Die tienerfase is ʼn stadium waar tiener wil eksperimenteer en hul identiteit wil vestig.
Somtyds ontaard dit in ʼn volskaalse identiteitskrisis. Lees gerus in die week se Vrouekeur meer oor adolessente identiteitskrisis. Volgens die Amerikaanse sielkundige dr Les Parrot, kan die volgende tekens aanduidend wees van ʼn identiteitskrisis:
- Hulle soek hul identiteit in statussimbole
- Hulle is rebels
- Hulle gebruik alkohol en dwelms
- Hulle idealiseer sekere rolmodelle
- Hulle sluit ander tieners uit hul binnekring uit in ʼn poging om aanvaar te word
Dr Amy Bellows, ook ʼn sielkundige, gee die volgende raad in die hantering van so ʼn identiteitskrisis:
- Laat jou tiener drie konsentriese sirkels trek. Die binneste sirkel moet die eienskappe van jou kind verteenwoordig wat die belangrikste en mees permanentste is. Die buitenste sirkel moet dinge verteenwoordig wat die onbelangrikste is en die middelste sirkel moet dinge verteenwoordig wat van intermediêre belang is. Gebruik die sirkel om oor waardes te praat en oor die invloed van groepsdruk op ongewilde standpunte.
- Laat jou kind prente in tydskrifte uitknip en twee collages maak. Die een collage moet verteenwoordigend wees van wie hulle is en die tweede van wie hulle graag wil wees.
- Skryf die vraag “Wie is ek?”, aan die bopunt van ʼn papier. Laat jou tiener daarop antwoord deur so vinnig as moontlik, twintig antwoorde daarop neer te skryf. Hulle moet dit doen sonder om te veel daaroor te dink. Bespreek dan die antwoorde, sowel as hoe hulle daarop besluit het.
Tienerwees is ʼn tyd van storm en drang. Dit bied vele uitdagings, aan sowel die tieners as aan hulle ouers. Hanteer hierdie tyd deur oop en eerlike kommunikasie met jou kind te handhaaf, ʼn veilige plek van aanvaarding te skep en jou tiener gereed te kry vir die avontuur van die lewe. Indien ʼn onhanteerbare krisis opduik, moet ernstige oorweging aan psigoterapie geskenk word.