Die waarde van vrouevriendskap mag nie onderskat word nie. Daar kom tye dat ’n vrou haar hart veel eerder by ’n vriendin sal uitstort as by haar man
Vroue verstaan mekaar se kwessies oor die algemeen beter as wat ’n man, met die unieke denke eie aan sy geslag, dit kan doen.
’n Studie wat by die Universiteit van Los Angeles gedoen is, wys daarop dat vriendskap tussen vroue so intens kan wees dat dit gedrag spontaan kan beïnvloed. Dit kan selfs dien as ’n alternatief vir die veg-of-vlug-reaksie wat volg op trauma en stres, iets wat maklik tot die neem van verkeerde besluite kan lei.
Die studie wys dat wanneer ’n mens stres ervaar, die brein daarop reageer deur hormone af te skei wat die liggaam so gou moontlik uit die gevaarsone wil laat wegkom, of met alle geweld wil dwing om terug te baklei. Dis ’n oeroue oorlewingsmeganisme wat stam vanuit antieke tye toe die mens deur ongediertes met skerp slagtande gejag is. Nou beweer die navorsers dat vroue ‘n groter ingeboude gedrags-repertoire het as net die bekende veg of vlug. Dit blyk dat hierdie hormone, in samewerking met estrogeen, as buffer vir hierdie oer-optrede kan dien. Wanneer gevaar dreig sal instink vroue daartoe lei om na hul kinders om te sien en hul selfs by ander vroue te skaar om daar na veiligheid te soek. In dieselfde situasie reageer mans anders, skynbaar omdat testosteroon, wat dan oorvloedig vrygestel die werking van die ander hormone teenwerk.
Vrienskappe dra by tot lewensgehalte
’n Studie by die mediese fakulteit van die Universiteit van Harvard sien ’n gebrek aan vriendskap as feitlik net so gevaarlik soos rook of oorgewig. Daarvolgens word geglo dat in uiterste gevalle van stres soos wanneer ’n vrou haar lewensmaat aan die dood afstaan, dit ook haar vriendskap met ander vroue kan wees wat haar deur hierdie donker tyd dra.
Wanneer die eise wat die lewe aan haar stel te veel word, gebeur dit helaas ook dikwels dat vroue juis hul vriendskappe opoffer of die tyd wat hulle daaraan afstaan minder maak. Hierdie navorsers raai vroue egter aan om die waarde van vriendskap vir algehele geestelike en liggaamlike welstand nie te onderskat nie.
Vriendskap vra iets van jou
Facebook, waar jy met honderde virtuele ‘vriende’ kan spog, het vriendskap goedkoop gemaak. Maar inderwaarheid vra dit soms opofferings van jou om jou vriendskap te vertroetel. Jy moet bereid wees om met tye jou eie smaak en gemak opsy te skuif. Jy moet gewillig wees om saam te lag én saam te huil. Vriendskap is maklik as alles goed gaan en julle uit een mond praat. Maar hoe gemaak as julle verskil? Dis waar die ware toets vir vriendskap inkom.
Tog behoort vriendskap nie té harde werk te wees nie. Dan raak dit tyd om die vriendskap te heroorweeg.
Hoe gemaak wanneer vriendskap versuur?
’n Kenmerk van ware vriendskap is juis dat jy jouself mag wees wanneer jy by jou vriendin is. Jy mag maar uit jou hart praat, jy mag maar kla én jy mag maar spog ook. ’n Vriendin huil graag saam met jou, maar dis wanneer dit met jou goed gaan dat jaloesie na vore kan tree.
Wanneer ’n vriendskap bloot oppervlakkig is en daar kom struweling, is die nagevolge nie so radikaal nie. Die onderskeie partye tree dalk net effens agteruit sodat hulle nie meer so na aan mekaar is nie. Die vriendskap ly wel skade, maar was nie so heg om mee te begin nie. Dis wanneer haat en nyd tussen jarelange vriendinne tree dat groot skade gely word. ’n Vriendin wat jou nie meer goedgesind is nie, kan veel gevaarliker wees as iemand wat van altyd af jou vyand was.