Bang jou kind beland in die verslawingstrik? ’n Kenner sê hierdie drie dinge is noodsaaklik
Saamgestel deur ZERELDA ESTERHUIZEN
Ouers se betrokkenheid by hul kinders se lewe, meer gestruktureerde ontspanningstyd en toegang tot verskeie aktiwiteite is baie belangrik as ‘n mens kinders wil keer om nie aan middels verslaaf te raak nie.
Jón Sigfusson is die direkteur van Project Youth in Ysland, waar daar in 1998 die hoogste vlak van tienermiddelmisbruik in Europa was, maar nou die laagste syfer het.
Hy sê in ‘n artikel op www.independent.ie
dat lande hul samelewings oor die probleem moet inlig en nie noodwendig die kinders nie.
“Kinders kan nie geblameer word as hulle nie ‘n brosjure oor dwelms lees nie. Hulle is nie verantwoordelik vir hul welstand nie, maar die hele samelewing is wel,” sê hy.
Jón se raad is om hul omgewing so te verander dat hulle nie dwelms of alkohol wil misbruik nie.
Die Planet Youth-model gebruik ‘n reeks gemeenskapsintervensies wat op ‘n goeie sosiale omgewing vir jong volwassenes fokus.
Hulle moedig ouers aan om meer tyd saam met hul kinders deur te bring en nie vir hulle te veel ongestruktureerde ontspantyd te gee nie.
“Ouers is die grootste voorkombare faktor in die lewe van hul kinders deur vir hulle ondersteuning en omgee te bied. Kinders wil hê hul ouers moet weet waar hulle in die aand was en hulle wil nie hê dat hul ouers geen belangstelling in hul doen en late moet toon nie,” vertel Jón.
Hy sê toegang tot sport- en georganiseerde aktiwiteite is belangrik, want dit hou die kinders besig.
BRON: www.independent.ie