Fidget spinners is die nuwe speelgoedgier, maar het die speelding regtig enige waarde vir ons kinders?
Deur ZERELDA ESTERHUIZEN
As jy ‘n kind in die laerskool het, het jy tien teen een die volgende woorde al gehoor: “Mamma, koop asseblief vir my ‘n fidget spinner. Almal het een!”
En jou kind is tien teen een nie verkeerd nie, want die goed verkoop soos soetkoek. Fidget spinners is al sedert 17 Mei een van die toptienspeelgoed op www.amazon.com.
Daar is skole wat dit al verbied omdat kinders selfs in klastyd daarmee speel, maar daar is ook mense wat glo dis baie goed vir kinders wat aan angstigheid of aandagafleibaarheid ly.
‘n Navorsingsgroep onder leiding van prof Katherine Isbister, professor aan die Universiteit van Kalifornië, wat vroetelry ondersoek het, het mense gevra waarmee hulle graag vroetel en hoekom.
Sy skryf op die webwerf www.theconversation.com dat goed soos skuifspelde, geheuestokkies, kleeflint, oorstokkies en penne gebruik is. Volgens die respondente het dit hulle gehelp om beter te fokus as hulle met iets kon speel. Hulle kon beter tydens ‘n lang taak of vergadering aandag gee en dit is ook as kalmerend gesien.
Hoewel daar nog nie ‘n definitiewe studie oor die impak van fidget spinners was nie, het een studie na die gebruik van stresballe onder kinders gekyk. Die kinders se houding, aandag, skryfvermoë en interaksie met maats het daardeur verbeter.
Navorsing deur prof Julie Schweitser, wat kinders met AGHS ingesluit het, het gevind dat beweging dié kinders help om ‘n kognitiewe uitdagende taak te voltooi.
Daar is egter kenners wat glo dat ‘n fidget spinner eerder kinders se aandag sal aflei as wat dit hulle sal help om beter op ‘n taak te konsentreer.
Mark Rapport, ‘n kliniese sielkundige aan die Universiteit van Sentraal-Florida, sê fidget spinners sal eerder AGHS-lyers se aandag aflei as wat dit vir hulle voordelig sal wees.
Volgens Mark vereis fidget spinners geen motoriese vaardighede nie en dit is juis dié vaardighede wat verantwoordelik vir aktiwiteit in die frontale en prefrontale breinareas is, wat vir fokus belangrik is.
Wietske Boon is ‘n spelterapeut in Pretoria. Sy sê vroetelobjekte behoort meer sensoriese stimulasie te voorsien om nuttig vir kinders met spesifieke sensoriese behoeftes te wees.
“Omdat elke kind se behoefte aan sensoriese stimulasie verskil, verskil die doeltreffendheid van ‘n spesifieke vroetelobjek van kind tot kind. Vroetelobjekte – wanneer korrek aangewend word – is bloot ‘n hulpmiddel vir onder meer sensoriese behoeftes en konsentrasieprobleme. Bogenoemde behoort ook deur middel van ander terapeutiese tegnieke hanteer te word.”
Wietske sê fidget spinners kan baie maklik kinders se aandag van aktiwiteite en leergeleenthede aflei.
“Wanneer aktiwiteite en leergeleenthede agterweë bly, lei dit natuurlik tot ander negatiewe emosies en gevolge. Indien dit die geval is, behoort die spinners liefs tuis bly en as speelgoed aangewend word.”
Theresa van den Berg , ‘n opvoedkundige sielkundige, van Pretoria sê ‘n mens se sintuiglike waarneming speel ‘n rol in hoe jy fokus. “Sommige van ons werk goed in stilte en ander hou weer van musiek op die agtergrond. Party mense het nodig om te beweeg en is dus meer kinesteties op hul omgewing ingestel terwyl ander vir ure kan stilsit en fokus. Kinestetiese mense het ook nodig om te vat en te voel en dit is gewoonlik dié kinders wat in ‘n skool leer deur self eksperimente te doen. Hulle hou van onderrigtegnieke waar daar aksie en beweging is en hulle hou daarvan om te ondersoek en te ontdek. Sulke kinders het gewoonlik behoefte aan tas en beweging en geniet sport en dans.
“Daar word aangevoer dat fidget spinners sulke kinestetiese en AGHS-leerders beter laat fokus, maar vir my lê die vraag daarin of fidget spinners regtig vergelyk kan word met voorwerpe soos klein stresballetjies, ‘n stukkie wondergom of sagte uitveër wat gedruk word? Dit gee die brein die gevoel van beweging waarna die kinestetiese persoon soek. Is ‘n fidget spinner nie eerder ‘n speelding wat gedraai, gespin en getol word en waarmee verskillende speletjies en tegnieke uitgedink en ontdek kan word nie?”
Theresa sê vir ‘n hiperaktiewe kinestetiese leerder wat heeltyd wil rondbeweeg en die klas se aandag aflei, kan ‘n stukkie klei of wondergom in die hand help om die fokus van sy gedurige beweging af te lei en hy kan so onbewustelik fokus op wat in die klas gesê word.
“n Fidget spinner is waarskynlik eerder ‘n speelding en nuwe speletjies kan dalk saam met maats uitgedink word. ‘n Fidget spinner kan selfs eerder gebruik word om bewustelik mee te speel en juis rustig te raak en op die spinbeweging te fokus, maar dan is jou aandag gefokus op die beweging en die rustigheid en word dit nie as hulpmiddel gebruik nie.”
Die gevare
Die Amerikaanse produkveiligheidskommissie het ‘n waarskuwing uitgereik aan ouers om die spinners van klein kinders weg te hou en ook ouer kinders te ontmoedig om dit in hul mond te sit. Daar is dele wat volgens hulle ‘n gevaar kan inhou.
Wat se ouers?
Je’Maine van Kradenburg, Weltevredenpark: My kinders wou dadelik een hê, maar die belangstelling het nie lank gehou nie. Dit lê klaar weer vergete.
Gerry Esterhuizen, Krugersdorp: Ek het een oggend vir my kinders elk een gaan koop en die heeltyd met een in die hand by die werk gesit en speel. Dis ‘n oulike speelding, maar ek twyfel of dit werklik enige voordele vir kinders het.
Monja van Vuuren, Durbanville: Ek sien dit eerder as iets wat my kinders se aandag van takies aflei as wat dit hulle help om aandag aan takies te gee.
Wietske Boon: www.childtherapist.co.za, www.facebook.com/WietskeBoonPlayTherapy
Theresa van den Berg: 012 346 0790, www.theresas.co.za, www.ilike2study.com
Nog bronne: www.livescience.com, www.thedonversation.com