Volwasse kinders wat by hul ouers bly, is nie ongewoon nie. Daar is egter gevalle waar dit ʼn probleem kan raak.
Sommige kinders maak misbruik van hul ouers. Hulle is emosioneel en finansieel oorafhanklik van hul ouers. Hulle maak selfs gebruik van manipulasie om hul sin te kry. Val jou kind of kinders in die kategorie? Beantwoord die onderstaande vraelys om uit te vind of jou kinders oorafhanklik is van jou:
- Wil jou kind altyd sy sin hê?
- Is jou kind werkloos en geldelik afhanklik van jou?
- Laat jou kind jou skuldig voel as hy nie sy sin kry nie?
- Vra jou kind gedurig vir geld?
- Sukkel jou kind om op sy eie besluite te neem?
- Sukkel jou kind om probleme op sy eie op te los?
- Woon jou kind gratis by jou?
- Sukkel jou kind om in homself te glo?
- Is daar ʼn gebrek aan grense in jul verhouding?
- Sukkel julle om openlik oor die situasie te kommunikeer?
- Het jou kind emosionele probleme?
- Is jou kind van alkohol of dwelms afhanklik?
Indien jou antwoord op bg. vrae meesal “ja” is, is dit tyd om eerlik te raak. Kyk die probleem in die oë. Besluit om die eerste tree te gee en ʼn verandering te maak. Kry professionele hulp as dit nodig is.