Of jy ooreet of te min eet, daar is ‘n oplossing. Jy kan jou houding teenoor kos verander
Deur ZERELDA ESTERHUIZEN
Dink jy voor jy kos in jou liggaam sit of grens jou gedagtes oor kos aan ‘n obsessie?
Annie (38) dink twee keer oor als wat sy wil eet, praat konstant oor kos en voel pal skuldig as sy ‘n lekkerny eet. Gerda (32) is weer oormatig streng op haarself en laat haarself nooit enige lekkernye toe nie. Zelda (29) laat haar weer te veel toe en eet konstant, of sy nou bly, hartseer of angstig is.
<copy>Het een van hulle ‘n gesonde verhouding met kos?
Nee, maar of jy nou emosioneel eet, nie genoeg eet nie of te veel eet, dit kan gelukkig verander.
Hier is die eienskappe van mense met ‘n gesonde verhouding met kos. Bottom of Form
Gereelde maaltye is ‘n gewoonte
As ‘n mens maaltye oorslaan, is jy te honger en dan is jy geneig om jouself aan kos te vergryp. Mense wat gereeld ontbyt eet, het meer energie, ‘n beter geheue en laer cholesterol. Hulle is ook in die algemeen gesonder as mense wat ontbyt oorslaan, sê studies.
Eet aandagtig
Ons liggaam sê vir ons wanneer om te eet en wanneer om op te hou, maar ons luister nie altyd nie. As jy aandagtig eet, beteken dit jy is bewus van jou reaksie op kos en wat jy vir jou liggaam gee.
Matigheid voor oë
Mense met ‘n gesonde verhouding met kos ontsê hulle nie sekere kos nie. Hulle geniet hul kos en klassifiseer nie kos as goed of sleg nie. Hulle eet wat vir hulle voedsaam is en geniet als in matigheid.
Vind gesonde streskure
Eet jy as jy stres? Gesonde eters vind ander maniere om hul stres hok te slaan, soos oefening.
Eet as jy honger is
Emosionele eters eet dikwels as hulle stres of angstig is. Mense met ‘n gesonde verhouding met kos wag vir hul liggaam se seine en sal nie hul liggaam onder onnodige druk plaas nie.
Eet tot jy versadig is
Hoe lyk jou bord in die aand? Gesonde eters skep nie hul borde so vol dat dit soos torings lyk nie en hulle eet tot hulle versadig is en nie tot hulle ongemaklik is nie.
Geniet bederfies in matigheid
Dis oukei om roomys of aartappelskyfies nou en dan te geniet, maar dis nie oukei om die hele jumbopak of die hele blik roomys op een slag te verorber nie. Gesonde eters weet wanneer om op te hou.
Weet wat die verskil tussen ‘n gesonde happie en ‘n bederfie is
‘n Tusseninhappie is iets gesonds soos vrugte of neute wat jy tussen etes geniet. ‘n Bederf is iets soos sjokolade. Gesonde eters weet wanneer om wat te eet.
Geniet die kos
Gesonde eters sluk nie hul kos af nie, maar eet rustig en proe die kos. Sit en geniet jou kos en moenie dit afjaag nie.
Hou balans
Slaan jy middagete oor omdat jy ‘n sjokoladecroissant geëet het? Gesonde eters weet dat dit nie gesond is om etes oor te slaan nie. Hulle sal eerder net ‘n ligte middagmaal geniet as hulle ‘n te groot ontbyt gehad het.
Eet nie vir die skaal nie
Ons moet kos eet wat ons goed laat voel en brandstof vir ons dag gee. Gesonde eters weet dit en tel nie obsessief kalorieë nie.
Kos moenie jou lewe oorvat nie
As jy te veel tob oor kos, het jy ‘n probleem. Kos is net deel van die lewe. Nie die lewe self nie.
BRONNE:
www.webmd.com, www.everydayhealth.com