In ‘n wêreld van Trumps en Zumas, kan jy soos moeder Teresa wees. Ons kry wenke hoe om goed vir ander mense te wees en op jou beskeie manier die wêreld te verander
Saamgestel deur ZERELDA ESTERHUIZEN
Die aarde en sy mensdom is genoeg om mens mismoedig te maak. Haat, bitterheid en ‘n gelieg en bedrieg lyk of dit aan die orde van die dag is.
Die politici lieg een stryk deur vir ons, die aarde word opgedinges en ons kry eintlik maar bitter min goeie nuus. Selfs op sosiale media is dit ‘n gestry en baklei en dit lyk of mense nie meer omgee wat hulle vir ander sê nie.
Maar jy kan gaaf en goed vir mense wees en só iemand se dag opkikker. Dit kan selfs ‘n rimpeleffek van sy eie veroorsaak, sê die You-toep.
Of jy nou in Kaapstad of Katmandoe bly, elke tikkie hoflikheid en menswaardigheid maak saak.
Kan jy goed vir mense wees?
- Help jou buurman of kollega as jy sien hulle sukkel met iets.
- Maak iets lekkers vir jou kollegas by die werk.
- Komplimenteer ‘n vreemdeling in die winkel.
- Wees gaaf met mense wat jou help.
- Maak iets spesiaals vir jou mense.
- Sit ‘n nota in jou geliefde se kosblik.
Die webwerf www.lifehack.org gee die volgende wenke:
- Hou die deur vir ander mense oop.
- Sit papier in die drukker by die werk as dit leeg is.
- Koop vir iemand ‘n koffie.
- As jy iemand in ‘n winkelry opmerk wat haastig is, laat hom of haar voor jou betaal.
- Hou jou kleingeld tot jy ‘n hopie het om vir iemand te gee.
- Glimlag vir vreemdelinge.
- Sê dankie en asseblief.
- Luister na iemand se probleme.
- Nooi iemand wat jy dink eensaam is vir ete.
- As jy iemand ken wat af voel, stuur vir hom of haar boodskappe.
- Hou vir ‘n week op kla.
- Leer jou kinders wat dit beteken om vir ander mense om te gee.
- Gee saadjies of plant groente op ‘n plek waar dit nodig is.
- As jy iemand by ‘n geselligheid opmerk wat skaam is, gesels met hom of haar.
- Bel iemand met wie jy lanklaas gepraat het.