Jy wil nie baklei nie en jy wil nie op jou kinders gil nie, maar as jy weer sien, klink jy soos die Heks van Endor. Wat kan jy doen?
Deur ZERELDA ESTERHUIZEN
Ouerskap is g’n grap nie. Sit ouers met hul unieke persoonlikhede en frustrasies, kinders met hul persoonlikhede en frustrasies bymekaar, plus ‘n gejaagde lewenstyl en die eise van werk en die lewe, en die pot kan gou ontplof.
Skuldgevoelens en ouerskap gaan hand aan hand. ‘n Mens wil mos graag die beste vir jou kinders hê en jy wil graag konflik kalm en bedaard benader, maar nou ja. Dinge gebeur, jy kan dit heeltemal “verloor” en dinge sê wat jy nie wou nie. Wat daarna? Wat doen ‘n mens as jy onredelik opgetree het met jou kinders?
Ouerskapsgids, Nicole Schwarz, gee die volgende stappe:
- Haal diep asem
As jy kwaad raak, gaan jou liggaam in ‘n oorlewingsmodus. Jou hartklop versnel, jou asemhaling word vlak en jou spiere verstyf. Kry jou brein en jou liggaam weer op koers deur minstens vier keer diep in en uit te asem.
- Wees versigtig vir nog snellers
Jou kind kan dalk nou nog iets sê en jy kan maklik weer oor dieselfde kwessie opgewerk word. Herinner jouself dat jy vir jou eie optrede verantwoordelik is. Kry ‘n mantra om jou gefokus te hou. Al is dit: “Ek sal dit nie verloor nie, ek sal dit nie verloor nie …”
- Neem verantwoordelikheid
Dit maak nie saak wie die argument begin het nie. Leer jou kinders om verantwoordelikheid vir hul aandeel te aanvaar sonder om die blaam te verskuif. Jy kan dit self modelleer: “Sjoe, ek’s jammer, ek het my woede buite beheer laat raak.” Moenie dit verskuif na: “Ja, maar jy kan my so kwaad maak” of “As jy net nie so bekkig was nie”.
- Probeer weer
Gee jouself die kans om die situasie anders te hanteer. Sê: Oukei, kom ons praat weer hieroor sonder om te skree” of “ek was nou-nou so kwaad dat ek dalk nie presies verstaan het wat jou standpunt is nie”. As jy weer kwaad word, vat ‘n blaaskans en probeer weer later.
- Herstel die verhouding
As woorde gesê is wat seermaak of fisieke aggressie plaasgevind het, kan jou kinders hul afstand hou. Fokus nou daarop om jul verhouding te herstel.
ONTHOU …
- ‘n Mens dra jou eie kinderjare met jou saam en jy hoor dalk reeds jou Pa en Ma as jy praat. As jou ouers konflik verkeerd hanteer het en jy op eiers geloop het in hul teenwoordigheid, hoef jy nie dieselfde patrone te herhaal nie. Dink na oor watter ouer jy vir jou kinders wil wees en wat jy wil hê hulle eendag van jou moet onthou.
- In plaas daarvan dat jy vergeet oor wat verkeerd geloop het, dink oor die situasie as jy kalm is. Wat het jou laat ontplof? Vind die sneller. Kyk of jy ‘n patroon kry van dit wat jou irriteer en kwaad maak.
- As jy voel dat jy in ‘n ongesonde kringloop van woede is en meer kwaad as kalm is, is dit dalk tyd om hulp te kry. Gesels met iemand daaroor, dit kan ‘n vriendin of terapeut wees.
BRON: Nicole Schwarz, www.imperfectfamilies.com