Is jou kind emosioneel gereed vir die jaar en hoe help jy hom of haar aanpas?
Deur ZERELDA ESTERHUIZEN
Nikki Bush, ouerskapskenner in vennootskap met Toy Kingdom Suid-Afrika, sê hierdie tyd van die jaar beteken angsvlakke by ouers en kinders styg.
Die verandering in ‘n kind se gewone omgewing soos ‘n nuwe skool of ‘n nuwe graad is vir kinders ‘n uitdaging en ‘n stresvolle gebeurtenis.
‘n Nuwe onderwyser, nuwe klasmaats en ’n nuwe graad en die onbekende skoolwerk kan hulle angstig maak en angstige kinders beteken dikwels angstige ouers.
“Die truuk is om daardie angstigheid vinnig op te los sodat die kind gou met die nuwe omgewing vertroud kan raak, nuwe maats in die proses maak en by die nuwe roetine aanpas.
“Ons besef dat verandering nie maklik nie, maar as ouers moet ons ook onthou dit stimuleer groei en is voordelig vir ons kinders,” sê Nikki.
Sy stel die volgende strategieë voor:
1. Beweging maak saak
Aktiwiteite wat die hele liggaam betrokke kry, is baie goed vir kinders, volgens Nikki. “Speel vorm ‘n integrale deel om kinders minder angstig te maak. Beweging stel endorfiene vry en help kinders om aan hul angs te werk sonder om eers daaraan te dink. Speel gereeld met jou kinders! Of dit nou wegkruipertjie, sokker, krieket of ander tipe speletjies is – dit help om hulle te ontspan.”
2. Bestee tyd saam
Gesinstyd kan ‘n groot impak op stres hê, sê Nikki. As die hele gesin iets saam doen, sal die ouer-kind-interaksie ‘n kalmerende effek op die kinders hê en help om stres te minimaliseer.
3. Hou die aflaai kalm
Nikki sê as jou kind angstiger is by een ouer as ander, ruil net die aflaairolle en moenie skuldig daaroor voel nie. Ma’s is soms angstiger as pa’s met kinders wat vir die eerste keer skool toe gaan en jou kind kan dit aanvoel. As Pa dus eerder kan aflaai, doen dit, sê Nikki.
Nog raad vir ouers
- Gesels met jou kind oor die aanpassingsproses en verduidelik presies wat gaan gebeur.
- Neem jou kind se vrese ernstig op. Moenie onsimpatiek voorkom nie.
- As jou kind nog klein is, moet jy afskeid neem en nie net wegglip nie. Sê eerlik wanneer hy jou terug kan verwag.
- Hou by roetine en verby klein krisisse in die oggend soos om alles die aand voor die tyd reg te kry.
- Praat positief oor die skool en onderwysers. Vertel jou kind dat almal moet skool toe gaan, maar hy kan besluit of hy dit lekker gaan maak of nie.
Bron: www.toykingdom.co.za