Alle kinders gaan deur ’n stadium wat hulle ‘skoolsiek’ is, maar hoe weet jy of daar werklik ’n probleem is? vra Lindi Herbst
Jy onthou dalk nog hoe jy voorgegee het jy het maagpyn om daardie verskriklike wiskundetoets te mis. Of hoe jy gekla het dat jou keel is seer sodat jy nie aan atletiekproewe hoef deel te neem nie. Nou doen jou kind dit.
Dis normaal dat kinders soms nie skool toe wil gaan nie. As dit egter gereeld gebeur, moet jy die rede soek. Daar mag dalk onderliggende probleme by die skool wees wat veroorsaak dat hy met alle mag nie skool toe wil gaan nie.
Truida Botha, opvoedkundige sielkundige van Johannesburg, meen daar is verskeie redes hoekom kinders nie wil skool toe gaan nie. “Jou kind mag dalk sosiale probleme ondervind, soos maatjies wat nie met hom wil speel nie of ’n boelie wat hom daagliks aftakel,” meen sy.
Dit kan ook wees dat jou kind ’n leerprobleem het. “Dit beïnvloed ’n kind se selfvertroue, waagmoed, deursettingsvermoë en selfbeeld. Leerders is gewoonlik bewus van die maats in hul klas wat sukkel en dis moontlik dat sulke kinders deur die onderwyser en medeleerders geëtiketteer word, wat weer ’n slegte invloed op hul selfbeeld mag hê en gevoelens van hulpeloosheid en angs versterk,” sê sy.
Marguerite Theron, ’n voorligtingsielkundige van Randburg, stem saam. “Kinders met leerprobleme voel maklik ‘nie goed genoeg nie’. Ander kinders kan hulle selfs terg en sê hulle is dom en weier om groepsprojekte saam met hulle te doen,” meen sy. “Party onderwysers gebruik ’n kompetisiestelsel waar kinders presies weet hoe goed of sleg die ander kinders doen.”
Hoewel die kompetisiestelsel werk vir kinders wat uitblink of diegene wat kompetisie geniet, het dit gewoonlik die teenoorgestelde uitwerking op kinders met leerprobleme. “Hulle voel soos die ‘domste kinders in die klas’ en baie gee moed op. Kinders met leerprobleme het nodig om te weet wat hulle kan doen om ‘slimmer’ te voel,” verduidelik sy. Sy meen ’n kombinasie van arbeidsterapie, spraakterapie en remediërende onderrig mag nodig wees. Dis belangrik om vir jou kind hulp te kry as dit nodig is.”
Onderwysers is veronderstel om altyd leerders se beste belange op die hart te dra, maar tog mag dit gebeur dat daar konflik tussen jou kind en ’n onderwyser is. “Dit kan tot onderprestasie, gevoelens van angs en hulpeloosheid en ander emosionele faktore soos onttrekking en depressie lei,” verduidelik Truida.
Tog is dit nie altyd iets wat by die skool gebeur het wat veroorsaak dat jou kind nie skool toe wil gaan nie. Trauma kan ook probleme veroorsaak. “As jou kind enigsins aan trauma blootgestel is (gewapende roof, kaping, ouers se egskeiding, dood van ’n maat, familielid of troeteldier, verhuising) kan dit tot emosionele onsekerheid en gevoelens van angs en/of depressie aanleiding gee,” meen sy. “Dit gebeur soms dat hierdie kinders dan nie graag skool toe wil gaan nie. As kinders emosionele probleme ervaar, het dit ’n uitwerking op hul konsentrasievermoë, slaap- en eetpatrone, sowel as hul algemene funksionering.”
Marguerite stel voor dat jy as ouer eers die redes ondersoek hoekom jou kind nie skool toe wil gaan nie deur vir ’n patroon te soek. “Kyk byvoorbeeld watter dag van die week die angs die ergste is? As dit elke Maandag is, is hy dalk bloot moeg omdat sy slaappatrone oor die naweek versteur is,” verduidelik sy.
Sy sê kinders van geskeide ouers toon ook dikwels emosionele reaksies op Sondagaande en Maandagoggende omdat hulle met die aanpassing van verskillende roetines by verskillende ouers sukkel. “As hulle by hul pa was en geen tyd saam met hul ma deurgebring het nie, wil hulle partykeer net meer tyd saam met hul ma hê,” sê sy.
Sy gee die volgende as moontlike redes hoekom jou kind weier om skool toe te gaan:
Deelname aan sport
Partykeer wil hulle nie skool toe gaan nie omdat dit die dae is wat hulle ’n spesifieke skoolsport het. Hulle presteer dalk nie goed in sport nie of die afrigter is te kwaai. ’n Ander rede kan wees oor die uit- en aantrek van klere voor ander kinders. Kinders ontwikkel verskillend en is geneig om mekaar te terg as een kind of vroeg of laat ontwikkel. Meisies kan mekaar selfs oor hul onderklere terg, veral as een nog nie ’n bra dra nie en die ander wel.
Toetse en take
Dis belangrik dat ouers weet hoe lyk die toets- en huiswerkskedule. Hoe meer kinders by die huis bly, hoe meer raak hulle agter met die skoolwerk en hoe meer styg angsvlakke. Hulle is ook dan gereeld in die moeilikheid by die skool en dit veroorsaak ’n patroon waar hulle “siek word van angs”. As daar nie ’n patroon is ten opsigte van watter dae die angs hoog is nie, kan die redes moontlik leerprobleme, konflik met onderwysers of klasmaats wees.
Konflik met maats
Die meeste kinders ervaar elke nou en dan konflik by die skool. Dis belangrik as ouer om na al die stories te luister en vir die kind te vra hoe hy die konflik hanteer. Dis ’n goeie idee om nie oorhaastig in te spring en dit vir die kind te probeer oplos nie. Die meeste konflik gaan gou verby en volgende week is hulle weer maats. As die patroon voortduur en daar is geweld of emosionele aftakeling, is dit nodig om die skool te nader. Maak seker die skool het ’n “antiboeliebeleid” en vind uit wat die prosedure is wat gevolg word. Moenie die ander kind konfronteer nie. Laat die skool dit doen.
HANTEER DIT SO:
Truida gee raad as jou kind die volgende probleme ervaar:
Sosiale probleme
Wanneer jou kind jou daarvan bewus maak, is dit noodsaaklik om dit by die skool aan te meld. Gesels met die klasonderwyser of departementshoof. Jou kind mag dalk op emosionele vlak by korttermynterapie baat. Hierdie terapie sal daarop gefokus wees om jou kind se selfbeeld te versterk en sosiale vaardighede aan te leer om konfliksituasies te hanteer. Kontak die skool of jou huisdokter vir ’n verwysing na ’n opvoedkundige sielkundige of spelterapeut.
Leerprobleme
Gesels met jou kind se onderwyser en vind uit waar die moontlike probleemareas is. As jou kind oor die algemeen met lees, begrip, spelling, konsentrasie, korttermyn- en langtermyngeheue en/of taakvoltooiing en deursettingsvermoë sukkel, word daar sterk aanbeveel dat professionele hulp ingeroep word. Die eerste stap in hierdie proses is gewoonlik ’n volledige assessering wat deur ’n opvoedkundige sielkundige gedoen word. Hierdie assessering is op alle aspekte van leer en ontwikkeling gefokus (intellektuele, perseptuele, skolastiese en emosionele funksionering) en is daarop gemik om potensiële sterk punte en uitdagings uit te wys.
Konflik met ’n onderwyser
As ouer bevind ’n mens jouself in ’n baie moeilike posisie wat hierdie dilemma betref. Maak ’n afspraak met die betrokke onderwyser om jou besorgdheid uit te spreek. As die situasie nie verbeter nie, moet ’n afspraak met die hoof gemaak word om die saak uit te klaar. Marguerite se raad is om vir ’n maand of twee te luister na wat jou kind sê en notas te neem. Probeer verstaan wat jou kind doen of nie doen nie wat die onderwyser se gedrag kan beïnvloed. As jy goed luister, kan jy dalk jou kind help om anders op te tree. Dit beteken nie jou kind is verkeerd nie, maar bloot net dat hy nie weet hoe om die onderwyser se gedrag te hanteer nie. Daar is partykeer net ’n botsing van persoonlikhede tussen die kind en die spesifieke onderwyser. As die patroon volhou en daar is geweld of emosionele aftakeling, is dit noodsaaklik om die skool te nader.
Trauma en emosionele probleme
Dit is belangrik om die spesifieke situasie te assesseer en dan te besluit wat gedoen moet word. Moenie jou kind dwing om skool toe te gaan as daar byvoorbeeld die vorige nag by jul huis ingebreek is nie. Vra jou kind wat hy verkies en stel die skool in kennis. Raadpleeg ’n professionele persoon, soos ’n traumaberader of sielkundige, om te help. Hou ook die skool op hoogte van sake sodat die onderwysers van hul kant af ook begrip vir die situasie sal hê en die nodige ondersteuning aan jou kind kan bied.