Jy sukkel om dinge gedoen te kry en daar is altyd nog iets wat jou aandag van jou doel aflei. Wat kan jy daaraan doen?
Jy begin die oggend vars en vrolik. Reg vir die dag se uitdagings. Daar is ‘n swetterjoel takies, maar teen 10:00 het jy al met alles begin, maar nog nie een takie klaargemaak nie. Dalk het jy elke jaar ‘n doelwit of twee, maar kom nie een jaar daarby uit nie. Selfdissipline kan die probleem wees. Ons het ‘n paar wenke opgespoor om jou te help.
- Hierdie punt is logies, maar ook noodsaaklik. Skryf dit neer wat jy wil bereik. Of dit nou die dag se verantwoordelikhede of jou voorneme is …
- Doen die moeilikste dinge eerste. As jy weet daar is take waarna jy opsien, doen die moeilikste een eerste sodat dit uit die pad kan kom.
- Leer hoe om jou tyd te bestuur. Watter stelsels kan jy implementeer om jou tyd die beste te gebruik?
- Wees verbind tot jou doelwit. Herinner jouself hoekom jy dit wil bereik en hoekom. Motiveer jouself of kry eksterne motivering.
- Verwyder afleidings as jy werk. Weet wat jou aandag kan laat dwaal en verwyder daardie afleidings.
- Neem aksie. Mens kan nie net by beplanning bly nie, as jy met daai lysie begin moet jy die een ding na die ander aftik.
- Onthou dat als tyd vat. Jy gaan nie oornag in die mens met die meeste selfdissipline ontpop nie. Klein treetjies gaan jou wel daar uitbring.
- Kry roetines wat vir jou werk. As jy byvoorbeeld by die werk sukkel om aan die gang te kom, stel vir jouself ‘n skedule op en hou by die roetine. Byvoorbeeld: Koffie, skryf die dag se beplanning neer, lees e-posse, begin met die eerste takie, ensovoorts.
Bykomende bron: www.lifedesigneru.com
Zerelda is ons adjunkredakteur en werk al vir 13 jaar met woorde by Vrouekeur. Sy het joernalistiek studeer, skryf graag kortverhale en gedigte en droom van ’n digbundel én ’n roman – voor sy 80 word.