Ouerskap is ʼn avontuur en ʼn kreatiewe uitdaging. Dit vereis liefde, sekuriteit en dissipline. Nie alle ouers slaag in die opvoeding van hulle kinders nie. Is jy ʼn oorbeskermende ouer?
Een van die foute wat ouers soms maak, is om hul kinders te oorbeskerm. Dit het talle negatiewe gevolge. Is jy ʼn oorbeskermende ouer? Beantwoord die onderstaande vraelys om uit te vind:
- Wil jy gedurig weet waar jou kind is?
- Is jy beangs dat jou kind iets mag oorkom?
- Sukkel jy om jou kinders toe te laat om foute te maak?
- Wil jy jou kind ten alle koste beskerm teen seerkry en teleurstelling?
- Steek jy slegte nuus soos die dood van ʼn familielid vir jou kind weg?
- Neem jy alle besluite namens jou kind?
- Verskaf jy oplossings vir alle probleme wat jou kind ondervind?
- Neem jy alle verantwoordelikheid uit jou kind se hande?
- Sukkel jy om jou kind toe te laat om nuwe dinge te probeer?
- Draai jy jou kind in watte toe?
- Sukkel jy om te laat gaan as dit by jou kind kom?
- Is jou kind angsbevange om nuwe dinge te probeer?
- Sukkel jou kind om verantwoordelikheid te aanvaar?
- Sukkel jou kind om onafhanklik besluite te neem?
- Sukkel jou kind om van jou rokspante los te kom?
- Sukkel jou kind om situasies op te som?
- Is jou kind emosioneel onvolwasse vir sy of haar ouderdom?
- Het jou kind ʼn gebrek aan selfvertroue?
- Sukkel jou kind met selfgelding?
- Is jou kind ʼn teiken vir boelies?
- Het jou kind gebrekkige sosiale vaardighede?
Indien jou antwoord op bogenoemde vrae meestal “ja” is, is jy moontlik ʼn oorbeskermende ouer. Oppas, dit kan skade doen! Leer om te laat gaan. As jy sukkel of deur angs oorweldig word, oorweeg professionele hulp. Onthou jy het een kans om jou kind te vorm. Hul toekoms hang daarvan af. Moenie dit opmors nie!