Om weer kind te word, is iets wat binne almal se bereik is. Dis die vermoë om as grootmens te speek, jouself te koester en goed vir jouself te wees.
Dit beteken om jou innerlike kritikus af te skakel. Is jy oorkrities op jouself? Beantwoord die onderstaande vraelys om uit te vind:
- Vind jy fout met alles wat jy doen?
- Is jy oorbewus van jou tekortkominge?
- Breek jy jouself gedurig af met kritiek?
- Is jy bang vir mislukking?
- Sukkel jy om komplimente met grasie te ontvang?
- Sukkel jy om erkenning aan jouself te gee?
- Glo jy dat jy tot niks goed in staat is nie?
- Sukkel jy om te laat gaan en net te wees?
- Sukkel jy om spontaan uiting te gee aan jou gevoelens?
- Is jy bang en oorsensitief vir kritiek?
- Sukkel jy om te ontspan en jouself te wees?
- Wil jy gedurig mense beïndruk?
- Is jy ingestel op prestasie?
- Is jy afhanklik van ander mense se goedkeuring?
As jou antwoord op bogenoemde vrae meestal “ja” is, is jy moontlik oorkrities op jouself. Gee jouself ʼn kans. Wees goed vir jouself. Jy het een lewe. Maak die beste daarvan. Onthou jou gedagtes en jou woorde bepaal tot ʼn groot mate jou teenspoed en jou voorspoed. Begin positief praat en jouself aanmoedig. Gee erkenning aan die kind in jou. Leer weer om te speel. Leef asof vandag jou laaste dag is. Dit beteken om die lewe voluit aan te gryp met alles in jou, ook die kind in jou. Wees vasberade om te verander. Begin deur lief te word vir wie jy is. Wees jou eie beste vriend. Die bal is in jou hande. Mik vir die doelpaal …