Irrasionele denke is ʼn groot oorsaak dat ʼn gewone krisis as ʼn katastrofe ervaar word. Sukkel jy tydens ʼn krisis om rasioneel te dink?
Volgens Jorgan Harris, ‘n kliniese sielkundige, is volgende voorbeelde van irrasionele denke:
- Vergroting en verkleining Dit word die “verkyker-truuk” genoem. Dit beteken om gebeure buite verhouding op te blaas en te vergroot of om dit te minimaliseer en te verklein.
- Alles-of-niks-denke Om alles as swart of wit te sien. Daar is geen ruimte vir grys gebiede nie. M.a.w. as jy nie 100% ʼn sukses is nie, is jy 100% ʼn mislukking.
- Fortuinvertelfout Jy glo jy kan die toekoms sien en alles gaan negatief wees.
- Gedagtelees Jy glo jy weet wat ander van jou dink.
- Emosionele redenering Jy beskou jou negatiewe emosies as die waarheid en bewys van ʼn saak.
- Oorveralgemening Jy glo dat een negatiewe gebeurtenis die voorspel is tot ʼn reeks ongelukkige gebeure.
- Etikettering Jy hang ʼn negatiewe etiket om jou eie en ander se nekke.
- Moets en moenies Dit behels dat jy onrealistiese verwagtinge aan jouself stel. Jy moes of moes nie dit of dat gedoen het nie en voel dan skuldig.
- Verstandelike filter Jy kies een negatiewe element en kleur die hele prentjie daarmee in.
- Verontagsaming van die positiewe Jy ignoreer die positiewe in enige situasie absoluut.
- Lae frustrasietoleransie Jy glo nie dat jy swaar kan verduur nie.
- Verpersoonliking Jy glo jy is alleen verantwoordelik vir alles wat skeefloop.
Spreek hierdie denke aan ten einde beheer oor jou situasie te kry.