Jy is seker jou engelkind gaan eendag of in die tronk of as ʼn advokaat in die hooggeregshof eindig, want hy het ʼn opinie oor net mooi alles en moet altyd oor alles debatteer. Wat maak ʼn ouer in so ʼn situasie?
Deur ZERELDA ESTERHUIZEN
Kyk, jy het meer as hare op jou tande nodig vir so ʼn kind. Jy weet dit, want als is ʼn gestryery … Of jy nou vra of huiswerk al gedoen is, tande al geborsel is en of hierdie dierbare kindjie dalk wil saamgaan winkel toe? Als is ʼn gesukkel en ʼn gestry.
Jy weet jou kind het houding en hope daarvan. Hoewel jy sy of haar durf waardeer en leierseienskappe raaksien, is jy nie lus vir ʼn gestry die heeldag nie. Maar hoe tem jy hierdie kind van jou sonder om sy of haar wil (en moed) te breek?
Hier is ʼn paar wenke:
1 Behou perspektief
As jy ʼn stryerige kind het, herinner jouself dat dit ʼn persoonlikheidskenmerk is en dat jou kind ook baie positiewe eienskappe het. Monica Swanson, ʼn ouerskapblogger, skryf dit is belangrik om te besef dat daardie aspek van jou kind se menswees ook voordele vir sy toekoms kan inhou soos die ontwikkeling van sterk leierseienskappe.
2 Praat daaroor
Praat met jou kind oor die kwessie en laat hom of haar verstaan dat dit nie aanvaarbaar is om die heeltyd met ouers te stry nie. Vertel hoe belangrik respek in jul verhouding is. Laat jou kind verstaan dat daar ruimte is om kwessies te bespreek, maar alles hoef nie in ʼn debat te ontaard nie.
3 Gebruik ʼn appèl-reël
Bied jou kind die kans aan om te appelleer. ʼn Appèl sal help om die “gewoonte” van ʼn stryery te verander en dit sal dit vir jou kind makliker maak om op sy tong te byt as hy jou wil uitdaag. Gee jou kind die kans om dinge te oordink, gaan sit en luister na die redenasie. Kinders moet gehoor word en sal sien dat jy regverdige kanse gee.
4 Stel duidelike grense en gevolge in
ʼn Gewoonte-bakleier gaan nie so maklik ophou nie. Verwag dit en wees gereed wanneer die gestry begin. As jou kind jou uitdaag sonder ʼn rede, herinner hom aan die gevolge en gee ‘n waarskuwing. As hy of sy steeds nie luister nie, moet die gevolg ingestel word soos ʼn ekstra takie wat in die huis gedoen word of ʼn voorreg wat weggeneem word, soos geen tablettyd vir die week nie. Dit moet egter elke keer gedoen word anders gaan jou kind nooit stop met die aanhoudende stryery nie.
5 Beloon gehoorsaamheid
Monica sê ouers moet die positiewe dinge wat hul kinders doen erken. Vertel jou kind jy waardeer dit as hy of sy jou help en hoe jy dit waardeer as almal saamwerk.
6 Gee duidelike huisreëls
Jou kind moet weet dat daar sekere dinge is wat ononderhandelbaar is, sê dr Edward Christophersen, die medeskrywer van die boek Parenting that Works. Dit is dinge soos veiligheid en daaglikse roetine, en dis veral belangrik vir kleiner kinders. Reëls soos om Mamma se hand vas te hou en nie in die winkel rond te hardloop nie, daaglikse roetine soos n sekere eet- en TV-tyd. As jou klein kind probeer om daaroor te stry, sê net ferm nee. Bv: “Dit is nou badtyd.” Sit die TV af en vat sy hand.
7 Maak dit persoonlik
‘n Kalm, direkte benadering sal help om konflik te vermy. In plaas daarvan om te skree “dis slaaptyd”, gaan na jou kind se kamer en sê dieselfde ding saggies maar ferm.
8 Wys vir jou kind hoe dinge gedoen word
Edward sê ouers is kinders se beste voorbeeld as dit kom by konflikoplossing. Hoe hanteer jy konflik en wat sê jy voor jou kinders van ander mense? Vermy ‘n geskree en ʼn gestry voor jou kinders.