Dit voel asof julle nooit meer gesels nie. Hy’s altyd met sy tablet besig en as jy jou weer kom kry, is jy op Facebook. Vernietig tegnologie jul verhouding?
Deur ZERELDA ESTERHUIZEN
Tegnologie en veral sosiale media het ons lewe verander. Dit is vandag baie makliker om kontak met vriende en familie te behou al bly hulle duisende kilometer van jou af. Maar al is daar ‘n swetterjoel voordele daaraan verbonde, kan ‘n mens nie die nadele daarvan miskyk nie.
Selfone wat tydens etenstyd lui, gesinslede wat Facebook terwyl hulle eintlik moet gesels, e-posse wat in die bed beantwoord word.
Daar is al baie geskryf oor die gevare van kuberverslawing. Mense wat net nie genoeg van die internet kan kry nie. Dit lei tot sosiale isolasie, sê dr Alex Lickerman, skrywer van verskeie selfhelpboeke, en kan veral jou verhouding met jou geliefde negatief beïnvloed.
‘n Nielsen-opname in 2014 toon dat die gemiddelde Amerikaner elf uur per dag op sosiale media deurbring en meer as die helfte van daardie tyd word aan ‘n slimfoon of tablet afgestaan.
Die www.marriagecounselingblog.com sê dis vandag niks vreemds om paartjies by ‘n restaurant te sien sit elkeen doenig met sy of haar foon nie. Jy bou nie ‘n verhouding as julle langs mekaar op die bank sit, maar elkeen is op sy eie toestel besig nie. Paartjies raak afgestomp en onbewus van wat om hulle aangaan. Hulle begin later net oor beuselagtighede praat en voer geen intieme gesprekke nie.
Kan ‘n mens iets daaraan doen?
Ja, sê kenners.
- Voer ‘n openhartige gesprek met jou geliefde oor tegnologie en sê vir hom of haar dat jy voel dat tegnologie met jul verhouding inmeng.
- Stel toestelvrye reëls in, soos etes om ‘n tafel sonder tegnologie.
- Skeduleer tyd met jou maat. Probeer om minstens 15 minute elke dag regtig te gesels.
- Hou gereelde afspraakaande waar tegnologie taboe is.
- Moenie met jou selfoon bed toe gaan nie. Sorg dat julle in die bed regtig net afskakel en rus sonder enige afleidings.
- As jy dink dat jy verslaaf is, wend daadwerklike pogings aan om die internet te vermy en kry professionele hulp indien nodig.
BRONNE: www.marriagecounselingblog.com, www.focusonthefamily.ca, www.marriagetoday.com