Die inperking stel groot eise aan ouers, soos om kinders met tuiswerk te help. Ons het ’n paar wenke opgespoor
Die eerste dag wat ek my kinders met huiswerk moes help, wou ek al vlug en het gewonder of ek kan maak asof die Boeing al oor is.
Dis nie ‘n grap om kinders nou besig te hou en hulle boonop met skoolwerk te help nie, veral nie as jy self ook by die huis moet werk nie. Ek het ‘n paar wenke gaan soek om die proses vir almal makliker te maak.
- Kry eerstens ‘n spesifieke hoekie sonder afleidings vir tuiswerk. Al die skryfbehoeftes moet binne bereik wees, want jy wil nie hê hulle moet opstaan as hulle eers reg is vir werk nie.
- Skeduleer spesifieke leertyd. Party kinders werk beter in die oggend en party werk weer beter in die middag. Gesels met jou kinders oor die beste tyd. Kinders moet blaaskanse vat en hulle kan nie net die heeltyd sit en leer nie. ‘n Skedule werk goed sodat daar tyd is vir werk, oefening, stil word, eietyd, buitetyd, en dies meer.
- Leer groter kinders ook om verantwoordelikheid vir hul eie werk te vat.
- Maak seker dat jou kinders hul eie werk doen. Ouers raak maklik gefrustreerd en help dan te veel, maar kinders leer niks as jy al die werk vir hulle doen nie.
- Moedig jou kinders aan om hul werk te doen. Gesels oor die werk en die uitkomste daarvan.
- Kry ‘n sterkaart as hulle klein is om hulle te motiveer.
- Moenie te kwaai wees en hulle afsit van werk nie. Stel grense vas, maar hou die dialoog positief.
- As die skool nie tuiswerk gegee het nie, kry aanlyn hulp soos om hulle by Solidariteit se Wolkskool te registreer.
- As jy weet van klaspraatjies wat op pad is, is dit ‘n goeie tyd om dit te skryf en te begin leer.
- Gee jou kinders ook kans om kreatief te wees. Kreatief met kuns, kreatief met speeltyd (Lego) of kreatief in die kombuis.
Lees ook:
Inperking: Kinders soek roetine
- Laat die kinders gereeld met maats gesels sodat hulle steeds interaksie kan hê.
- Stel grense ten opsigte van skermtyd en laat hulle ook gereeld blaaskanse daarvan vat.
- Laat veral jonger kinders voor die inperking eindig weer in die skoolroetine kom.
- Dis nou ‘n goeie tyd om lewensvaardighede aan kinders oor te dra. Leer hulle om hul klere op te vou en in die kas te bêre en ouderdomstoepaslike takies by die huis te verrig.
- As albei ouers by die huis is, kan julle verantwoordelikheid deel ten opsigte van die kinders se skoolwerk. Maak beurte oor wie skoolwerk moet nagaan.
- Hierdie is die ideale tyd vir kinders en ouers om weer te bind en gehaltetyd saam deur te bring. Bou elke dag tussen jul werk en kinders se aktiwiteite gesinstyd in waar julle saam iets kan doen, ‘n speletjie kan speel of gesels.
- Doen wat julle kan en moenie te angstig word oor skoolwerk nie. Die kinders se kwartale word verleng om skoolwerk op te vang. Hulle sal wel werk kan inhaal.
- Ontspan ook en moenie te veel van jouself of jou kinders verwag nie. Jy is nie ‘n onderwyser nie en jou kinders is ook nie nou in die skool nie.
Bronne: www.kidshealth.org, www.weforum.org
Zerelda is ons adjunkredakteur en werk al vir 13 jaar met woorde by Vrouekeur. Sy het joernalistiek studeer, skryf graag kortverhale en gedigte en droom van ’n digbundel én ’n roman – voor sy 80 word.