Egpare laat mekaar soms in die steek en om te vergewe, is noodsaaklik vir ’n lang huwelik. Maar is dit altyd moontlik om te vergewe? Is daar ’n geheim aan vergifnis?
“Daar is niks wat in ’n verhouding kan gebeur – nie ’n affair, leuens, geweld – wat nie vergewe kan word of nie herstelbaar is nie en geen verhouding is perfek nie,” sê Kobus van der Merwe, huweliksberader. “Niemand bly dekades lank getroud omdat hulle nooit foute maak nie. As mense dink die herstel nadat een party te na gekom is, is om uit te vind wie skuldig en onskuldig en wat reg en wat verkeerd is en iemand moet om verskoning vra vir wat sy of hy verkeerd gedoen het, beteken dit hulle glo vergifnis is om van ‘verkeerd’ na ‘reg’ te beweeg, van ‘skuldig’ na ‘jammer’. Deel daarvan is waar, maar dis nie die herstel nie.
“Die ‘pyn’ lê nie in die oortreding nie, dit lê in konneksie – of diskonneksie. Die probleem is nie dat daar vir jou gejok is nie, maar dat jou maat nie in kontak is met jou nie. Dit is, in die geval van ’n affair, seer as jou maat sy seksuele en emosionele aandag wegneem na ’n ander persoon toe, maar die pyn lê nie by ‘ons’ nie; dis lê in diskonneksie.
“As jy doeltreffend met vergifnis wil werk, is dit nie om ’n fout reg te maak nie, maar om die konneksie te herstel. As jou warmte of aandag of seksuele energie of emosionele energie op ’n ander plek is as by jou lewensmaat, moet julle kies om dit terug te bring na mekaar toe.”