Jy kan nie wag tot betaaldag nie, maar skaars ʼn week later sit jy weer in dieselfde bootjie met ʼn leë bankrekening. Hoe gemaak?
Deur ZERELDA ESTERHUIZEN
As jy jou selfoon hoor bliep op die eerste van ʼn maand dan weet jy: Die aftrekkings gaan af. Jou maag trek saam, gaan jy genoeg geld vir al jou skuld hê?
Welkom by die wêreld van menige Suid-Afrikaner. Ons is ongelukkig nie almal Oppenheimers nie en die meeste van ons moet swoeg, kerm en betaal om kop bo water te hou.
Maar is daar ʼn manier om asem te haal? Kom ons kyk na ʼn paar wenke:
1 Jy het dit seker al tot vervelens toe gehoor, maar daar is mense wat sonder ‘n begroting leef. Jy moet ‘n geldplan hê. Al maak dit jou ook hoe depressief! Probeer neerskryf op presies wat jy geld spandeer. ‘n Mens kry ook deesdae allerlei toeps wat daarmee kan help soos “Spending”.
2 As jy ‘n begroting opgestel het, beraam nou ‘n spaardoelwit. “Met watse geld moet ek spaar?” vra jy. Begin klein, spaar ‘n R100 ‘n maand en sit dit dadelik oor in ‘n ander rekening (wat jy nie kan onttrek nie). Verhoog die bedrag soos jy kan.
3 Probeer geld spaar op kos. Gebruik toeps wat vir jou afslag op produkte gee en ook waar jy kontant kan terugkry. As jy afslag kry, gebruik dit vir kos en nie luukse artikels nie. Dit kan ook help om ‘n weekspyskaart op te stel sodat jy presies kan sien wat jy aan die begin van die week moet koop. ‘n Mens gee meer geld uit as jy elke tweede dag by die winkel stop, probeer dit na slegs een keer verminder.
4 Besluit om op sekere paar dae nie ‘n sent te spandeer nie, sê die blog www.lifeandabudget.com. Jy mag dan nie eers ‘n koffie by die werk koop nie.
5 Kyk weer na jou versekering. Is jy al vyf jaar by dieselfde versekeraar? Hoekom? Kyk na verskillende opsies, al is dit moeite, en kry verskillende kwotasies.
6 Sny op luukses. Kyk of jy ʼn goedkoper pakket op satelliet-TV en ander intekenings soos data kan kry.
7 Soek nog inkomste. As jy eenvoudig te min verdien, probeer kyk na ander werkopsies of maniere om ekstra geld te maak. Wees net versigtig vir internetskemas. As iets te goed klink om waar te wees, is dit tien teen een!
Word finansieel fiks
Die finansiële adviseursgroep deVere Acuma gee ʼn paar stappe:
GAAN OOR TOT AKSIE
Moenie net praat nie, besluit waarom jy jou finansiële omstandighede wil verbeter – moenie wag totdat oortrokke fasiliteite, onbetaalde rekeninge of ’n skuldskande jou inhaal nie.
STEL FINANSIËLE DOELWITTE
Kyk na waar jy jou tans bevind – wat jy het en wat jy maandeliks uitgee. deVere Acuma stel voor dat jy ’n oomblik daaraan afstaan om oor jou finansiële doelwitte na te dink. Dalk wil jy spaar, lewensdoelwitte bereik, verhuis, jou eie onderneming begin of vroeër aftree of moontlik net die skade beheer. “Nou kan jy vir jou haalbare doelwitte – met realistiese tydraamwerke – vir 2017 stel en aan ’n finansieel fikser jy begin werk,” sê Gavin Smith, deVere Acuma se hoof van Afrika-markte. As jy oorweldig voel, gesels met ’n finansiële raadgewer.
STEL ’N BEGROTING OP EN KRY ’N SPAARROETINE
Jou begroting behoort te bestaan uit ál jou behoeftes (50%), van jou begeertes (30%) en, die heel belangrikste, ’n spaarkomponent vir noodgevalle en die toekoms (20%). Moenie moed verloor as jou behoeftes in hierdie stadium 70% van jou uitgawes uitmaak nie – dit is so vir die meeste mense.
Deel jou nabelaste inkomste en geraamde uitgawes in onder die kategorieë “noodsaaklik” (om te werk en leef, soos jou huisverband of -huur, elektrisiteit, eiendomsbelasting, mediese fonds, kindersorg, vervoer en kruideniersware), “geriefies” (soos gimlidmaatskap, uiteet, die jongste tegnologie en vermaak) en “nie-noodsaaklikhede”.
Leer ’n spaarroetine aan deur jou oorblywende inkomste elke maand deur ’n debietorder in ’n spaar- of beleggingsrekening in te betaal.
KRY ’N FIKSHEIDSINSTRUKTEUR
Vra ’n finansiële raadgewer om jou uitgawes te help dophou en jou slim finansiële besluite te help neem.
SKUD DIE SKULD AF
Toksiese skuld soos ’n kredietkaart kan jou bekruip en jou begroting verslind. Dit lyk dalk aanvanklik na ’n opdraande stryd om dit af te betaal, maar as jy met klein bedrae bo die minimum betaling elke maand begin, kan jy jou skuld dramaties verminder.
BELOON JOUSELF
Sit vooraf ’n klein bedrag geld opsy om jouself mee te bederf en gaan verstandig daarmee te werk. “Jy hoef nie altyd die lekker dinge in die lewe prys te gee nie,” sê Gavin.
BRONNE: http://lifeandabudget.com, www.devere-acuma.co.za