Die regulering van emosies is die vermoë om die manier waarop ons op ons emosies reageer, te beheer. Dit is ‘n ingewikkelde taak wat in ons kinderjare begin en tot in volwassenheid strek. Só help jy jou kind om hierdie belangrike vaardigheid te ontwikkel.
Die regulering van emosies is die vermoë om die manier waarop ons op ons emosies reageer, te beheer. Dit is ‘n ingewikkelde taak wat in ons kinderjare begin en tot in volwassenheid strek. Só help jy jou kind om hierdie belangrike vaardigheid te ontwikkel.
Hoekom is die regulering van emosies belangrik?
Jou kleinding se vermoë om hul emosies te reguleer dra by tot die ontwikkeling van hul emosionele intelligensie. Dit help hulle om die lewe se stampe en stote te hanteer, konflik op te los en minder stres te ervaar. Dit ontwikkel ook hul vermoë om empatie vir ander mense te voel.
Hoe vind emosionele regulering plaas?
Emosionele ontwikkeling is nie ‘n natuurlike proses soos fisieke ontwikkeling nie. Kinders moet dus geleer word hoe om hul emosies te reguleer. Hulle moet leer wat emosies is, hoe dit ontwikkel en hoekom hulle dit ervaar. Dit is ook baie belangrik dat hulle ander se gevoelens verstaan en leer hoe om emosies op ‘n konstruktiewe, eerder as ‘n skadelike, manier uit te druk.
Wat kan ouers doen?
As ‘n ouer speel jy ‘n uiters belangrike rol wanneer jy jou kind leer om hul emosies te reguleer. Jy doen dit dalk soms sonder dat jy daarvan bewus is, maar elke keer wat jy op jou kleinding se emosies reageer, met hulle praat oor hoe hulle voel of vir hulle vertel hoe jy self voel, dra jy by tot hul emosionele ontwikkeling.
Hoe affekteer jou kind se ouderdom hul emosies?
Babas huil wanneer hulle ontevrede is, glimlag wanneer hulle gelukkig is en lag sommer lekker hardop wanneer hulle opgewonde of verras is. Aan die begin volg hulle die emosies van hul versorgers baie skerp en boots hulle dit gereeld na, maar soos hulle ouer word, ontwikkel hulle selfbeeld en emosies onafhanklik van ander s’n.
Tydens die kleuterjare ontwikkel die frontale deel van die brein en die limbiese stelsel baie vinnig en is dit gereeld die rede hoekom jou kind sukkel om hul emosies te beheer. Van daar dan die woedebuie en gedrag wat hierdie ouderdom ‘n reputasie as die moeilike jare gee. Soos hul taalvaardighede egter verbeter, raak dit al hoe makliker om vir jou te sê wat hulle dink, wat hulle nodig het en wat hulle graag wil hê. Jy kan hulle dus help om ‘n naam vir hul emosies te gee soos hulle leer om elkeen te identifiseer. Jy kan sê: “Ek sien jy voel baie kwaad daaroor dat jou maatjie jou speelding gevat het.”
Onthou dit is belangrik om jou kleinding te help om al hulle emosies te aanvaar. Probeer om nie positiewe emosies as goed en negatiewe emosies as sleg te bestempel nie. Verduidelik vir jou kind dat dit heeltemal aanvaarbaar is om al hul emosies te ervaar, maar dat slegs sekere optrede van pas is. Met ‘n ouer se hulp, kan ‘n kind leer om impulsiewe gedrag te beheer en hul emosies op gesonde manier uit te druk.
Emosionele regulasie vir babas
Doen hierdie aktiwiteite vir emosionele regulasie vir kinders tussen geboorte en die ouderdom van twee.
0-1
Hou jou baba mooi dop om te verstaan wat hul sosiale en emosionele profiel behels. Is hulle ‘n sosiale vlindertjie wat lief is groot groepe mense, graag aandag wil hê en aangetrokke is tot mense met groot, energieke persoonlikhede? Verkies hulle eerder stiller situasies en het hulle tyd vir hulself na ‘n besige oggend nodig? Deur hulle versigtig dop te hou in verskeie sosiale situasies, sal jy beter verstaan wat hul voorkeure is en sodoende sal jy die goed wat hulle emosioneel ontstel, kan voorspel en soms selfs vermy.
1-2
Sny prente van gelukkige en ongelukkig gesigsuitdrukkings uit ou tydskrifte of ongebruikte foto’s. Meng alles op een hoop saam en kry twee houers. Sit nou by jou kleinding en verduidelik vir hulle dat julle die gesigte in twee groepe – gelukkig en ongelukkig – gaan verdeel. Sorteer die prente saam met jou kleuter en praat met hulle oor elkeen. Gesels oor die moontlike redes hoekom die persoon dalk die spesifieke emosie ervaar en vra hoe hulle sou voel as hulle in dieselfde situasie was. Jou kleinding is nog te jonk om die gesigte self te sorteer. Herhaal die aktiwiteit ‘n paar keer met hulle en moedig hulle aan om die gesigsuitdrukkings na te boots.
Help jou kleintjie met hul emosies
Probeer gerus hierdie prettige aktiwiteite om jou kleinding te help om gevoelens te verstaan en uit te druk.
2-3
Dit is nou ‘n goeie tyd om met jou kleinding oor gesigsuitdrukkings en liggaamstaal te gesels. Hulle is heel moontlik reeds bewus daarvan, maar praat met hulle daaroor dat mense gereeld hul gevoelens met hul gesigte of liggame uitbeeld, eerder as met woorde. Praat nou met hulle oor tye wanneer hulle gelukkig, opgewonde, kwaad of bang gevoel het en vra hulle om dit vir jou uit te beeld. Hulle kan gesigsuitdrukkings, hul postuur of bewegings gebruik. Jy kan hulle ook vra om hul hande te gebruik om die volgende aan jou oor te dra: kom nader, gaan weg, hou op om dit te doen, moenie bang wees nie en ek’s so trots op jou.
3-4
Speel hierdie kreatiewe speletjie om vir jou kleinding meer oor hul emosies te leer. Skryf verskillende emosies, soos gelukkig, hartseer, kwaad, verras en opgewonde op strokies papier en sit dit in ‘n houer. Skryf nou die name van verskillende diere op dieselfde hoeveelheid papierstrokies en sit dit in ‘n tweede houer. Laat jou kleinding ‘n papier uit elke houer kies en maak dan beurte om die karakters uit te beeld. Julle sal skater van die lag soos hulle ‘n ‘kwaai seekat’ of ‘n ‘opgewonde kameelperd’ probeer naboots.
Tegnieke om emosies baas te raak
Klein mensies het soms groot emosies en hierdie tegnieke kan hulle kalmeer en help om hul emosies te verwerk.
4-5
Leer vir jou kleinding die skilpadtegniek. Vra hulle om huself te vebeel dat hulle ‘n dop het en, soos ‘n skilpad, daarin kan wegkruip. Sodra hulle ‘binne-in hulle dop’ is, kan hulle stadig en diep asem haal om hulself te kalmeer. Vra hulle om hulself te verbeel dat hulle elke asemteug in hul arms en bene inblaas en dit elke spier in hul lyfie ontspan. Sodra hulle weer kalm voel, kan hulle ‘uit hul dop klim’ en vir jou vertel wat hulle ontstel het sodat julle saam ‘n oplossing vir die probleem kan kry. Hierdie tegniek werk ook baie goed vir ouers – probeer dit gerus self!
5-6
Help jou kleintjie om ‘n gereedskapskissie te maak wat hulle help om hul emosies baas te raak. Versier ‘n boks (soos ‘n skoenboks) met hul gunsteling gekleurde papier, prente en selfs strikkies of plakkers. Maak dit vol voorwerpe wat jou kind rustig laat voel. Julle kan ‘n sagte speelding, ‘n CD met kalmerende musiek of foto’s van hul gunsteling oomblikke daarin pak. Sit ook hulpmiddels in wat jou kind sal help om hul emosies uit te druk. Inkleurpotlode en ‘n notaboekie, plakkers met verskillende gesigsuitdrukkings of ‘n ou koerant wat hulle kan skeur, werk goed. Onthou om die boks te bêre waar jou kind dit maklik self kan gaan haal wanneer hulle onsteld voel.
Besoek ons webtuistes by www.myslimkind.com en www.mysmartkid.comof skakel 0861 555 224 vir verdere inligting.