Ons weet hoe belangrik dit is dat kinders moet lees en in vandag se tegnologiese era moet jy dit al van babatyd af aanmoedig, sê kenners
Saamgestel deur ZERELDA ESTERHUIZEN
Volgens ‘n artikel op www.theconversation.com moet kinders van kleins af betrokke wees by die lees van stories en dan gesprekke hê oor dinge wat gebeur as jy wil hê hulle moet eendag ywerige lesers en leerders wees.
Die Melbourne-instituut van toegepaste ekonomiese en sosiale navorsing het bevind dat kinders vir wie daar daagliks gelees word, later beter op skool vaar, ongeag hul gesinsagtergrond en -omgewing.
Verdere navorsing toon ook ‘n sterk verband tussen ouers wat in die vroeë jare saam met hul kinders lees en akademiese prestasie.
Dit is egter nie net voorlees wat belangrik is nie, maar ook die interaksie tussen ouers en hul kinders. Hierdie interaksies moet lewendig wees en die kind betrokke maak.
Daar is ’n paar praktiese dinge wat ouers kan doen:
- Moenie wag nie. Lees hardop vir jou baba. Kinders raak gewoond aan die klank van jou stem en die toonaard van die taal soos jy praat en hul luistervaardighede ontwikkel.
- Gesels om die etenstafel en vra jou kinders om jou van hul dag te vertel. Maak sommer ‘n storie op soos: “Wat dink jy het jou teddiebeertjie gedoen toe jy by die kleuterskool was?”
- Skryf jou kinders se stories neer en verander dit met ‘n toep of op die rekenaar in ‘n storie. Hulle sal gek wees na hierdie transformasie van hul woorde.
- Gesels oor hul ervarings. Vra hulle om iets te beskryf wat hulle gesien of gedoen het. Kinders se mondelinge taal ondersteun hul geletterdheidsontwikkeling.
- Help jou kinders om instruksies te volg om iets te maak en om teks in spel te gebruik.
- Koop baie boeke. Gesels ook daaroor ná julle klaar gelees het. “Wat dink jy sal verder met die hasie gebeur?”
- Maak seker dat woorde vir jou kinders sin maak en verduidelik vir hulle wat gebeur.
- Maak kinders betrokke by aktiwiteite soos om inkopielysies op te trek of iets op ‘n padkaart te soek.
- Besoek ‘n biblioteek of boekwinkel saam met jou kinders sodat hulle self ook boekies kan kies.
- Maak lees vir hulle prettig.
Klik hier vir die volledige artikel