Ma, wat kan ons doen? Maak dié vraag jou al gek? Hier’s ʼn paar idees om hulle besig te hou
Deur ZERELDA ESTERHUIZEN
Dis April en dit beteken skoolvakansie en ‘n swetterjoel vakansiedae (ons kla nie!). Dit beteken egter ook kinders wat verveeld by die huis rondsit en ouers wat nie hul kinders heeldag voor die TV en tablet wil sien nie … Hoe hou ‘n mens hulle besig?
Ons kyk na ‘n paar idees:
- Die oulike realiteitsprogram Kokkedoortjie het pas op kykNET begin. Speel Kokkedoortjie in jul kombuis en kry jou kinders om saam met jou maklike resepte uit te probeer. Hulle sal dit ook geniet om koekies te versier. Hou ‘n kompetisie en ken ‘n prys toe.
- Gebruik ou papier om papiervliegtuie mee te bou. Gooi dit nou en kyk wie s’n vlieg die verste.
- Speel speletjies soos mense, name, diere, dorpe. Dis vet pret.
- Vat hulle na ‘n binnenshuise speelplek toe soos dié wat deesdae trampoliene beskikbaar stel.
- Maak ‘n lys van prettige artikels vir die kinders wat hulle binnens- en buitenshuis moet soek. Dit kan wees soos ‘n wurm, ‘n wit klippie, iets roois, ‘n veer in die tuin of iets in die huis soos ‘n strooitjie, ‘n rekkie of ‘n R5-muntstuk.
- Kinders en werk gaan nie hand aan hand nie, maar hulle mag dit dalk geniet om saam met jou iets te plant. Dink aan groente of kruie in ‘n pot.
- Speel saam krieket of rugby buite en geniet die laaste warm dae voor die winter kom.
- Maak ‘n wurmhuisie. As dit gereën het, gaan soek wurms in die tuin. As jy so vyf gevind het, sit hulle in ‘n ou roomysbak met grond binne-in. Onthou om gaatjies in die deksel te maak. Jy kan die wurms groenteskille of eierdoppe voer.
- Wanneer was jy laas by jou plaaslike biblioteek? Gaan ‘n bietjie as gesin daarheen en kyk hoe dit nou lyk.
- Speel ‘n bordspeletjie soos 30 Seconds of Krabbel.
- Of jy nou in ‘n dorp of stad bly, vind ‘n bietjie uit watter plek jy nog nie besoek het nie. Is daar dalk nog iewers ‘n museum? Of wat van ‘n interessante staproete?
- Soek vingerbrei op YouTube, kyk na ‘n “tutorial” en leer jou kinders hoe.
- Koop ‘n rol bruinpapier en laat jou kinders strate daarop teken vir karretjies. Julle kan ook bome en huise daarop verf.
- Maak ʼn “telefoontjie” met twee leë blikkies en ‘n tou.
- ‘n Mens kan baie met papierborde doen. Jy kan ‘n baan daarmee bou en dan moet kinders van een papierbord tot op die ander spring. Julle kan ook maskers daaruit maak.
- Kry die kinders uit die huis uit. Besoek ‘n plaas, natuurreservaat of ‘n park waar hulle buite kan kom en kan speel.
- Sny vorms uit oorskietlap, soos vierkante, driehoeke en sirkels en kry karton en gom reg. Nou kan jou kind prente daarmee maak.
- Knip ‘n inkleurpapier uit en gee vir jou kind ou tydskrifte. Nou kan hy stukkies uitskeur en die prent só versier.
- Gee vir die kinders ou klere en sê hulle en hul maats moet met ‘n opvoering vorendag kom.
- Laat jou kinders ‘n familieboom maak en plak foto’s van jul familielede in die takke.
- Gee vir jou kinders foeliebakke en laat hulle met sand en stukkies sandmateriaal klein tuintjies daarin bou.
- Kan jy brei of hekel? Leer dit vir jou kinders.
- Hou vir ‘n dag of wat plastiekmelkbottels en bokse en vra jou kinders om iets uit die rommel te maak.
- Doen ‘n bietjie navorsing voor die tyd oor die sterre en gaan lê een aand buite en kyk na die hemelruim. Wys die konstellasies vir jou kinders uit.
- ‘n Tent kan ‘n kind vir ure vermaak. Laat jou kinders ‘n tent bou en hou sommer piekniek daarin. ‘n Regte ene buite is ook heerlike pret (mits dit veilig is).
Morsige pret!
- Tradisionele klei Meng 1 k koekmeel, 1 k warm water, 2 t kremetart, 1 t kookolie, ¼ k sout en voedselkleursel van jou keuse saam.
- Gebakte klei Meng 4 k koekmeel, 1 k sout, 1½ k water en 2 t kookolie saam en knie tot glad. Rol uit en druk met koekievorms uit. Sit in ‘n gesmeerde oondpan en bak teen 180 ºC vir ongeveer een uur.
- Silly Putty Meng 2 k wit skoolgom en 1 k vloeibare stysel saam. Laat eenkant droog word en stoor in lugdigte houer.
- Gooey Goop Meng ½ k water en 2 k stysel saam tot glad en voeg voedselkleursel by.
- Lawwe klei Meng 2 k mielieblom met 1 k water totdat dit vloeibaar is. Plaas die mengsel in ‘n pot op lae hitte en voeg 3 k koekmeel by. Meng terwyl jy nog ‘n koppie water stadig byvoeg. Sit die stoof af en wanneer afgekoel, kan jy dit in Ziplock-sakkies verpak.
- Verf Meng 1 k meel met 1 k sout. Voeg 1 k water by en meng tot glad. Verdeel die mengsel in plastieksakkies en drup verskillende kleure voedselkleursel in elke sakkie. Druk tot al die “verf” gemeng is. Voeg nog water by as jy ’n dunner verf verkies. Sny die hoek van elke sakkie af en druk die mengsel in ’n bottel uit.
- Swartbordverf Meng 1 k latekshuisverf of akrielkunsverf met 1 e teëlvoegbry (nie sandsoort nie). Meng totdat daar geen klonte is nie.
- Kunsvlytgom Meng meel en suiker (3:1) in ’n pot op die stoof. Voeg ’n bietjie koue water by om ’n pasta te vorm en meng goed. Sodra die mengsel dik word, kan jy 1 t asyn byvoeg. Laat afkoel.
- Watteverf Gooi verskillende kleure verf in bakkies. ‘n Kolwyntjiepan sal werk. Maak bolletjies watte en sit ‘n wasgoedpennetjie aan elke stukkie watte vas. Verf nou met die watte.
- Spuitverf Meng 6 e mielieblom, 3 k water en 10 druppels voedselkleursel. Gooi dit in ‘n leë, skoon spuitbottel, skud goed en laat jou kind vorms op papier spuit.
- Eetbare verf Gooi ‘n paar druppels voedselkleursel (die helder neonsoort werk goed) by ingedampte melk en verf springmielies daarmee.
BRONNE:
http://premeditatedleftovers.com, http://nurturestore.co.uk, https://brightside.me/