos na jou, en vra: “Hoekom is ons so arm?” Daardie dag breek jou hart in ’n duisend stukke, maar jy hou jou dapper en gee voor dat die woorde nie seermaak nie. Jy voel só skuldig omdat jy nie vir jou kinders meer kan gee en meer kan doen nie, want hulle het immers nie gevra om hier te wees nie. Hoe hanteer jy jou kinders se teleurstelling en jou skuldgevoel?
As die teleurstelling groot is
Dit is normaal vir kinders wat nie hul sin kry nie om teleurgesteld te voel. Ons as volwassenes beleef dit ook, ons vokaliseer net nie altyd ons gevoelens nie. Ongelukkig wil kinders soos hul maats wees, en as dit by geldsake en besittings kom, kan hulle skaam of minderwaardig voel as hulle minder as ander het. Finansiële ongelykheid is egter ’n realiteit, maar vir kinders wat nog nie die lewe in al sy fasette ervaar het nie, voel dit uiters onregverdig en hulle weet nie altyd hoe om hul teleurstelling te hanteer nie. Ongeag jou gesin se finansiële situasie, is dit belangrik om jou kinders te help besef dat al het hulle nie al die materiële dinge wat hulle graag wil hê nie, hulle tog op soveel vlakke ryk is. Hulle is waarskynlik ryk aan vriende, liefde, veiligheid, vreugde en soveel ander dinge wat geld nie kan koop nie. Herinner jou kinders daaraan dat julle kos het om te eet, ’n dak oor jul koppe en dat julle mekaar het. Daar is immers kinders sonder gesinne, kinders wat vanaand honger gaan slaap, kinders wat soveel minder as hulle het en wat énigiets sal gee om die stokou rekenaar te hê wat kwansuis nie meer goed genoeg is vir hulle nie.
Natuurlik sal kinders uit voel as hulle dit nie kan bekostig om saam met hul maats te gaan pizza eet en fliek nie, of nie geld het vir daardie paar skoene met die “regte” handelsnaam nie. Jy sal verkies dat jou kinders dit maar net aanvaar en daaroor kom, maar dis belangrik om nie hul gevoelens te ignoreer nie. Sê vir hulle dat jy hul teleurstelling begryp en help om ’n oplossing vir die probleme te vind. As jou meisiekind bekommerd is dat sy ’n lekker tyd saam met haar maats gaan misloop, kan jy voorstel dat sy hulle een Saterdagmiddag oornooi om te kom DVD’s kyk en ’n pajamapartytjie te hou. En daardie duur skoene wat jy nie kan bekostig om vir jou tienerseun te koop nie? Vra jouself af of hy binnekort nuwe skoene gaan nodig hê. As die antwoord ja is, kan julle dalk die duur skoene oorweeg, maar hy moet verstaan dat julle dit nie onmiddellik sal kan bekostig nie en daarvoor sal moet spaar. Jy kan dalk ’n ooreenkoms aangaan: Vir elke rand van sy sakgeld wat hy vir die skoene opsysit, sal jy ’n rand bylas. So breek julle die bedrag oor ’n paar maande in kleiner dele op, wat ook vir jou meer haalbaar is, en jy bemagtig hom sodat hy nie hoef moedeloos te raak omdat hy nooit die skoene sal kry nie. Hy leer ook die waarde daarvan om te spaar vir wat hy wil hê, en die realiteit dat ’n mens nie altyd alles kan kry wat jy begeer nie, maar oordeelkundig moet besluit wat regtig vir jou belangrik is.
Hoe hanteer jy jou eie skuldgevoel?
Jy is beslis nie die enigste ouer wat nie vir jou kinders alles onder die son kan gee nie. En om jou sente te moet omdraai, maak nie van jou ’n slegte ouer nie. Dis nie altyd maklik nie, maar klop jouself gerus op die skouer omdat jy die beste doen wat jy kan. Waak daarteen om jou skuldgevoel op jou kinders te projekteer as hulle iets wil hê wat jy nie kan bekostig nie. Moenie dinge sê wat jy later sal berou nie, soos: “Ek werk my oor ’n mik sodat jy kan skool toe gaan en kos hê om te eet, maar jy is met niks tevrede nie!” Jy wéét dit gaan oor meer as dit, maar jou kinders hoor net dat hulle vir jou ’n oorlas is. Deur dinge te sê wat jy nie regtig bedoel nie, sal jy later eenvoudig méér hê om oor sleg en skuldig te voel. Gee soveel jy kan van dit wat jy oorvloedig het:
Gee jouself, gee jou tyd en gee jou liefde. Maak tyd vir jou kinders en beplan goedkoop of gratis aktiwiteite of uitstappies wat almal sal geniet.
Julle kan dalk nie bekostig om by die restaurant op die seefront te gaan eet nie, maar die kitskosplek een straat weg van die strand verkoop dalk draairoomyse teen vyf rand elk. Koop die roomys en loop strand toe terwyl julle dit eet. Dit kan steeds ’n middag word wat julle almal sal onthou. Kweek ’n dankbare gesindheid – an attitude of grattitude. Jy wil hê jou kinders moet meer tevrede wees met en dankbaar wees vir wat hulle het. Stel aan hulle ’n voorbeeld deur gereeld jou dank en tevredenheid uit te spreek vir die groot én die klein dingetjies in die lewe. Selfs alledaagse irritasies kan rede tot dankbaarheid wees, byvoorbeeld: “Ek is so bly ek kan vandag wasgoed was, want al die vuil klere herinner my daaraan dat ek nie alleen is nie, en dat ek julle almal in my lewe het!” Om nie vir jou kinders alles te kan gee wat hul hart begeer nie, is nie noodwendig ’n slegte ding nie.
Christel Maritz, ’n kliniese sielkundige van Somerset-Wes, het die volgende te sê: “Ouers moet vir kinders die gesonde verhouding tussen geld verdien, geld spandeer, geld spaar en geld skenk leer. Om “nee” te sê, is deel van opvoeding. Kinders moet leer om groepsdruk te hanteer. Hulle moet ook leer dat ons waarde as mens nie aan ’n oormaat van materiële besittings gekoppel is nie. Jou tyd is baie meer werd as jou geld. Om iets uit jou hart te kan gee, is ’n weerspieëling van jou waarde, want dit spreek van wie jy is, nie hoeveel jy kan bekostig nie. Ek neem ’n tendens in my praktyk waar met ouers wat alles vir kinders gee om vir hul eie arm kinderjare te kompenseer en dan kinders grootmaak wat in hul 20’s en 30’s werkloos is, steeds by die ouers of familie woon en met ’n eiegeregtigheid steeds verwag dat die ouers moet sorg.” Gee jouself, gee jou tyd en gee jou liefde. Maak tyd vir jou kinders en beplan goedkoop of gratis aktiwiteite of uitstappies wat almal sal geniet