Tye het verander en ons weet dat elkeen vandag sy deel in die huis moet doen. Studies toon egter toenemend hoe belangrik dit vir Pappa is om fluks in die huis te wees
Deur ZERELDA ESTERHUIZEN
As jy moeg in die aand by die huis kom, is dit tyd vir die kinders se huiswerk terwyl jy huis skoonmaak en kosmaak. Teen die tyd wat die vader van die huis sy motor intrek, is jou meter al in die rooi. Dan kom hy in, plak homself voor sy skootrekenaar neer en vra wat is daar te ete. Die gevolg is ‘n ontploffing …
Die oneweredige verdeling van take in ‘n huis kan beslis ‘n impak op jou verhouding hê, sê ‘n studie wat in die Journal of Family and Economic Issues gepubliseer is.
Die studie wat in Kanada deur Scott Schieman, Leah Rupanner en Melissa A Milkie gedoen is, sê die gehalte van ‘n verhouding word geraak as vroue dink dat hulle onregverdig in die huis behandel word of as hulle meer as hul maats moet werk. As vroue meer in die huis doen met mans wat nie help nie, benadeel dit nie net hul verhouding nie, maar kan dit ook tot egskeiding lei.
LEES OOK: 10 wenwenke vir huisverkopers
Die studie het bevind dat vroue gewoonlik meer werk in die huis verrig – of hulle nou deeltyds of voltyds werk. Hulle doen meer as hulle getroud is en nog meer ná die geboorte van hul kinders.
Vroue doen ook gewoonlik die huishoudelike takies wat die minste plesier verskaf, soos om die badkamer skoon te maak. Die studie noem dat hoewel mans vandag meer in die huis doen as in die jare sewentig, is die meeste van hulle steeds verantwoordelik vir die minder veeleisende takies, soos om gloeilampe te vervang.
Die studie het gevind dat werkende ma’s die meeste ouerskapspligte het en onder sekere omstandighede benadeel dit hul verhouding met hul maat. Ma’s wat die meeste in die huis gedoen en ook gewerk het, het die laagste verhoudingsgehalte gerapporteer. Baie ma’s wou eerder meer tyd by die werk as by die huis bestee! Die studieleiers sê dit dui daarop dat die ma’s by die huis heeltemal oorweldig voel.
Die gehalte van verhoudings was beter by paartjies wat ouerskapsrolle verdeel het. Die studie noem dus dat as jy jou verhouding gesond wil hou, moet Pa en Ma saam in die ding wees en hul take verdeel.
BRON: https://theconversation.com