Ná matriek het jy jou kort CV al na verskeie plekke uitgestuur, maar jy kry niks. Hoe bly jy gemotiveerd?
Deur THERESA VAN BAALEN
Nie alle jongmense kán of wíl ná matriek verder studeer nie. Soms speel finansies ’n rol en is die enigste opsie om uit te spring en ’n werk te kry. Ongelukkig vereis baie poste ’n kwalifikasie of ’n sekere hoeveelheid werksondervinding. Wat staan jou te doen as jy sukkel om werk te kry?
Daar is immers baie uitdagings. ’n Tekort aan werksondervinding of die afwesigheid van ’n tersiêre kwalifikasie diskwalifiseer onmiddellik ’n groot aantal voornemende werkaansoekers. Werk wat op skoolverlaters gemik is, is skaars, en die salarisse voldoen dikwels skaars aan die land se minimumloon-vereistes. Dit beteken dat jy moontlik steeds jou ouers se ondersteuning sal nodig hê, al kry jy die werk. Tog is ’n minimumloon beter as geen inkomste nie, en dalk motiveer dit jou om intussen deeltyds te studeer en jou vaardighede en kwalifikasies te verbeter.
Bly gemotiveerd
Om werkloos te wees, is frustrerend en kan jou depressief laat voel. Hier is raad om jou positief en gemotiveerd te hou:
Benut jou vaardighede en skep intussen vir jouself werk. Kan jy koekies bak? Kan jy leer hoe? Dalk kan jy dit by die vlooimark verkoop. Het jy kennis van rekenaars?
Dalk kan jy jou dienste in die gemeenskap aanbied. Hou jy van honde of kinders? Dalk kan jy teen betaling met die bure se honde gaan stap of jou dienste as kinderoppasser aanbied.
Netwerk gereeld. Kom in kontak met mense wat jou kan motiveer of aan geleenthede blootstel. Woon gratis werkswinkels en seminare by. Jy weet nooit wie jy dalk daar ontmoet nie.
Bied jou dienste as vrywilliger aan. Wanneer jy aan gemeenskapsprojekte deelneem, gee jy nie net terug aan die gemeenskap nie, maar jy doen ook vaardighede op wat jou in jou soeke na werk kan help.
Dink daaraan om by jou kerk, die plaaslike gemeenskapsentrum, diereskuiling of kinderhuis betrokke te raak. Dit sal jou nie net besig hou nie, jy sal ook goed voel. u Vier elke prestasie. Dis nie maklik om positief te bly as jy werkloos is nie, maar beskou elke onderhoud waarheen jy genooi word as ’n prestasie. Met elke onderhoud, suksesvol of nie, is jy een stappie nader aan die dag wat jy begin werk. Laat dit jou help om positief te bly.
Oefen elke dag, al gaan stap jy net ’n entjie. Dis ’n goeie teenvoeter vir depressie, stres en lusteloosheid.
Eet gesond. Vermy gemorskos.
Vermy negatiewe mense en negatiewe nuus. As jy sukkel om werk te kry, het jy nie negatiwiteit in jou lewe ook nodig nie. Omring jouself met mense wat jou inspireer, aanmoedig en ondersteun.
Dink positief. Dis moeilik om jou gedagtes positief te hou as dit voel of niks wil uitwerk nie, maar jy móét probeer. Moenie dink dat daar iets fout is met jou of dat jy slegte karma het nie. Fokus eerder op alles wat jy al reggekry het, en herinner jouself gereeld daaraan dat jy tot enigiets in staat is.
Moenie jouself met ander vergelyk nie. As jy dit doen, kan jy straks soos ’n mislukking begin voel. Onthou, almal is nie veronderstel om dieselfde te wees, dieselfde te kan doen en dieselfde te bereik nie. Elke persoon loop sy eie paadjie, en sodra dit jou beurt is, sal jy óók uitblink. Hou aan om jouself te herinner dat jy ook jou beurt sal kry.
As jy dit kan bekostig, kry jou bestuurslisensie. Baie poste lys ’n bestuurslisensie as ’n vereiste en dit kan jou kans om werk te kry aansienlik verbeter.
Het jy regtig alles probeer?
Jy het jou CV orals ingegee. Jy hou die koerante dop vir poste wat geadverteer word en doen aansoek vir elke pos waarvoor jy vaagweg kwalifiseer. Wat kan jy nog doen? Waar kan jy nog aansoek doen? Die internet is ’n waardevolle hulpmiddel. Poste wat dit nie noodwendig tot in jou plaaslike koerant maak nie, word steeds iewers geadverteer. Baie van die groter maatskappy (kettingwinkels, finansiële instellings, ensovoorts) het ’n afdeling op hul webwerwe vir vakante betrekkings. Dink aan die ondernemings in jou omgewing, en gaan besoek hul webwerwe. Jy sal gou sien of hulle poste op die webwerf adverteer. Kyk of daar enige poste by die tak naby jou is. Volg die stappe wat hulle aanbeveel om vir die pos aansoek te doen.
Nog ’n wonderlike hulpmiddel is die verskeie loopbaanwebwerwe wat beskikbaar is. Op www.indeed.co.za kan jy jou soektog na werk verfyn deur die dorp of provinsie waar jy graag wil werk te spesifiseer, asook die tipe werk wat jy wil doen. Of jy hoef nie die werk te spesifiseer nie, veral as jy nie regtig weet wat jy wil doen nie, en dan kyk jy watse interessante poste kom in jou omgewing op. Careers24, Job Space, Career Junction en Job Mail is maar net ’n paar van ’n klomp ander soortgelyke webwerwe. Soek gerus op meer as een, want hulle mag dalk verskillende resultate oplewer.
Dis nog nie te laat om te studeer nie
Dis waar dat dit geld kos om verder te studeer en dit is dalk juis die rede waarom jy besluit het om eerder te probeer werk soek. Daar is egter baie beurse, asook lenings en finansiële hulp vir behoeftige studente beskikbaar. Dit is dalk die moeite werd om te probeer vasstel of jy vir enige hiervan kwalifiseer. ’n Ander alternatief is om ’n gratis aanlynkursus (MOOC) te volg. MOOC staan vir Massive Open Online Courses. Dit word in samewerking met van die wêreld se beste tersiêre instellings aangebied en enigeen mag daarvoor inskryf. Dit is moontlik om na afloop van die kursus en teen ’n minimum bedrag ’n sertifikaat van deelname te bekom. Al word die voltooiing van ’n MOOC nie as ’n amptelike kwalifikasie beskou nie, is dit steeds iets wat jy in jou CV kan noem, solank jy darem die materiaal bemeester het en met gesag daaroor sal kan praat. Gaan kyk by www. mooc.org vir meer inligting oor beskikbare kursusse.
Leerlingskappe en internskappe
Die regering bedryf talle programme wat na werklose jongmense uitreik en bied ook van tyd tot tyd leerlingskappe en internskappe aan. Privaat maatskappye bied ook soms internskappe aan. ’n Leerlingskap strek gewoonlik oor ’n tydperk van 12 maande en bied opleiding in ’n spesifieke veld terwyl jy ’n inkomste verdien. Dis hoofsaaklik op diegene gemik met matriek as hoogste kwalifikasie en jy behoort ’n sertifikaat te ontvang sodra jy jou leerlingskap voltooi het. Dis nie ’n langtermynwerksopsie nie. Die betaling (dit word ’n stipendium genoem) is nie verskriklik baie nie, maar jy doen ondervinding op en jy leer nuwe vaardighede aan. Dis iets wat jy op jou CV kan byvoeg en wat vorentoe hopelik in jou guns sal tel.
’n Internskap is baie dieselfde as ’n leerlingskap, maar is op mense met ’n graad of diploma gemik en die doel daarvan is om praktiese ondervinding by ’n potensiële werkgewer op te doen. Interns word gewoonlik vir hul werk vergoed, maar dis nie ’n langtermynwerksopsie nie, en ’n internskap kan enigiets van een week tot 12 maande duur. As ’n intern die werkgewer beïndruk, kan dit dalk deure oopmaak vir ’n voltydse aanstelling by die maatskappy na afloop van die internskap. ’n Nuttige skakel wat jou op die spoor van beskikbare leerlingskappe en internskappe kan sit, is: https://www.gov.za/issues/ government-and-opportunities-youth
Moenie jouself met ander vergelyk nie. As jy dit doen, kan jy straks soos ’n mislukking begin voel. Onthou, almal is nie veronderstel om dieselfde te wees, dieselfde te kan doen en dieselfde te bereik nie
Nog nuttige skakels
Die skakel www.careerhelp.org.za neem jou na die webwerf van die departement van hoër onderwys en opleiding en is propvol inligting vir skoliere, studente, werklose jongmense, voornemende entrepreneurs, ouers, werksoekers, en nog meer. Vind meer uit oor befondsing vir studies of ’n onderneming, vakkeuses, verdere studiegeleenthede, hoe om jou CV op te stel, hoe om jou vir ’n werksonderhoud voor te berei, ensovoorts. Klik op die “Who are you”-knoppie, en kies die beskrywing wat die beste by jou pas vir die relevantste inligting. www. careerplanet.co.za is ook vol nuttige inligting vir skoliere, studente, werkende én werklose jongmense en entrepreneurs.