Elke dag kla jou kind dat daar net mooi niks maatjies is wat saam met hom wil speel nie. Dit breek ’n ouerhart, maar gelukkig kan jy help
Saamgestel deur ZERELDA ESTERHUIZEN
Is daar ‘n hartseerder prentjie as ‘n kind wat alleen by die skool sit terwyl kinders om hom speel en gil?
Hoe gemaak as jou kind sukkel om maats te maak?
Cindy Glass, medestigter en direkteur van die Step Up-opvoedingsentrum, sê daar is ‘n aantal redes waarom ‘n kind kan sukkel om positiewe vriendskappe te vorm. Negatiewe gedragskeuses, lae selfbeeld, persoonlikheidsverskille, verskillende geloofstelsels en onbedoelde negatiewe liggaamstaal of stem kan ‘n rol speel. Te veel tegnologie kan ook tot vermyding van sosiale interaksie lei.
Cindy sê negatiewe gedagtes en gedrag kan ook vriendskappe beïnvloed en dit versterk weer lae selfwaarde, wat die negatiewe gedrag in die eerste plek geskep het.
Cindy se wenke om jou kind te help:
- Gesels eerlik en openlik oor wat by die skool gebeur. Emosionele intelligensie of selfregulasie is belangrik hier. Fokus op jou kinders se sterk punte en wat hulle uniek maak en waarvan ander mense sal hou.
- Gesels met die onderwyser om te verstaan wat by die skool en met sosiale interaksies gebeur.
- Vriendskappe kan nie gedwing word nie. Leer jou kinders om op hul keuses te fokus en nie op ander s’n nie.
- Mense geniet die geselskap van positiewe, gelukkige mense. Leer jou kinders hoe lekker dit is om ander mense op te lig. Dit sal jou kind se energie verander.
- Leer jou kinders sosiale vaardighede en emosionele intelligensie.
- Wees die voorbeeld van hoe om ‘n goeie vriend te wees en om ander mense positief te behandel.
Nog wenke
- Vra gerus die onderwyser van ‘n lysie van maats wat jy dalk vir ‘n speeldag by die huis kan oornooi.
- Kyk ook na klasse of groepe waarby jou kind kan aansluit, wat dalk tot meer maats kan lei.
- Verduidelik vir jou kind wat ‘n mens in ‘n maat moet soek.
- Gesels oor lyftaal en wat jou kind vir ‘n maatjie kan sê om ‘n gesprek aan te knoop.
Besoek www.stepuped.co.za