Dis daardie gevreesde tyd van die jaar wanneer kinders weer eksamen begin skryf. Skryf jou kind dalk vir die eerste keer toets? Ons kry wenke
Deur ZERELDA ESTERHUIZEN
Dit was vir my onlangs ‘n onaangename verrassing toe ek hoor my graaddrietjie skryf ‘n toetsreeks. Ek het gedog ons gaan daai hekkie eers in graad 4 moet oor. Dit het my laat wonder: Hoe leer ‘n mens ‘n kind leer?
Baie ouers neem deesdae hul kinders vir studie-evaluasies. Tydens hierdie sessies word daar na ‘n kind se breinprofiel gekyk en dan word daar riglyne aan kinders gegee oor hoe om te leer. Dis egter nie iets wat elke ouer kan doen nie. Wat doen die res?
LEES OOK: Is my kind reg vir skool?
Die Amerikaanse Kinderontwikkelingsinstituut sê een van die belangrikste dinge is om jou kind te leer dat jy ‘n toets anders as ‘n huiswerkopdrag benader. “Moedig kinders aan om notas neer te skryf terwyl hulle ‘n hoofstuk lees, hoe om tabelle te leer en om leermateriaal ná die tyd in hul eie woorde op te som. Dit maak ‘n groot verskil. Leer jou kinders die waarde van flitskaarte vir die vinnige hersiening van datums, formules, spelwoorde en dies meer.”
Wenke vir studietyd
- Sit die TV tydens eksamen- en toetstyd af, maar as jou kind klaar geleer is, gun hom of haar gerus tyd om ‘n blaaskans voor die TV te neem. Reëls moet ook vir ander tegnologie soos selfone geld.
- Skep ‘n spesiale hoekie vir jou kind vir studies. Elimineer afleidings.
- Roetine is baie belangrik vir akademiese sukses. Organiseer die huishouding sodat julle op ‘n sekere tyd eet en sorg vir gesonde tusseninhappies.
- Laat jou kind toe om gereelde blaaskanse te neem. Hoërskoolkinders kan meer as ‘n uur lank kan fokus, maar jonger kinders sal daarmee sukkel.
- Stel saam met jou kind ‘n studierooster op en skryf alles op ‘n groot kalender. Merk af as ‘n vak verby is sodat jou kind die vordering kan sien.
- Kinders het ‘n goeie nagrus nodig en dis nog belangriker tydens toetstyd.
- Gesels met jou kind oor eksamentyd. Noem dat ‘n mens sorgvuldig deur die vrae moet lees en nie net met ‘n vaart moet wegspring nie en ook sekere vrae moet los en na terugkom as jy sukkel.
- Help jou kind om wiskundige konsepte te verstaan deur dit hardop te sê. Werk dit daarna op papier uit. As dit lang somme is, wat klomp stappe verg, gebruik verskillende kleure penne om dit uit te lig.
- LEES OOK: As jou kind stres
- Lees spelwoorde hardop en laat jou kind dit neerskryf. As daar ‘n woord verkeerd gespel is, merk dit en laat jou kind dit uitskryf en toets die woord weer later. As jou kind met sekere woorde en begrippe sukkel, plak dit op “post it”-notas in die huis.
- As jou kind met begripstoetse worstel, help hom of haar deur die vier W’s en twee H’s in elke stuk te omkring (wat, wie, wanneer, waar, hoekom en hoe).
- Akronieme (woorde wat gevorm word deur die eerste letter van elke woord in ‘n lys te gebruik) en frases help kinders om lang lyste van formules en feite te memoriseer. Kyk of julle dalk ‘n oulike rympie met die eerste letters kan bedink. As jou kind byvoorbeeld die orde van die planete (Mercurius, Venus, Aarde, Mars, Jupiter, Saturnus, Uranus en Neptunus) moet onthou, bedink ‘n frase met die eerste letters soos “My vet apie moet jou sekerlik uitnooi”
- Raak kunstig. Moedig jou kind aan om eenvoudige diagramme te teken, veral as daar wetenskaplike prosesse is soos waterverdamping. Prentjies kan jou kind help om die prosesse te onthou.
- Die internet is vol nuttige studietegnieke en een daarvan is die gevoude-papier-tegniek op schoolfamily.com. Vou ‘n stuk papier lengtegewys in die helfte. Skryf die woorde wat jou kind moet leer links neer en die definisies aan die ander kant. Jou kind moet nou die woorde en definisies leer en homself toets deur die een kant toe te vou.
- Help jou kind die aand voor die eksamen deur alles vir die volgende dag gereed te sit en verminder só oggendspanning.
- Wees realisties oor kinders se vermoëns en help hom of haar om bereikbare doelwitte te stel.
- Luister as hy oor die eksamen praat.
- Maak ‘n punt daarvan om positiewe gedrag te erken en te beloon.
- Wees realisties oor jou kind se vermoëns.
O vlok wat?
Die Laerskool Wonderboom-Suid noem die OVLOK-H-metode as ‘n goeie studiemetode:
- Oorsig – Lees al jou studiewerk eers een keer deur sodat jy weet wat jy moet leer.
- Vrae – Kyk nou veral na jou opskrifte en verander dit in vrae.
- Lees – Lees nou jou werk deur, maar hoofstuk vir hoofstuk.
- Opsomming en leer – Sodra jy ‘n hoofstuk of afdeling klaar gelees het, moet jy dit nou met behulp van ‘n diagram opsom (spinnekop, ens). Onthou om jou eie woorde te gebruik. Ná die opsomming moet jy nou eers die hoofstuk of afdeling leer (vanaf jou opsomming).
- Kontroleer – Sê nou die werk op of beantwoord vrae oor die werk of skryf die hoofpunte neer om te toets of jy jou werk ken.
- Herhaal – As jy nog nie die werk ken nie, moet jy weer jou opsommings leer en kontroleer dat jy dit ken.
’n Driedagstudieplan
Drie dae voor D-dag
Dis nou tyd om belangrike hoofstukke en klasnotas deur te lees.
Twee dae voor D-dag
Jou kind kan sleutelpunte hardop voorlees. Lees die notas, herhaal dit hardop en kyk in die boek of sy reg was.
Die dag voor D-dag
As julle ou toetse of gidse het, kan die kind nou die vrae voltooi.
Toetsdag
Jou kind kan nou notas vinnig vluglees voor skool indien nodig.
Dis hoe dié ma’s dit doen
Jana Claassens
Die beste wenk is om al van die eerste kwartaal af voor te berei. Maak opsommings en bêre dit, want dan is die voorbereiding vir die laaste kwartaal makliker. Nog ‘n wenk is: laai oefentoetse af by www.kleuters.co.za of www.litnet.co.za sodat jou kind hersiening kan doen.
Joy Wehmeyer
Die grootste wenk wat ek vir my kind, Lalique (graad 6), geleer het, is om so vinnig as moontlik te begin leer sodra sy die eksamenrooster kry. Stel ‘n leerrooster op sodat daar elke dag ‘n vak geleer word – so een tot twee uur per dag. Dit maak die werk makliker en dan baie minder sodat daar nie so baie op ‘n slag geleer word nie. Die kinders voel ook dan minder gestres.
Annabel Theron
Kinders is onder groot druk vandag en ons het ‘n lekker roetine in eksamentyd gekry. As my kinders ‘n groot toets skryf, doen ons daai aand iets lekkers. Ek maak hul gunstelingkos of ons speel krieket buite of doen net iets prettigs om die stres te verlig.
Susie Pretorius
My seunskind se aandag word gou afgelei, so ek moet baie ernstig tydens eksamentyd praat. Ons is dan baie streng wat tegnologie betref en ek sit en leer saam met hom. Dit kos baie dreig en mooipraat en dis opoffering, maar dis die beste manier om hom te kry om te sit en te konsentreer.
Christel Roux
Toe my kinders vir eksamens begin leer het, het ek dit vir hulle prettig gemaak sodat dit nie soos ‘n berg voel nie. Ons het byvoorbeeld saam geleer en dan ‘n speletjie van die hersiening gemaak. Ek het gemaak asof hulle op ‘n TV-program is en dan vra ek die vrae en dan druk hulle ‘n knoppie met die antwoord. Hulle het ysies en ekstra TV-tyd gewen!
Chantel Esterhuizen
In hierdie tyd is slaap baie belangrik, ons sorg dat ons as gesin teen agtuur rustig raak en teen halfnege in die bed is. Oefening ook belangrik, al gooi sy net bal deur die netbalring of stap ‘n bietjie op die trapmeul. Dis belangrik om die bloedsomloop weer ná ‘n lang studiesessie aan die gang te kry. ‘n Gesonde, gebalanseerde dieet is belangrik met vars groente en vrugte, proteïne asook stysel wat energie gee. Ek berei die etes en peuselhappies voor en bêre dit in die yskas sodat ons dogter haarself kan help as sy leer. In hierdie tyd sorg ek ook vir proteïne met ontbyt omdat dit met geheue help. Vitamien C, Ginkgo en Omega 3 is ook noodsaaklik. Ek moedig haar aan om ‘n 15 minute-breuk elke 30-40 minute van leer vat. Dis ook ‘n reël dat alle opsommings ‘n week voor die vak klaar moet wees sodat sy net kan deurgaan. Ons begin eksamendag met ‘n heerlike ontbyt en dan bid ons saam voor sy skool toe gaan.
BRONNE: www.lswbs.co.za, www.parenting.com, www.schoolfamily.com