Die lewe is ongelukkig nie ’n piekniek nie en daar is baie uitdagings. As dit voel asof jy net mooi genoeg van als en almal gehad het, kan hierdie wenke jou help
As jy uitgeput en afgemat voel en dat jou nerwe so dun is dat jy enige oomblik kan ontplof, moenie alleen voel nie. Ons almal voel maar nou en dan so, maar daar is gelukkig raad en hoop.
Probeer hierdie wenke:
- Vat klein blaaskanse deur die dag soos om ‘n koppie tee rustig te drink, uit die venster te kyk, op die stoep te sit of selfs net die sonstrale op jou gesig te voel.
- Fokus op jou asemhaling as jy angstig voel.
- Probeer om minder negatiewe nuus te lees.
- Tegnologie is wonderlik, maar ‘n foon kan verslawend wees. Sit die ding weg en doen iets wat geen tegnologie vereis nie, maar jou kalm sal laat voel.
- Kry ‘n kalmerende roetine soos om die oggend op ‘n rustige manier te begin.
- Jy wil dit dalk nie hoor nie, maar oefening kan jou ook rustiger laat voel, veral as dit ‘n stappie in die buitelug is.
- Luister na rustige musiek. As dolfynklanke vir jou werk, sit dit aan!
- Maak tyd vir jouself.
- Maak jouself ‘n prioriteit en bederf jouself elke nou en dan. Laat jou naels doen, stop vir jou gunstelingkoffie, eet ‘n stuk appeltert – wat ook al vir jou werk.
- Delegeer take. Jy kan nie alles doen nie. Sê ook nee vir nog eise as jy reeds moeg voel.
- As jou werk te veeleisend is en jy kan nie alles baasraak nie, gesels met jou direkte bestuurder oor hoe jou takies beter bestuur kan word.
- Doen iets wat jou energie gee.
- Kry ‘n stokperdjie wat jou rustig maak. Brei en hekel is uitstekende terapie!
- Praat met iemand oor wat jy voel. Dit kan jou weer nuwe insig gee.
- As dinge heeltemal buite beheer voel en asof daar geen uitkoms is nie, gaan sien iemand professioneels.
Zerelda is ons adjunkredakteur en werk al vir 13 jaar met woorde by Vrouekeur. Sy het joernalistiek studeer, skryf graag kortverhale en gedigte en droom van ’n digbundel én ’n roman – voor sy 80 word.