Is jy moeg vir jou lewe en soek ’n blaaskans? Kyk mooi, want daar is dalk iewers klein dingetjies wat jou gelukkig kan maak, sê kenners
Saamgestel deur ZERELDA ESTERHUIZEN
Die liewe is ‘n lied. Sê wie? Ja, daar is tye wat heel lekker is, maar dan is daar tye wanneer jy tandeknersend wonder hoe jy nog ‘n dag gaan maak sonder om iemand aan te rand of jy is sommer net lus om in ‘n fetale posisie op te krul en ure aanmekaar te grens.
Sonja Luyobomirsky skryf in haar boek The How of Happiness dat mense altyd dink aan groot dinge om hul lewe te verander en groot doelwitte stel, maar soms ignoreer jy juis daai klein dinge wat jou lewe positief beïnvloed.
Haar raad is om elke dag op een klein ding te fokus wat vir jou vreugde gebring het. Skryf dit in jou dagboek of joernaal of sit dit op jou kalender sodat jy weer daarna kan gaan kyk.
Wat is dit vir jou? Die reuk van die croissant by jul kafeteria, die geluid van jou man wat vir julle koffie maak, die stilte van kinders wat ophou baklei het?
Klein vreugdes maak saak, skryf Sonja.
Hoe vind jy weer daardie klein vreugdes?
Die webwerf www.beliefnet.org gee die volgende wenke:
- Word stil. Bid of mediteer of dink net oor jou lewe en wat jou pla en wat jou gelukkig maak. Haal diep asem.
- Sit in jou tuin of net iewers in die buitelug. Let op na die klein dingetjies wat mens maklik miskyk. ‘n Mier wat hom dooddra, ‘n voëltjie in die boom.
- Ruim vir jou tjiltyd in. Jy frons dalk nou en wonder waar jy met jou dagboek die tyd gaan kry, maar delegeer takies en sorg dat jy nou en dan net skoene kan uitskop, kan lees of jou gunsteling-TV-reeks kan kyk.
- Maak tyd vir jou vriende. As jy hulle nie kan sien nie, WhatsApp ten minste of stuur ‘n Facebook-boodskap.
- Roetine is belangrik en nodig, maar soms is spontaneïteit die ding om weer vir jou oemf te gee. Doen nou en dan iets anders en prettigs.
- Kikker jouself op. Om iets vir jou voorkoms te doen, al is dit om met ‘n gesigmasker in die bad te lê, doen wondere vir jou gemoed.