Die inperking begin aan die nerwe te vat en dis maklik om nou ’n donker gat in te sink. Daar is egter heelwat dinge wat jy kan doen om besig te bly en jou gemoed weer ’n hupstoot te gee
Hierdie sou ons laaste week van inperking gewees het, maar ongelukkig is dit nie. Ons almal ervaar baie spanning in hierdie tyd, daar is stres oor die pandemie, persoonlike finansies, werk en of jy nog enigsins ’n werk gaan hê, kinders se skoolwerk, spanning saam met mense in die huis, die land se ekonomie en die onsekerheid oor hoe lank die toestand nog gaan aanhou. Daar is nie veel wat ons aan hierdie onsekerheid en stres kan doen nie, maar daar is ’n paar dinge wat jy kan doen om beter te voel en jouself ’n bietjie oemf te gee.
Moryn Hanzen van Upington is ’n skrywer wat gedink het die inperking gaan haar baie kans vir skryf gee, maar kaste regpak en kosmaak gee haar nou ’n gevoel van vergenoegdheid. “Ek kom nou baie meer buite as normaalweg en drink my tee soggens in die tuin. Saans kan ek skaars wag vir die sonsondergang wat my laat besef dat alles mooi kan eindig.”
Rozaan de Wet Boer van Vredenburg het vir haarself ’n uitdaging gestel en dit is om ’n draaiboek te skryf. “Ek kontak ook mense wat ek weet dit sal waardeer. Ek kyk meer reekse en flieks en gooi elke middag bal saam met my gestremde kind. Ek ry fiets terwyl ek TV kyk en ons hou die huis skoner as gewoonlik. Ek luister weer musiek en lê op die stoep en laat my gedagtes gaan.”
Vir Christien van den Bergh van Randfontein is dit ’n tyd om nuwe sake-idees uit te dink en dit maak haar opgewonde en laat haar positiewer voel. “Ek het ’n Facebookblad begin met idees om kinders mee besig te hou en beoog ook om projekpakkies vir vakansies saam te stel.”
Merinda Kruger van Hartenbos glo mens moet ’n plan vir die res van die inperking ontwikkel. “Stel vir jouself doelwitte en kom in ’n roetine met ’n doenlysie vir elke dag. Dink aan gespesialiseerde kursusse wat aanlyn aangebied word. Luister na Ted Talks en insiggewende potgooie wat verrykend is. Skryf elke dag neer waarvoor jy dankbaar is. Skep ook eietyd. Bid, mediteer of dink oor jou lewe en maak notas. Hersien jou lewensdoel en kyk wat moet verander om dit te bereik.” Merinda glo dis ook ’n tyd wat mens bande met familie en vriende kan versterk – selfs al is dit oor ’n afstand. “Behou virtuele kontak. As jy alleen bly, gesels oor die foon sodat jy jou eie stem kan hoor. Dit help ook om jou gedagtes te orden,” sê sy.
Elmarie Nienaber van Kampen van Newcastle sê in die rustiger verloop van die lewe, het sy nou meer tyd om te dink. “As mens deur elke besige dag meet en pas om als gedoen te kry en almal om jou gelukkig te hou, verloor jy soms perspektief. Daarmee saam bou skuldgevoelens op oor dingetjies wat ongedaan gebly het, mense by wie jy nie uitgekom het nie en onbelangrike datums wat jy vergeet het. Noudat ek meer tyd het om dinge te deurdink, besef ek dat die meeste van my skuldgevoelens ongegrond was. My gemoed is dus baie ligter en die skuldgevoelens wat immer aan my hakskene gebyt het, is weg.”
Idees vir dinge wat jou goed kan laat voel
Haal diep asem as dit voel asof jy paniekerig raak. Asemhalingsoefeninge en poësie hou haar kalm, vertel Gisela Ullyatt van Oos-Londen en sy vind dit help haar ook met haar weeklikse chemoterapie. Skryf neer wat jy tans ervaar. Hoe gaan dit regtig met jou? Hoe was jou week? Sien jy na iets uit? Begin om elke dag dagboek te hou.
Skrywer Helene de Kock van Pretoria vind dat skryf haar gemoedstemming ligter maak. “Ek werk nou aan my nuwe roman, maar as jy nie kreatief skryf nie, skryf net alles neer wat jy voel. Dit bring verligting. Alles wat jy beleef, het waarde. Moet nooit jou eie ervaring geringskat nie.”
Eben Jordaan van Johannesburg skryf ook nou meer as gewoonlik en het selfs ’n vervolgverhaal op Facebook aan die gang om sy en ander mense se aandag af te lei.
Leer iets nuuts. Jan Snyder van Centurion is 65 en tot en met die inperking kon hy homself net met die basiese werkinge van die internet help. Hy gebruik hierdie tyd om sy kennis te verbreed en het nou selfs ’n aanlyn onderneming waar hy gesiglees gebruik om mense met verhoudings te help. Hy leer nou ook hoe om dit op sosiale media te bemark.
Anne Marais van Mosselbaai het gesien dat daar verskeie platforms is waar mens gratis dinge kan leer. Sy benut die tyd om gratis aanlyn webinare vir skrywers te doen.
Gerry Esterhuizen van Krugersdorp het onlangs in ’n nuwe veld begin werk en het nou al nagenoeg 30 aanlyn kursusse gedoen om meer oor sy nuwe veld te leer. Musiek is wonderlike terapie. Luister na musiek wat jou goed laat voel en as jy musiek kan maak, nog beter.
Maryke van Rensburg van Klerksdorp maak video’s waarin sy liedjies van verskillende eras sing. “Ek doen dit om bietjie positiwiteit uit te stuur. Dit hou my gedagtes gefokus en weg van die negatiewe.” Vroetel met jou vingers in die grond.
Ellen Kok van Krugersdorp probeer nou om proteas te laat ontkiem. “Dis omtrent ’n proses – ek sal oor 60 dae sien wat gebeur.” Doen iets kreatiefs soos om te brei of te hekel, naaldwerk te doen of iets te skep.
Amalia Moller van Krugersdorp stik nou maskers vir ’n vale.
Carike Hoffman van Tarlton het oor die jare materiaal en krale opgegaar en dis genoeg om haar besig te hou.
Vir Linda Rossouw van Roodepoort is kuns haar redding.
Suré Duvenhage van Kathu wou al lank leer hekel en die inperking het vir haar die tyd gebied om dit te leer doen.
Alisia Nel van Kuruman het haar naaldwerkliefde herontdek en maak nou klere vir haar kinders. Ondersoek jou menswees.
Diani van Graan van Bronkhorstspruit hou haar besig met Enneagram en Strength Finder-persoonlikheidstoetse. Luister na potgooie.
Teresa Coetzee van Johannesburg het die toep Pocket Casts op haar foon afgelaai. “Ek luister gereeld na verskillende potgooie. Daar is enigiets onder die son – tot daaglikse meditasieoefeninge van Deepak Chopra.” Doen werk waarvan jy hou.
Joey Burger is ’n onderwyseres van Krugersdorp en sy is baie besig met werkkaarte vir haar graadeentjies. Sy is ook ’n e-tutor by Unisa en benut die tyd om vrae uit te werk. Gaan op ’n virtuele toer. Dit sal jou klaar beter laat voel as jy na mooi kunswerke kan kyk. Besoek https://artsandculture.google. com Reik uit na ander mense. Gebruik Facetime, WhatsApp of ’n toep soos Houseparty om met ’n paar mense tegelykertyd te gesels. Julle kan tot saam braai.
Carla van der Spuy van Hartbeespoort sê dis vir haar ’n heerlike tyd om na vriendinne uit te reik en as ouma deel sy graag video’s van haar twee kleindogters via WhatsApp met haar vriendinne. “Ek reik ook uit na mense wat alleen is. Dis my wens dat elkeen iets doen om die grendeltyd vir ander mense makliker te maak en dus het ek die PDF van een van my boeke, Mens of monster?, gratis uitgedeel. Daar is baie dinge wat ek mis, maar as daar genoeg in jou kop is, sal jy nooit verveeld wees nie. Mens moet maar kreatief dink.” Gaan deur ou foto’s en sorteer albums uit.
Antonette de Waal en haar man, Paul, van Krugersdorp het hul fotoboks uitgehaal en hulle het daardie dag omtrent stories met hul kinders gedeel. “Ons het selfs boodskappe vir die mense op ons foto’s gestuur en sommer saam met hulle gekuier. Ek geniet dit om my mense by die huis te hê. Die lewe is so gejaag en mens leef verby mekaar, maar nou is ons die hele tyd saam. Dis kosbaar.” Oefen binnenshuis sodat jy goedvoelhormone kan afskei.
Belinda Bras-Nel van Vanderbijlpark bied nou aanlyn jogaklasse aan. “Dit hou my gemoed stabiel,” vertel sy. Teresa oefen ook elke dag op haar oefenfiets en sy doen dit selfs saam met ’n virtuele Zwift-oefengemeenskap. Bak of maak iets lekkers en vries kos vir die dae wat jy nie die krag het om in die kombuis te werskaf nie.
Wendy Esterhuizen van Krugersdorp het in hierdie tyd ’n paar kulinêre talente ontdek. “Partykeer sluk ons so aan hierdie lewe dat ons nie meer die lewe proe nie. Die inperking het my weer geleer om die lewe te proe en dit werklik in te neem. Ek het al van kleintyd af daarvan gehou om te bak en brou en hierdie tyd het my weer van daai liefde bewus gemaak. Ek is dankbaar dat ek myself weer kan herontdek en weer aan die klein dingetjies in die lewe kan proe.” Begin om ’n TV-reeks of fliek te kyk wat vir jou ontvlugting sal bied. Lus vir ’n fliekaand saam met vriende? Kry Netflix Party. Pamperlang jouself met ’n mani- of pedikuur of ’n gesigmasker. Herrangskik of organiseer ’n vertrek.
Maryke Roberts van die Strand werk van die huis af, maar tussendeur het sy begin om elke derde dag een vertrek op te kikker. “Ek maak skoon en skuif plante. Ek was beddegoed en los alles vir lank in die sonnetjie.”
Belinda Daniels van Pretoria sê hulle bou en breek omtrent binne en buite die huis. “Ons doen als waarvoor ons nie gewoonlik tyd het nie. Hierdie paar weke is vir ons soos ’n verlengde Desembervakansie.” Volwassenes kan ook inkleur en dis sommer goedkoop en vinnige terapie. Besoek ’n webwerf soos www.justcolor.net om blaaie af te laai om in te kleur. As jy eerder ’n toep wil gebruik, is daar opsies soos Pigment, Colorfy en Recolor. Maak vir jouself ’n visiebord of -muur. Dis ’n droombord wat ’n collage van foto’s, prentjies, woorde en dinge bevat wat jou doelwitte of drome weerspieël. Doen iets wat produktief en terapeuties is soos om jou inboks of die kas wat al jou admindokumente bevat skoon te maak. Leer ’n nuwe taal met die hulp van ’n toep soos DuoLingo. Begin weer oor die toekoms droom en stel nuwe doelwitte.
Vir Linde van Niekerk van Jeffreysbaai, wat ’n reisonderneming besit, is dit gewis ’n uitdagende tyd, maar sy gebruik die tyd om weer nuwe planne en drome te maak. Sy beplan nou al aan toere vir 2021.
Zerelda is ons adjunkredakteur en werk al vir 13 jaar met woorde by Vrouekeur. Sy het joernalistiek studeer, skryf graag kortverhale en gedigte en droom van ’n digbundel én ’n roman – voor sy 80 word.