Is dit makliker om ‘n tiener te kry om vir ‘n toets te leer as om die skottelgoed te was? Geen mens weet nie, maar hier is wenke wat dalk kan help met die skottelgoed …
Deur ZERELDA ESTERHUIZEN
Jy wens jou kinders was flukser in die huis, maar dis behoorlik ‘n gekners van tande om hulle sover te kry om hul kamer skoon te maak en die woord “skottelgoed” is vir hulle gelykstaande aan eindeksamen.
Kom ons wees maar eerlik, huisskoonmaak is nou nie juis een van die opwindendste en lekkerste dinge wat ‘n mens kan doen nie en jy kan kinders nou nie juis verkwalik dat hulle nie opgewonde daaroor raak nie. Dit moet egter gedoen word.
Hier is wenke om hulle sover te kry om te help:
Gebruik ‘n beloningstelsel
Ja, kinders moet weet daar is sekere dinge waarvoor hulle net nie beloon gaan word nie. Hul kamers wat netjies moet wees, is een geval, maar as jy wil hê dat kinders verantwoordlikheid moet neem vir hul takies, noem die woord “sakgeld”. ‘n Kaart waarop elke kind se naam en takies neergeskryf staan werk goed. Dit moet regverdig verdeel word anders is daar weer sibbekonflik. Merk hul take daagliks af. Belonings kan wissel van ekstra skermtyd, kuiers saam met maats of sakgeld.
Moenie takies as straf gebruik nie
As jou kind stout was, moet liewer nie takies as straf gebruik nie, want dan sien hulle hierdie take altyd as straf in plaas van iets wat net gedoen moet word.
Kry ‘n spesifieke tyd
Dis goed as al die kinders op een slag hul takies in die huis moet verrig sodat die een nie voel hy loop iets mis nie. As jy nou ‘n kind wil dikbek sien, moet hy die vullissak uitvat terwyl Sus voor die TV ontspan. As almal al hul takies tegelykertyd verrig, behoort daar een struweling minder vir die dag te wees.
Kry ‘n struktuur wat werk
Kry ‘n spesifieke tyd wanneer takies verrig moet word. Dit kan dalk in die middag ná huiswerk wees voor enigiets anders gedoen word. Hulle moet weet dat as hulle iets verveligs nou doen, iets lekkers later wag.
Laat kinders met hulself meeding
Motiveer jou kind om takies vinniger gedoen te kry met woorde soos: “Kom ons kyk of jy jou kamer in tien minute kan skoonmaak.” Jy kan dalk ook sê as jy jou take in 15 minute kan voltooi, kan jy vanaand 15 minute langer TV kyk. Moet eerder nie jou kinders teen mekaar laat meeding met take nie, dit moedig sibbe-mededinging aan en laat hulle vir jou aandag meeding. Dit kan net konflik veroorsaak.
Hou gesinsvergaderings
As jou kinders nie hul deel doen nie, hou ‘n gesinsvergadering en bespreek dit en ook die gevolge daarvan. Gesels met jou kinders oor wat hulle van hul takies pla en waarom dit moeite is en wat hulle dink die gevolge van hul dade moet wees.
Onthou jou kind se ouderdom
Takies wat nie ouderdomstoepaslik is nie, maak nie sin nie.
Hier is riglyne wat kan help:
4 en 5 jaar oud: Sorteer kouse, dek die tafel, bêre speelgoed.
6 en 7 jaar oud: Gee die diere kos, pak die skottelgoedwasser uit, maak bed op.
8 en 9 jaar oud: Dek die tafel, laai die skottelgoedwasser, maak die badkamer skoon, was die hond.
10 en 11 jaar oud: Bêre inkopies, vou wasgoed op, vat die vullissak uit, pak en sit die skottelgoedwasser aan.
12 en 13 jaar oud: Maak eenvoudige maaltye, maak die badkamer skoon, sny die gras
Hou dit interessant
Jy kan dalk kaartjies maak met takies op wat kinders kan trek of jy kan die takies tussen die kinders roteer. As jou kinders tegnologiebewus is, kry ‘n toep wat die takies uitdeel en selfs punte gee.
Wees realisties
Onthou dat dit net kinders is wat jou in die huis help. Hulle is nie perfek nie en hulle kan foute maak. Pasop vir te hoë standaarde wat die lewe vir almal ondraaglik maak. Sê dankie vir jou kinders se hulp en prys hulle.
BRONNE: www.empoweringparents.com, www.webmd.com