Soms laat kinders jou ontplof al wil jy nie en al maan jy jouself tot kalmte, hoor die bure jou skree: “Sussieeeeee!” Hoe moet mens dit hanteer?
Deur ZERELDA ESTERHUIZEN
Ons weet kinders gaan grense toets en hulle gaan nou nie net “ja” en “amen” op als wat Ma en Pa sê nie. Dit is ook natuurlik en te verwagte, maar wat as die terugpraat groot probleme ontlok en julle begin vassit en jy sê dinge wat jy nie wou nie? Dis nie altyd maklik om kalm te bly en na Dr Phil in jou kop te luister nie.
Ons het gaan kyk na dit wat mens in ’n konfliksituasie kan sê.
Ekskuus!?
Jou kind het pas vir jou iets gesê wat onaanvaarbaar is. Het jy reg gehoor? Sê hierdie woord sag, maar ferm. Jou kind moet weet die grense is nou oorgesteek en hy of sy betree nou gevaarlike waters.
Jy klink ontsteld en kwaad
Hierdie woorde bevestig jou kind se gevoelens en laat dit klink asof jy empatie met sy situasie het. Dit vat nogal vinnig die “kwaad” weg en laat die kind minder bedreig voel.
Kom ons “rewind” of “pause”
Ja, die kinders ken maar alte goed hierdie woorde en hulle sal dadelik weet wat dit beteken. Dit gee julle albei kans om te dink oor wat besig is om te gebeur en te kyk na wat reeds gebeur het. Die boodskap is hier dat julle in dieselfde span is en dat julle albei moet kalm word.
Haal diep asem
Dit gee jou kans om te dink voor jy praat en gaan jou bietjie rustiger maak voor jy verder gaan. Haal sommer ‘n paar keer diep asem en blaas stadig uit.
Kan jy wat jy sê met meer respek sê?
Hierdie moet gesê word as jy kalm is. Dit gee vir jou kind die boodskap dat dit wat hy of sy gesê het, nie reg is nie en dat die gedrag moet verander sodat julle die gesprek kalm kan hervat.
Kom ons vat ’n blaaskans
As julle albei so kwaad is dat jy al lus is om na ‘n eiland sonder kind of kraai te vertrek, is dit tyd om te sê: Nou los ons hierdie gesprek vir later sodat ons kalm kan word en weer kan praat. Sterkte!
BRON: www.parentingsimply.com